Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
‘Klerksdorp op rand van ineenstorting’

Die Matlosana-munisipaliteit in die Klerksdorp-omgewing se jaarlikse begroting is chaoties en die afgelope nege jaar al in die rooi, sê Chris Bester, DA-raadslid in die gebied.

Volgens hom is dit toe te skryf aan ’n “kultuur van wanbestuur en ’n swak stelsel vir die invordering van skuld op munisipale rekenings”.

“Indien dié en ander probleme nie verbeter nie, gaan die munisipaliteit heeltemal in duie stort.”

Bester sê een van die gevolge van die swak finansiële bestuur is dat die agterstallige diensteskuld oor jare nie reg bestuur is nie. Dit word op die geldstate as ’n verbysterende R3,9 miljard aangedui.

“Die munisipaliteit kan onmoontlik hierdie skuld afskryf; ek wil nou weet hoe hulle die situasie gaan beredder. Ingewikkelde prosesse sal hier gevolg moet word, terwyl die munisipaliteit se geldbestuur al die afgelope 15 jaar veel te wense oorlaat.”

Volgens Bester is mense in die Kanana-township naby Orkney die grootste wanbetalers met uitstaande skuld van sowat R1,1 miljard. “Gebiede soos Tigane, Khuma en Kanana koop hul elektrisiteit direk van Eskom, en betaal slegs 5% van hul water- en ander diensterekeninge. Die munisipaliteit tree nie teen wanbetalers op nie omdat hulle bang is hulle verloor stemme.”

Bester sê die munisipaliteit se geldsake is so benard dat daar geen geld oor is om krediteure en diensverskaffers van water, riool, elektrisiteit en vullisverwydering te betaal nadat salarisse, en die Eskom- en waterskuld, betaal is nie. “Infrastruktuur soos waterpompe, die rioolsuiweringsaanleg, paaie en straatligte word nie behoorlik in stand gehou nie. Minstens 80 munisipale voertuie is stukkend omdat dit nie behoorlik in stand gehou word nie.”

Die gebrekkige instandhouding veroorsaak onder meer dat Orkney voortdurend wateronderbrekings het en onverwerkte rioolvuil in die strate af vloei omdat dreine en rioolpype pal verstop is, sê Bester.

Kelebogile Moleko, woordvoerder van die Matlosana-munisipaliteit, sê die munisipaliteit het ’n kontantvloeiplan om sy krediteure te betaal. “Die raad het ook begroot vir die herstelwerk en instandhouding van infrastruktuur. Die probleme in Orkney is nie weens gebrekkige instandhouding nie, maar as gevolg van diefstal en vandalisme. Mense gooi vreemde voorwerpe in die rioolstelsel.”

Oor die beweerde wanbetaling sê Moleko die munisipaliteit het kredietbeheermaatreëls ingestel, wat onder meer waterbeperkings insluit. “Ons het ook deur middel van ’n tenderproses skuldinvorderaars aangestel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.