Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Knysna-burgemeester kap terug oor mosie van wantroue

Mark Willemse, burgemeester van Knysna in die Suid-Kaap, sê die DA se federale uitvoerende raad het nie goedkeuring gegee vir ’n mosie van wantroue wat deur sewe DA-koukuslede teen hom ingedien gaan word nie.

Mark WillemseFoto: Verskaf

Dit is ook ’n verbreking van die DA se grondwet, sê hy.

Willemse het Dinsdag in ’n verklaring gereageer op die mosie van wantroue deur die raadslede Michelle Wasserman, Donovan Pofadder, Levael Davis, Georlene Wolmarans, Sibusiso Kwinana, Luzuko Tyokolo en Cathy Weideman.

Wasserman sê in ’n verklaring hulle het op 19 Mei ’n brief aan Willemse gestuur waarin hy gevra word om as burgemeester te bedank. Die mosie sal Donderdag op ’n raadsvergadering ingedien word.

Van die redes wat aangevoer word, is dat Willemse nie die DA se 2016-manifes gebruik as grondslag vir prioritisering en beplanning vir die Knysna-munisipaliteit nie, en dat hy nie politieke leierskap of strategiese rigting vir die munisipaliteit bied nie.

Willemse sê in die 2016-verkiesing moes die DA in elke munisipaliteit sy eie manifes opstel. Voor hy egter op 6 Junie 2018 tot burgemeester verkies is, was die DA-koukus reeds in opstand en het geweier om posisies in die burgemeesterskomitee te aanvaar.

Samewerking het slegs gekom nadat Helen Zille, gewese premier van die Wes-Kaap, einde 2018 tot Knysna se kiesafdelingshoof verkies is.

Wasserman en Davis het in Januarie vanjaar posisies in die burgemeesterskomitee aanvaar, onderskeidelik as lid vir beplanning en ontwikkeling, en vir tegniese dienste. Willemse sê baie van Wasserman se klagtes val onder burgemeesterskomiteelede en raadslede se pligte.

Willemse sê van die prioriteite wat hy gedryf het, is belegging in infrastruktuurgroei en die skep van werkgeleenthede, die totstandkoming van ’n Knysna-sakekamer (wat vandeesmaand deur die sakeman Johnny Nkosi gestig is), paaie se instandhouding, die regmaak van slaggate, toegang tot basiese dienste soos elektrisiteit, ’n heeltydse direkteur vir die departemente van menslike nedersettings en toerisme, waarvoor ’n drie jaar lange ooreenkoms met die Wes-Kaapse handelsbevorderingsagentskap (Wesgro) gesluit is.

Volgens hom is al die prioriteite in die DA se 2016- plaaslike manifes vervat en voltooi, of in die proses om voltooi te word.

Oor strategiese rigting en politieke leierskap sê hy ’n munisipale bestuurder is eers onlangs aangestel. Voorheen was daar slegs waarnemende munisipale bestuurders. Die verhouding tussen ’n burgemeester en munisipale bestuurder is kritiek om leiding te gee en dit kan nou eers regtig tot stand kom, sê hy.

Volgens hom is hy van enige oortreding deur die DA se federale regsraad kwytgeskeld toe hy aangekla is omdat hy ’n mosie van wantroue teen die vorige burgemeester, Eleanor Bouw-Spies, gesteun het.

Hy sê hy met sy gewete gestem om Bouw-Spies op 6 Junie verlede jaar as burgemeester te verwyder omdat verskeie organisasies in sy wyk ontevrede was oor die dorp en die burgemeester. Geen samespanning of oneerlikheid was betrokke nie.

Meer oor:  Mark Willemse  |  Knysna  |  Burgemeester  |  Mosie Van Wantroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.