Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Kimberley se burgemeester bedank

Mangaliso Matika, uitvoerende burgemeester van Kimberley, het Maandagaand uit sy amp bedank.

Hy het op ’n nuuskonferensie gesê hy doen dit in belang van die gemeenskap.

Mangaliso Matika.

Deshi Ngxanga, provinsiale sekretaris, het Matika geloof vir sy dapperheid.

Dit volg op ’n naweek lange beraad van nasionale, provinsiale en streekleiers waarin Matika se toekoms, asook dié van Sylvia Lucas, die premier, bespreek is.

“Matika se bedanking is in die belang van die gemeenskap wat ons dien,” het Ngxanga gesê.

“Ons wil verhoed dat sy naam misbruik word om geweld te pleeg en te plunder. Ons wil niemand verontrief nie, veral nie leerlinge wat nie kan skoolgaan wanneer daar betogings is nie.”

Hy sê die ANC het nog altyd na die gemeenskap geluister en wil niks doen wat inwoners sal vervreem nie

“Matika bly die voorsitter van die Frances Baard-streek. Ons bedank hom vir sy diens, toewyding en vele prestasies.”

Die ANC het reeds met interne prosesse begin om Matika se opvolger te benoem.

Collen Maine, NUK-gesant vir die Noord-Kaap. Foto: Charné Kemp

Collen Maine, ANC-jeugligaleier en die nasionale uitvoerende komitee (NUK) se gesant vir die Noord-Kaap, het vroeër gesê Lucas se herroeping is ook die naweek bespreek.

“Dit was eintlik ’n onderneming wat verlede jaar op die provinsiale kongres gemaak is. Die takke glo die premier is verantwoordelik vir van ons huidige uitdagings.”

Hy het na die onlangse gewelddadige betogings in Kimberley verwys.

Matika se bedanking volg op sy geslaagde hofgeding teen die DA nadat dié party hom op 25 Julie vanjaar deur ’n mosie van wantroue op ’n spesiale raadsvergadering onttroon het. Altesame 11 ANC-lede het die mosie gesteun.

Die hof het verlede week bevind die betrokke raadsvergadering en besluite was onregmatig.

Die hofgeding het gevolg op etlike betogings van inwoners wat teen hoë elektrisiteitstariewe te velde getrek het. Die laaste betoging het in geweld en plundery ontaard.

Die ontevrede inwoners het ook die verwydering van die munisipale bestuurder en die finansiële hoof geëis.

Hoewel die raad ingestem het om die amptenare hangende ’n forensiese ondersoek te skors, het die gemeenskap gedreig om weer gewelddadig te raak indien Matika nie sy amp ontruim nie.

Die departement van samewerkende regering wat die forensiese ondersoek doen, se spertyd is tot einde September aangepas.

Ngxanga het die verlenging verwelkom sodat enige korrupsie en wanadministrasie ontbloot kan word.

“Die ANC is toegewy daaraan om korrupsie uit te roei en sal optree teen enigeen, ongeag rang of posisie, wat aan misdaad skuldig is.”

Meer oor:  Sylvia Lucas  |  Mangaliso Matika  |  Kimberley  |  Bedanking  |  Burgemeester  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.