Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Koffiefontein-burgemeester bedank om vrede te bewaar

Thandiwe Reachable, burgemeester van die Letsemeng-munisipaliteit, het Maandag uit haar amp bedank nadat inwoners verlede jaar maande lank hieroor betoog en geweld gepleeg het.

Hulle was onder meer ontevrede oor swak dienslewering, beweerde korrupsie en maatskaplik-ekonomiese en ontwikkelingskwessies.

Koffiefontein se matrieks is vir hul veiligheid na ander dorpe geneem om die eindeksamen af te lê.

Die dorp se gr. 4- tot gr. 11-leerlinge kon ook eers vanjaar hul finale eksamen aflê. Die gr. 1- tot gr. 3-leerlinge is op hul gemiddelde jaarpunt beoordeel.

Thandiwe ReachableFoto: Argief

Koffiefontein se leerlinge is nou agter met 2019 se kurrikulum en gaan langer skool totdat die werk ingehaal is.

Die munisipaliteit bedien ook Jacobsdal, Luckhoff, Petrusburg en Oppermansgronde.

Volgens Thabo Meeko, Vrystaatse ANC-woordvoerder, het Reachable vrywillig bedank. Die ANC verwelkom haar besluit om uit te tree en die party toe te laat om oplossings te vind. Meeko sê egter die ANC het Reachable nie gevra om te bedank nie. Omdat mense gesê het sy is deel van die probleem, het sy onderneem om terug te staan sodat dit so gou moontlik opgelos kan word.

Hy sê die ANC het deurentyd aandag gegee aan inwoners se eise en Reachable het daarmee gehelp. Van dié eise is onder meer oor werkloosheid, wat nie opgelos word deur die burgemeester se bedanking nie.

Volgens hom het sy nie weens die bewerings van korrupsie bedank nie. Die ANC is wel besig met ’n ondersoek.

Reachable is 20ste op die ANC se provinsie-tot-provinsie-lys. Meeko wou nie oor haar plek kommentaar lewer nie, omdat die lyste nog nie finaal is nie.

Koffiefontein se ingang. Foto: Willem de Lange

Andrew Visagie, woordvoerder van die munisipaliteit, sê Reachable het die besluit geneem om stabiliteit in die dorp en munisipaliteit te bring. Die munisipaliteit kon nie onder die omstandighede normaal funksioneer nie. Die munisipale kantoor is selfs in ’n stadium ter wille van die amptenare se veiligheid gesluit.

“Ek dink die administrasie sal nou na normaal terugkeer, dienslewering sal bespoedig word en sal sonder enige oponthoud gelewer kan word.”

Johnatan Barnes, DA-raadslid, beskou die bedanking as positief indien dit die situasie in Koffiefontein sal stabiliseer.

“Daar is reeds maande gelede ’n beroep op die ANC gedoen om tussenbeide te tree. Die vraag is egter waarom tot vandag toe gewag is, nadat skade reeds aangerig is.

“Die prys wat Koffiefontein betaal, is baie duur. Of dit vermy kon word indien politieke ingryping vroeër plaasgevind het, bly ’n ope vraag.”

Sello Bahumi, ANC-raadslid, is as waarnemende burgemeester aangestel.

Oproer teen Thandiwe Reachable, burgemeester van die Letsemeng-munisipaliteit, het verlede jaar maande lank in Koffiefontein voorgekom. Foto: Argief
Meer oor:  Koffiefontein  |  Burgemeester
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.