Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Kommer oor vergoeding van geskorste amptenare in Limpopo

Kommer heers oor munisipaliteite in Limpopo wat aanhou om geld te verloor as gevolg van hoe lank senior munisipale amptenare geskors is weens hul betrokkenheid by beleggings in die omstrede VBS Mutual Bank.

Dit het Woensdag op ’n sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake aan die lig gekom dat die lang tydperke waarvoor dié amptenare geskors is, tot verdere geldelike verliese vir dié munisipaliteite lei.

Forensiese ondersoeke wat deur die LUR vir samewerkende regering, menslike hulpbronne en tradisionele sake asook verskeie munisipale rade gedoen is, het luidens ’n verklaring van die komitee gevind dat dié amptenare – hoofsaaklik munisipale bestuurders en finansiële hoofde – hulle skuldig gemaak het aan finansiële wangedrag ingevolge die Wet op die Bestuur van Munisipale Finansies.

Luidens die verklaring het die Elias Motsoaledi-munisipaliteit in die Sekhukhune-streek tot dusver meer as R900 000 daaraan bestee om die geskorste munisipale bestuurder se salaris te betaal wat tans by die huis sit.

Dié bedrag sluit ’n toelaag in wat aan die huidige waarnemende bestuurder betaal word om in die pos waar te neem. Boonop is die tugproses van die munisipale bestuurder op 30 April vanjaar onbepaald uitgestel met geen tydlyn vir die hervatting daarvan nie.

Faith Muthambi.

Faith Muthambi, komiteevoorsitter, het in die verklaring gesê wat veral jammer is, is dat die R900 000 nie die regskoste insluit wat die munisipaliteit voortgaan om te betaal vir die saak teen die munisipale bestuurder nie. “Baie munisipaliteite het lankal die tugproses met die munisipale bestuurders en finansiële hoofde afgehandel, maar daar blyk geen verbintenis van die leierskap van Elias Motsoaledi te wees om dié kwessies spoedig te hanteer nie. Die kwessie ruik na kwaadwillige inskiklikheid,” het sy gesê.

Die komitee het ten opsigte van die Fetakgomo Tubatse-munisipaliteit gesê dit is onaanvaarbaar dat die R230 miljoen wat deur VBS as ’n belegging verloor is, ’n bedrag van R80 miljoen ingesluit het vir die finansiering van die geïntegreerde nasionale elektrifiseringsprogram. Dit het ’n regstreekse impak op die vermoë van die munisipaliteit om elektrisiteit aan sy inwoners te verskaf.

Michal Groenewald, VF Plus-LP, het in ’n verklaring gesê dit is duidelik uit die komiteevergadering dat plaaslike regering in “blote krisisbestuur” verval het en dat daar nie meer sprake is van professionele, volhoubare regering nie.

Hy het dit betreur dat daar “nie meer opgetree word teen bestuurders wat hulle skuldig maak aan korrupsie en bedrog” nie.

“So ontvang munisipale bestuurders wat onwettig belastinggeld in die VBS-skema gestort het, ’n jaar ná hul skorsing steeds hul volle salarisse en voordele met geen aanduiding van wanneer en hoe hulle aanspreeklik gehou gaan word nie. Dit kom daarop neer dat hulle goue handdrukke ontvang vir hierdie onreëlmatige beleggings in VBS.”

Meer oor:  Vbs Mutual Bank  |  Faith Muthambi  |  Limpopo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.