Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Klopjag koppel Bobani glo aan onreëlmatige tender

Skokkende beweringe dat Mongameli Bobani, burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, na bewering op ’n onreëlmatige wyse baat gevind het by ’n tender van R20 miljoen aan ’n skoonmaakmaatskappy, het op die lappe gekom nadat die Valke Dinsdag ’n klopjag uitgevoer het op sy huis en kantoor.

Die klopjag, ’n tweede in sy soort binne ses maande, hou verband met ’n ondersoek na tenderbedrog, korrupsie, geldwassery en diefstal wat na bewering tussen Julie 2015 en Julie 2017 in die metro plaasgevind het, het brig. Hangwani Mulaudzi, nasionale woordvoerder van die Valke, gesê.

Hoewel Mulaudzi hom nie verder oor die ondersoek wou uitlaat nie, het dit aan die lig gekom dat Bobani glo verbind word met Milongani Eco-Consulting.

Milongani Eco-Consulting het in Julie 2015 ’n kontrak gekry by die metro van meer as R20 miljoen vir skoonmaakdienste, in dieselfde tyd toe Bobani aan die stuur was van die metro se komitee vir openbare gesondheid.

Die bewering is dat ’n gedeelte van dié geld in Bobani se bankrekenings beland het.

Athol Trollip, die voormalige burgemeester van die metro, het Bobani in 2016 aangestel as sy onderburgemeester in dieselfde komitee.

Trollip het Donderdag gesê toe onreëlmatighede destyds begin kop uitsteek met Bobani en Milongani Eco-Consulting het hy Bobani uit sy amp in die komitee vir openbare gesondheid onthef.

Trollip sê hy het persoonlik Milongani Eco-Consulting se kontrak stopgesit toe R15 miljoen aan hulle toegeken is om vullis op te tel, maar die geld is op dieselfde dag aan die maatskappy oorbetaal.

Volgens Trollip het dié betaling geskied met Bobani as hoof van die komitee vir openbare gesondheid en het dit gebeur teen die instruksies wat hy gegee het tydens hul koukus.

“Ek het toe teruggekyk na al die transaksies wat aangegaan is met Milongani Eco-Consulting en het bevind dat hulle op hul eerste dag van ’n projek al miljoene uitbetaal was vir duisende ure se werk wat nog gedoen moes word. Dit is onreëlmatig.

“Daar is ’n verslag voor die munisipale komitee oor openbare rekeninge wat wys hoe die handtekeninge by elke faktuur van Milongani Eco-Consulting verskil.

“Die meneer wat Milongani Eco-Consulting besit, woon in Limpopo. Hy het nie kantore en werkers nie, dit is ’n spookorganisasie. Al die werk word gesubkontrakteer aan iemand wat wel die kennis het om dit te doen.

“Geld is verduister. Ek is baie bly daar is nou glo gevind dat meer as R2 miljoen blykbaar in Bobani se rekening inbetaal is. Ek het nie gedink hy sal so onnosel wees om dit in sy eie rekening te laat betaal nie.”

Ander amptenare waarop daar glo klopjagte uitgevoer was, is Joram Mkosana, direkteur vir omgewingsake, die waarnemende direkteur Andile Tolom, die voormalige waarnemende direkteur vir vullisbestuur Nkosinathi Dolo, die projekbestuurder, Thabo Williams, en ’n tydelike werker, Vuyokazi Bazi.

Dié amptenare is in Februarie vanjaar heraangestel in hul poste, ten spyte daarvan dat die regsfirma by wie die metro regsadvies ingewin het oor die saak, gekant was daarteen.

“Hy (Bobani) het druk uitgeoefen vir die amptenare om heraangestel te word, want hulle is deel van sy netwerk van diefstal. As ’n mens steel, het jy mense nodig wat strategies geplaas is in poste.

“Ek het uit my eie ondervinding geen twyfel dat Bobani korrup is nie. Ek het dit vir Bantu Holomisa gesê by vyf verskillende vergaderings en in 26 briewe aan hom. Hy het die ander pad gekyk, maar hopelik gaan Bobani binnekort in die hof antwoorde moet gee,” sê Trollip.

Daar is beweringe dat Mongameli Bobani, burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, geldelik baat gevind het by ’n kontrak wat die metro aan Milongani Eco-Consulting toegeken het. Foto: Lulama Zenzile

Bobani se prokureur, Danie Gouws, sê hy sal nie verbaas wees as die “politieke speelbal” oorskuif na die volgende rat en tot die inhegtenisneming lei van die burgemeester en ander munisipale amptenare voor 8 Mei nie.

Gouws sê hy wonder hoeveel klopjagte nog voor die verkiesing uitgevoer sal word.

“Hierdie is ’n persoonlike agenda wat nou deur staatsorgane gedryf word om politieke gewin voor 8 Mei te kry.

Die klopjag wat in Oktober by Bobani se kantoor uitgevoer is, hou na bewering verband met die metro se geïntegreerde openbare vervoerstelsel (IPTS).

Volgens bewerings het Bobani glo geld ontvang van firmas wat deur die metro gekontrakteer is om werk vir die IPTS te lewer.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Tenderbedrog  |  Bobani  |  Valke  |  Nelson Mandelabaai  |  Klopjag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.