Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Kimberley 5de dag sonder water

Die Noord-Kaapse premier het Maandagoggend dringend antwoorde van amptenare geëis en ’n tegniese taakspan saamgestel nadat dienslewering in Kimberley tot stilstand geknars het.

Die stad was vir ’n vyfde agtereenvolgende dag sonder water omdat die oorskakeling na die Sol Plaatje-munisipaliteit se nuwe pompstasie weens “tegniese probleme” vertraag is en die opgaardamme leeggeloop het.

Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier (regs), vergader met amptenare van die munisipaliteit in Kimberley en die betrokke departemente om die waterkrisis op te los. Links is Jaco Roelofse van die departement van samewerkende regering, en Maruping Lekwane, LUR vir finansies en ekonomiese ontwikkeling.Foto: Charné Kemp

Krane in hoogliggende gebiede en die sakekern het leeggeloop en 12 skole is reeds vroeg verdaag.

Die watertoevoer na Ritchie is ook Maandagoggend weens ’n watertekort gestaak. Laagliggende gebiede in Galeshewe en Roodepan, wat van ’n ander pypleiding af gevoer word, het wel water gehad.

Boonop is Maandag geen vullis verwyder nie weens ’n sitstaking deur munisipale werkers. ’n Nuwe waarnemende stadsbestuurder is nie aangestel nie omdat die spesiale raadsvergadering weens die watertekort en sitstaking gekanselleer is.

Dr. Zamani Saul, premier, het Maandagoggend met munisipale en departementele amptenare vergader om oplossings vir die probleme te vind.

Hy is verseker dat die krane Dinsdagoggend weer water sal hê.

Luidens ’n verklaring van sy kantoor het hy die tegniese span opdrag gegee om deur die nag te werk sodat die watertoevoer spoedig herstel kan word, en om te verseker dat dit nie weer onderbreek word nie.

“ ’n Taakspan van ingenieurs en stadsbeplanners van die munisipaliteit, departemente van samewerkende regering, openbare werke en die provinsiale tesourie is saamgestel wat probleme met water- en elektrisiteitsvoorsiening, padherstelwerk, vloedwaterdreinering en behuising moet oplos, omdat dit die stad se ontwikkeling kniehalter.”

Die span moet hul plan binne ’n week aan Saul voorlê.

Nadat die beplande oorgang na die nuwe pompstasie by die Riverton-aanleg vroeër met ’n week uitgestel is, het die werk verlede Donderdag begin en is inwoners verseker hulle sou Saterdag weer water in hul krane hê. Saterdagoggend was die watertoevoer egter van korte duur. Sello Matsie, munisipale woordvoerder, het toe gesê daar was ’n probleem met kleppe.

’n Ingeligte sê die pype by die nuwe pompstasie was nie behoorlik vasgebout nie, waarna dit oorstroom het.

“Dit het ure geneem om die water uit te pomp om die werk te voltooi, en die opgaardamme het leeggeloop.”

Geen vullisverwydering is in Kimberley gedoen nie weens ’n staking van Samwu-vakbondlede omdat hul griewe wat in Julie ingedien is, nie beantwoord is nie. Foto: Charné Kemp

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die onderwysdepartement, sê kritieke leertyd is vlak voor die eksamen ingeboet omdat skole hul leerlinge moes huis toe stuur. “Ons is erg bekommerd, maar glo die munisipaliteit sal die probleem spoedig oplos.”

Politieke partye het ook hul misnoeë uitgespreek.

Francis Thulo, EFF-raadslid, sê hy het probleme voorsien toe Patrick Mabilo, burgemeester, nie verlede week in die raadsvergadering vrae oor gebeurlikheidsplanne kon beantwoord nie.

“Mabilo het gesê een vragmotor gaan met water in 33 wyke rondry en water aan gemeenskappe uitdeel. Waar is die opgaartenks wat hulle twee jaar gelede oral in die stad geplaas het?

“Mabilo en die topbestuur toon geen leierskap nie en die inwoners kry geen antwoorde nie. Sonder water kan ondernemings ook nie sake doen nie. Werkgeleenthede sal verlore gaan.

“Dit is tyd dat die opposisiepartye en diegene in die ANC wat vir die inwoners omgee, saamstaan. Ons briewe waarin ons ingryping versoek, is deur die departement van samewerkende regering geïgnoreer. Ons sal die Nasionale Raad van Provinsies vra om in te gryp.”

Andrew Louw, DA-leier, sê gebottelde water is gebruik om toilette in die Robert Sobukwe-hospitaal te spoel.

“Daar kan nie sprake van infeksiebeheer wees nie.

“Terwyl mense en besighede water vir mekaar gegee het, het die munisipaliteit niemand gehelp nie.

“Hulle maak vals beloftes oor vinnige opknappingswerk, maar beantwoord nie vrae wanneer dinge skeefloop nie.

Die vlak van die opgaardamme by die Newton-aanleg was Maandag omstreeks 12:00 net 10 voet of sowat drie meter. Foto: Charné Kemp

Die Sol Plaatje-munisipaliteit is een van die swakstes in die land, die stad is vuil en daar is oral slaggate. Hoewel Saul probeer ingryp, is dit duidelik dat ingrypende veranderinge nodig is om die munisipaliteit van ineenstorting te red.”

Sharon Steyn, uitvoerende hoof van die Noord-Kaapse Sakekamer (Nocci), sê hoewel hulle dankbaar is dat die opknappingswerk gedoen is, kommunikeer die munisipaliteit nie met hulle of inwoners nie.

“Ons soek die feite oor die ware toedrag van sake. Selfs die inbelsentrum is gesluit. Inwoners en die sakesektor kan nie bekostig om hul besighede te sluit omdat hulle nie ingelig is nie en nie planne kan maak nie.”

* Intussen is geen vullis verwyder nie weens ’n sitstaking van Samwu-vakbondlede omdat hul griewe wat in Julie by die munisipaliteit ingedien is, nie beantwoord is nie. Al die munisipale vullisverwyderingsvragmotors is voor die toegangspaaie na die burgersentrum geparkeer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.