Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Kommer oor Emthanjeni se skuld en bestuur

Inwoners van De Aar, Britstown en Hanover vrees dat kragonderbrekings binnekort as gevolg van die Emthanjeni-munisipaliteit se agterstallige skuld aan Eskom hul voorland gaan wees.

Rondloperdiere in De Aar hou ’n gevaar vir motoriste in. Foto: Verskaf

Boonop beweer inwoners die munisipaliteit het heelparty ander probleme wat hul lewens, en sakemanne en boere se voortbestaan bedreig.

Gerhard Engelbrecht, voorsitter van die Emthanjeni-belasting-en-inwonersvereniging (EBIV), sê die munisipaliteit skuld miljoene rande aan Eskom.

“Die munisipaliteit spook om maandeliks die agterstallige skuld ingevolge die skuldooreenkoms en die huidige rekening maandeliks betaal te kry. Hulle skuld boere, wat water uit 52 boorgate aan die dorp verskaf, ook geld. As dié boere die waterverskaffing staak, sit ons dalk ook met waterbeperkings.”

Engelbrecht het onlangs met Isak Visser, munisipale bestuurder, oor die kwellings vergader.

“Ek wou weet wat die toedrag van sake is. Die skuldooreenkoms beloop maandeliks R1,5 miljoen, waarby die maandelikse verbruik bygereken moet word.”

Hy sê prokureurs in die dorp het aangebied om skuldinvordering namens die munisipaliteit te doen, maar die munisipaliteit het nog nie die hulp aanvaar nie, “ten spyte van baie swak invordering van die heffings, belasting en dienste gelewer.

“Inwoners, ondernemings, boere en staatsdepartemente se skuld aan die munisipaliteit beloop meer as R200 miljoen. Boonop is skuld ook voor die verkiesing afgeskryf.

“Amptenare is skynbaar nie in staat om die kredietbeheerbeleid streng toe te pas nie. En ons sit weer sonder ’n finansiële hoof nadat die vorige een minder as twee jaar werksaam was.”

Volgens Engelbrecht kry hulle nie gereelde en korrekte finansiële state, tenderadvertensies of jaarverslae op die webwerf nie.

Die dorp is vuil, parke is oorgroei en verwaarloos, lamppale hang op gevaarlike wyse oor die strate.
Gerhard Engelbrecht

“Die dorp is vuil, parke is oorgroei en verwaarloos, lamppale hang op gevaarlike wyse oor die strate en rondloperdiere wat nie geskut word nie, hou ’n gevaar vir motoriste in. “Munisipale ordonnansies word nie toegepas nie.

“Eiendomsbelasting vir boere is te hoog en die afslag wat geadverteer is indien hulle vroegtydig betaal, is nie ingestel nie. Boere wat onder ’n verskriklike droogte ly, behoort verdere korting te kry.

“Behoorlike munisipale bestuur en leierskap is nie in De Aar te bespeur nie.”

Visser sê die munisipaliteit “kan slegs sy skuldeisers betaal indien skuldenaars hul rekeninge bygewerk en ten volle vereffen, soos wat hulle met DStv doen.

“Ons kredietbeheermaatreëls word toegepas, maar ten spyte hiervan is die betalingskoers uiters swak.”

Die munisipaliteit het ’n kredietbeheerbeleid wat die nasionale tesourie opgestel het, en dit word in werking gestel.

“Ek het ’n paar jaar gelede in die jaarverslag genoem dat uitstaande debiteure die grootste bedreiging vir die munisipaliteit inhou.

“Ek moes onlangs die begroting met R64 miljoen aanpas nadat die nasionale tesourie se berekenings aangedui het dat slegs 46% van inwoners hul rekenings maandeliks betaal.

“Dit beteken ook nie die rekeninge word ten volle of betyds betaal nie. Dit is weens die swak betaling dat ons Eskom sowat R68 miljoen skuld.

Hoe kan plaaslike owerhede met sulke astronomiese uitstaande skuld oorleef?
Isak Visser

“Kommersiële en opkomende boere se skuld beloop ’n allemintige R37 miljoen. Boere kry jaarliks afslag op hul belasting, maar die meeste vereffen nie hul rekenings nie.

“Hoe kan plaaslike owerhede met sulke astronomiese uitstaande skuld oorleef?”

Visser sê die maandelikse instandhouding, soos aan lamppale wat oorleun, word gedoen na gelang van beskikbare geld.

Hy adverteer tans vir ’n finansiële hoof, en sal ’n “top-klas-kundige” aanstel.

Die webwerf is in werking, maar weens personeeltekorte neem dit soms tyd om inligting spoedig daarop te plaas.

“Ons rioolaanleg is in werking, en ons het aansoek gedoen om ’n toelaag om dit verder op te knap.”

Meer oor:  De Aar  |  Bestuur  |  Munisipaliteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.