Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Klerksdorp: Terugskuif na vlak 4 ‘irrasioneel, onregverdig’

Sakelui in Noordwes wil graag insette lewer oor die provinsiale gesondheidsdepartement se voorneme om die omgewings van Rustenburg en Klerksdorp te laat terugbeweeg na vlak 4-inperkingsregulasies.

Madoda Sambatha, LUR vir gesondheid in Noordwes, het verlede week gesê hy wil dié voorstel aan die provinsiale Covid-19-bevelsraad doen. As dié raad saamstem, sal die versoek verder geneem word na die nasionale regering om daaroor te besluit.

Sonja Schoeman, eienaar van die Sneeuwitjie-kleuterskool in Klerksdorp, Noordwes, Woensdag op die verlate speelterrein. Sy is nou aan die oppak nadat sy haar kleuterskool ná 32 jaar moes sluit weens die impak van die Covid-19-inperkingsregulasies. Foto: Verskaf
Sonja Schoeman, eienaar van die Sneeuwitjie-kleuterskool in Klerksdorp, Noordwes, Woensdag op die verlate speelterrein. Sy is nou aan die oppak nadat sy haar kleuterskool ná 32 jaar moes sluit weens die impak van die Covid-19-inperkingsregulasies. Foto: Verskaf

Sambatha se voorneme spruit uit kommer oor die vinnige toename in gevalle by veral myne in die twee gebiede. Daar is nou daagliks gemiddeld 100 nuwe gevalle in Noordwes. Volgens die jongste statistieke wat Woensdagaand bekend gemaak is, het die provinsie nou 1 402 gevalle. Dis 121 meer as Dinsdagaand.

Intussen beveg sakelui in Matlosana die terugskuif na vlak 4-inperkings tot op die hoogste vlak.

Gerrit Coetzee, ’n Potchefstroomse prokureur, het ’n brief namens sakeorganisasies en sakelui in die gebied aan onder andere dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, gestuur om beswaar te maak. Die brief is ook gestuur aan dr. Job Mokgoro, Noordwes se premier aan die stuur van die provinsiale Covid-19-bevelsraad.

Coetzee voer onder meer aan die feit dat sakelui nog nie gevra is vir insette oor die voornemens nie, is onwettig en onregverdig.

“Die voorneme is ook strydig met die huidige neiging om die ekonomie weer geleidelik te open. Verskerpte regulasies sal lei tot verdere werksverliese en die sluit van ondernemings. Die doel met die inperking was om geriewe voor te berei vir gevalle. ’n Verhoogde inperking sal geen uitwerking hierop hê nie.”

Maetu Kgaile, uitvoerende burgemeester van Matlosana, het vroeër gesê sy ondersteun die verskerping van die inperkingsmaatreëls, onder meer omdat mense nie voorskrifte oor gesonde afstande nakom nie.

Nick Setsetse, voorsitter van Noordwes se sake- en nywerheidskamer, sê die organisasie is nog nie vir insette gevra nie. “Dis nie nodig om na vlak 4-inperkings terug te beweeg nie. Die virus moet net bestuur word.”

André Coertzen, bestuurshoof van die kamer, sê hulle is die grootste sakeorganisasie in Noordwes en verteenwoordig sowat 8 000 sakemense van verskillende ras- en kultuurgroepe. “Ons is tot dusver uitgesluit van besluitnemingsprosesse.”

Johan Oosthuizen, voorsitter van die Matlosana-sakekamer, sê veral klein sakeondernemings, restaurante, die skoonheidsbedryf en kleuterskole word erg geraak deur die regulasies. Van hulle moes reeds sluit.

Dis nie gepas om alle mense én sakelui in die breër gebied te straf nie.

“Intussen kry staatsamptenare nog salarisse terwyl dienslewering so swak soos altyd is. Ons vraag is ook hoe (die sukkelende) munisipaliteit, wat afhanklik is van ’n inkomste van belastingbetalers, sal kan funksioneer as mense wat hul werk kwyt is, nie meer belasting kan betaal nie.”

Oosthuizen sê hulle is onseker waar en wanneer sakelui hul insette kan lewer. Nie die premierskantoor of die provinsiale gesondheidsdepartement het sedert verlede week gereageer op Netwerk24 se navrae oor óf, en indien wel, waar en wanneer sakelui insette sal kan lewer nie.

Sonja Schoeman, wat die Sneeuwitjie-kleuterskool in Klerksdorp vir 32 jaar bedryf het, moes reeds die skool toemaak omdat dié klein onderneming nie meer huur en personeel se salarisse kon betaal nie.

“My hart is gebreek, ek voel emosioneel en kwaad,” het Schoeman Donderdag gesê terwyl sy aan die oppak was by die kleuterskool. “Ek sit nog met konsertkleertjies van 32 jaar gelede. Hier was soveel liefde en loopneusies.”

Coetzee skryf in sy prokureursbrief dis nie geregverdig of rasioneel om na vlak 4 terug te skuif nie, onder meer omdat die toename in gevalle grootliks by myne is en die nie-nakoming van maatreëls meer algemeen in die Khuma- en Kanana-township voorkom.

“Dis nie gepas om alle mense én sakelui in die breër gebied te straf nie.

“Minder drastiese stappe kan gedoen word om nie-nakoming te pak. Brandpunte moet eerder geïdentifiseer en wetstoepassing verskerp word in gebiede waar maatreëls oortree word. Ondernemings in Matlosana vorm nie deel van hierdie probleemgebiede wat streng bestuur moet word nie.”

Meer oor:  Rustenburg  |  Klerksdorp  |  Koronavirus  |  Vlak 4  |  Inperking  |  Brandpunt  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.