Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Kom sê jou sê oor nuwe naam vir PE

Inwoners van die Nelson Mandelabaai-metropool kan nog tot Woensdag hul mening oor die voorgestelde naamsveranderinge vir Port Elizabeth, dié stad se lughawe, asook die buurdorp, Uitenhage, op openbare vergaderings lug.

Die Oos-Kaapse komitee vir geografiese name (ECPGNC) se laaste twee openbare vergaderings word Dinsdag- en Woensdagaand in Port Elizabeth gehou.

Deelnemers aan die vergaderings kan hul mening lug oor voorgestelde name en het ’n laaste kans om nuwe name voor te stel voordat ’n verslag saamgestel word.

Christian Martin sê hy is ten gunste daarvan dat die lughawe in Port Elizabeth na hoofman David Stuurman vernoem word.Foto: Argief

Volgens Zukile Jodwana, adjunkvoorsitter van die ECPGNC, kan deelnemers die naamsveranderinge teenstaan, maar in dié stadium lyk dit asof die name in alle waarskynlikheid sal verander.

Dit sal egter nog minstens sewe maande duur voordat die minister van kuns en kultuur ’n finale besluit aankondig.

Jodwana sê ná die openbare vergaderings sal die komitee die kommentaar en aanbevelings oorweeg, waarna die komitee se aanbevelings in die plaaslike media gepubliseer sal word.

Die publiek het dan 21 dae tyd om weer kommentaar te lewer of beswaar aan te teken. Hierna sal die komitee dié kommentaar en besware oorweeg en ’n verslag met bevindings by die minister se kantoor indien.

Volgens Jodwana sal die nasionale komitee, indien nodig, enige verdere besware hanteer deur regstreeks met die beswaarmaker te kommunikeer en op hul beurt nog ’n verslag saamstel.

Die minister sal na verwagting teen Junie ’n aankondiging doen, wat in die Staatskoerant gepubliseer sal word.

Jodwana waarsku egter indien ’n nuwe minister ná aanstaande jaar se nasionale verkiesing aangewys word, kan die proses moontlik vertraag word.

Christian Martin, LP in die Oos-Kaapse wetgewer, het ’n brief aan die United Congregational Church in Chatty gerig waarin hy hulle van die openbare vergaderings bewus maak.

Martin verwelkom die inisiatief deur die ECPGNC, en sê dit bied die geleentheid om die wanbalanse in die samelewing reg te stel om sodoende ’n meer inklusiewe toekoms te skep.

Hy sê die David Stuurman- parlementêre kiesafdelings-kantoor is ten gunste van die name “The Chief David Stuurman International Airport” en “Nelson Mandela Bay City”.

“Die hernoeming van die lughawe na hoofman David Stuurman gaan erkenning gee aan die massiewe bydrae wat die Khoi- en San-gemeenskap tot ons bevryding gelewer het,” sê Martin.

Onder die lys vir voorgestelde name vir Port Elizabeth is:

  • Gqebera
  • I-Bhayi
  • Nelson Mandela City

Die voorgestelde name vir die Port Elizabeth International Airport is:

  • Nelson Mandela Bay Airport
  • Nelson Mandela Airport
  • Raymond Mhlaba Airport
  • Sipho Hashe International Airport
  • David Stuurman International Airport
  • The Khoi-San International Airport

Die kortlys vir Uitenhage se voorgestelde name is:

  • Garden Town
  • Kariega
  • Tolofiyeni
  • Kamesh

Die skedule vir die laaste twee openbare vergaderings is soos volg deur die ECPGNC uiteengesit:

  • Dinsdag 13 November om 18:00, Raymond Mhlaba-sportsentrum.
  • Woensdag 14 November om 18:00, Port Elizabeth-stadsaal.
Meer oor:  Port Elizabeth  |  Lughawe  |  Naamsverandering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.