Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Klerksdorp vervalle, ‘geen kapitaal’ vir instandhouding
Die munisipale swembad in Klerksdorp is in ’n haglike toestand.

Die Matlosana-munisipaliteit skuld Eskom en die Midvaal-watermaatskappy R1,3 miljard.

Fanie Kloppers, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit, het Dinsdag gesê dit en ander syfers het aan die lig gekom op ’n onlangse raadsvergadering waarop die voorgestelde begroting vir die 2021-’22-boekjaar bespreek is.

“Ons en die ander opposisiepartye het nie hierdie voorstelle aanvaar nie. Die raad sal nou weer vergader om dit te bespreek.”

Matlosana bedien Klerksdorp, Hartbeesfontein, Orkney en Stilfontein.

Volgens Kloppers het dit op die voorlegging geblyk die munisipaliteit kort maandeliks sowat R500 miljoen om sy uitgawes te dek.

“Hy begroot R750 miljoen vir salarisse, terwyl hy nog R312 miljoen wil bestee aan kontrakteurs om munisipale werk te doen. Ons stel voor mense word afgelê om te bespaar. Intussen gaan R130 miljoen se water jaarliks verlore weens waterlekke en swak instandhouding. Sowat 70 000 munisipale rekeninge is die afgelope tien jaar nie betaal nie. Ons moes verlede jaar R60 miljoen aan die tesourie terugbetaal omdat ons begroting nie betyds ingedien is nie.”

Kloppers sê in die voorlegging vir die nuwe boekjaar is daar begroot vir kapitaal vir nuwe projekte, maar nié vir kapitaal vir die instandhouding van bestaande infrastruktuur nie. Hy meen die “laksheid en nalatigheid” van die ANC-beheerde munisipaliteit is die rede vir die “skokkende omvang van verwoesting en verval van openbare geriewe”.

“Die plek gaan nog onbewoonbaar word. Munisipale werkers wat wel wil werk, word gedreig hul huise sal afgebrand word te midde van onderlinge bendegevegte oor munisipale tenders. Dis demoraliserend. Die ander groot probleem is wanbestuur en ANC-binnegevegte.”

Die VF Plus het onlangs verskeie openbare geriewe, onder meer sportstadions, in die Matlosana-gebied besoek. By die Volkssaal in Stilfontein is plafonne, wasbakke, rioolpype, krane en elektriese bedrading gestroop.

Klerksdorp se netbal- en korfbalbane se toestand is ook baie sleg.

Volgens Kloppers was die James Motlatsi (Harry Oppenheimer)-stadion in Orkney tot voor die begin van die Covid-19-inperkings (verlede jaar) ’n moderne en gesogte sportgerief waar groot byeenkomste soos sokker, atletiek en musiekkonserte aangebied is.

“Die stadion het die afgelope maande onder vandale deurgeloop en is weens brandstigting nou onbruikbaar.”

Kloppers sê soortgelyke verval heers by Klerksdorp se “eens goed toegeruste korfbal- en netbalklub”.

“Die bekende Westelikes-sportklub se terrein is vervalle en munisipale werkers bewoon nou blykbaar die eens trotse klubhuis. Die munisipale swembad is in ’n haglike toestand en die slagpale word al jare nie gebruik nie.”

Kloppers sê die genoemde vernielde geriewe kan ’n goeie bron van inkomste vir die munisipaliteit wees indien dit in stand gehou en benut word.

“Dis ironies dat hierdie geriewe sienderoë geplunder word, terwyl miljoene rand jaarliks bestee word aan veiligheidsmaatskappye wat veronderstel is om die Matlosana-gemeenskap se bates te beskerm. Matlosana is nog ’n skandelike voorbeeld van ’n mislukte munisipale regering onder ANC-beheer.”

Kelebogile Moleko, woordvoerder van die Matlosana-munisipaliteit, sê die James Motlatsi-stadion word reeds sedert 2018 nie gebruik nie nadat ’n plaaslike myn watervoorsiening daarheen gestaak en Eskom se elektriese transformators gesteel en vernietig is.

“Die stadion voldoen gevolglik nie meer aan die voorgeskrewe vereistes dat staatsgeriewe water- en elektrisiteitstoevoer moet hê nie.”

Volgens Moleko is al die ander genoemde geriewe verseker, maar wag die munisipaliteit nog om terugvoering oor eise te kry.

“Al die geriewe val onder een instandhoudingsplan by die munisipaliteit en word uitverhuur. Die huurders moet die munisipaliteit ook in kennis stel oor instandhoudingsbehoeftes.”

Die eens statige James Motlatsi-stadion (voorheen Harry Oppenheimer) in Orkney.
Die skade by die James Motlatsi-stadion in Orkney.
By die Volkssaal in Stilfontein is plafonne, wasbakke, rioolpype, krane en elektriese bedrading gestroop.

Moleko sê die betrokke sportgeriewe voldoen nie aan die wetlik voorgeskrewe gebruikstandaarde nie weens onder meer diefstal en vandalisme, wanbetaling van kontrakte, ’n gebrek aan gemeenskapsbetrokkenheid en belangstelling onder skole en klubs om aan sport en ontspanningsaktiwiteite deel te neem, asook begrotingsbeperkings.

Meer oor:  Dienslewering  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.