Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Kommer oor tariefverhogings in Swellendam

Inwoners van Swellendam het hul kommer uitgespreek oor voorgestelde tariefverhogings en die uitwerking van Covid-19 op die munisipale geldsake.

Inwoners is bekommerd oor onder meer afvalbestuur en vullisverwydering wat met 15% styg, hoë personeelkostes en grootmaataankope, wat elektrisiteit van Eskom insluit.

Bianca McKechnie, ’n munisipale woordvoerder van Swellendam, het by navraag gesê vullisverwydering styg met 15% omdat die fasiliteit vir afvalbestuur sy kapasiteit bereik het.

Ná verskeie gemeenskaps- en openbare vergaderings met bekommerde inwoners, spesifiek die Clean Air Group, het die munisipaliteit besluit om via die Overberg-distriksmunisipaliteit van die fasiliteit vir afvalbestuur by Karwyderskraal gebruik te maak.

“Die tariefverhoging sal die vervoer van rommel sowel as die afvalbestuur op die nuwe perseel dek.”

Die tariefverhoging sal die vervoer van rommel sowel as die afvalbestuur op die nuwe perseel dek.

Bykomende maatreëls is ingestel om die huidige stortingsterrein te bestuur, waar nog steeds van rommel ontslae geraak moet word.

Die begroting, sê McKechnie, het spesifiek ter sprake gekom op openbare vergaderings oor die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) waar dinge soos uitgawes, inkomste en personeel bespreek is. Die openbare vergaderings is in September 2019 in elk van ses wyke gehou, en weer in April 2020 digitaal deur middel van kennisgewings vir openbare insette.

Die begroting vir behuising word gedoen in samewerking met die provinsiale departement van menslike nedersettings, sê sy. Finansiering vir topstrukture word direk van die Wes-Kaapse regering ontvang en die munisipaliteit is verantwoordelik vir die inwerkingstelling van dienste sowel as die diens van erwe. Dié is reeds voltooi vir huidige behuisingsprojekte wat in die pyplyn is, naamlik die Smitsville- (Barrydale) en Buffeljagsrivier-behuisingsprojekte.

Alle behuisingsprojekte wat in die 2019-’20-boekjaar begin is, sal voltooi word sodra die finansiering vir die 2020-’21-boekjaar ontvang is. Oor die vordering is deurlopend in 2019 verslag gedoen in nuusbriewe, asook aan die begin van 2020 en op die openbare GOP-vergaderings.

McKechnie sê maatreëls om die munisipaliteit se inkomste aan te vul en te beskerm met betrekking tot die staat van inperking weens Covid-19, is onderweg via die nasionale tesourie en die Wes-Kaapse regering.

’n Sakepeiling gaan ook gedoen word om vas te stel hoe sakeondernemings geraak word deur die inperking, en hoe ondernemings oral in die munisipale distrik beter gehelp kan word.

Inwoners is voorts gevra om aansoek te doen vir kredietbeheerverligting vir hul munisipale rekeninge indien hul inkomste as gevolg van die inperking geraak word. Geen dienste is egter gestaak weens niebetaling op die vlak 5-, 4- en 3-inperking nie. Ander finansiële beleid soos die deernisbeleid bly in plek.

Meer oor:  Swellendam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.