Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Konsep-begroting: Tariewe vir Mangaung-metro

Erfbelasting van huiseienaars en boere in die Mangaung-metro styg van 1 Julie met 6% en dié van sakeondernemings en die staat met 0%.

Dit is luidens ’n konsepbegroting van die metro wat op ’n aanlyn raadsvergadering ter tafel gelê is.

Verhogings geld ook ander dienste in die metro, wat Bloemfontein, Dewetsdorp, Wepener, Van Stadensrus, Botshabelo, Thaba Nchu en Soutpan insluit.

Sanitasiedienste vir nieresidensiële eiendomme soos sakeondernemings en staatsgeboue styg met 6% en vir residensiële eiendomme met 5,4%. Eiendomme waarvan die waarde R80 000 is, kry dié diens gratis.

Hans Britz Foto: Argief

Watertariewe verhoog van 7% tot 13% afhangende van die verbruik en word duurder sodra meer water gebruik word. (Sien bygaande tabel.)

Die beskikbaarheidsheffing op watermeters verhoog met 10%.

Vir sakeondernemings is die voorgestelde verhoging in watertariewe ook van 7% tot 13% afhangende van die verbruik, en die beskikbaarheidsheffing op watermeters styg ook met 10%. 

In die konsepbegroting word voorgestel dat elektrisiteitstariewe met 5,6% verhoog word afhangende van die nasionale energiereguleerder Nersa se goedkeuring.

Hans Britz, DA-raadslid en voormalige finansiële hoof van die metro, sê hy is skepties oor die beoogde elektrisiteitsverhoging omdat Nersa vandeesweek kommentaar wil inwin van belanghebbendes oor ’n riglyn dat munisipaliteite hul kragtariewe van 1 Julie af met gemiddeld 14,59% verhoog.

In die metro-konsepbegroting van R7,537 miljard vir die 2021-’22-boekjaar word kapitaaltoelae van die staat uitgesluit. Dit het in 2020-’21 R7,353 miljard beloop.

Die begroting verteenwoordig ’n verhoging in inkomste van R184 miljoen (2,50%) teenoor die aanvullende begroting van 2020-’21.

Die bedryfsbegroting se uitgawes verminder van R6,826 miljard in die aanvullende begroting van 2020-’21 tot R6,738 miljard in 2021-’22. Dit is R88,517 miljoen (1,29%) minder.

Die koste soos salaris en toelae vir werknemers verhoog met 6,38% (R133,605 miljoen) gegrond op die 2020-21- aanvullende begroting van R2,092,657 miljoen tot R2,226,262 miljoen in 2021-’22.

grafika

Britz sê personeelkoste is een van die groot redes dat die metro ’n geldkrisis ervaar.

“Die inkomste en uitgawes asook salariskoste sal verder deur die DA ontleed word met die oog op die raadsvergadering waar die begroting voor of op 31 Mei bespreek en voor 30 Junie goedgekeur moet word.”

Wat die kapitaalbegroting van die 2020-’21-boekjaar betref, dit word in die konsepbegroting bereken op R1,091,144 miljoen, ’n vermindering van die R1,300,160 miljoen in die vorige boekjaar. Dit is R209,016 miljoen (16%) minder wanneer dit met die 2020’-21- aanvullende begroting vergelyk word.

Britz sê die kapitaalbegroting is ook ’n “vals belofte” omdat die metro nie die helfte van sy kapitaalbegroting in die huidige boekjaar kon bestee nie.

Hy sê ’n regulasiewysiging wat bepaal dat ’n hele meenthuiskompleks se water ontkoppel kan word wanneer slegs enkele eiendomme agterstallig is, is onwettig en sal hanteer word wanneer die begroting oorweeg word.

Britz sê oor die erfbelasting dat hy nie teen verligting aan sakeondernemings gekant is nie, maar anders as residensiële eiendomme kan hulle die koste afwentel sodat hulle onkoste van kliënte verhaal.

Soos reeds genoem, betaal residensiële eiendomme met ’n waardasie van R80 000 of minder nie erfbelasting nie. Residensiële eiendomme met ’n waardasie van meer as R80 000 betaal belasting op die deel bo R80 000.

Die korting vir pensioentrekkers bly R250 000.

Die bedrag is nou al agt jaar onveranderd en sal ’n klein verhoging in sakeondernemings en die staat se tariewe en ’n verhoging in die korting aan pensioentrekkers moontlik maak, sê hy.

In die regulasies word dit geskrap dat eiendomme van 5 ha en kleiner nie as landbou-eiendomme beskou word nie, sê hy.

Lewer só kommentaar of teken beswaar aan

Inwoners het tot 21 April om na die konsepbegroting en ander dokumentasie soos dié van die geïntegreerde ontwikkelingsplanne en sektorplanne en die ruimtelike ontwikkelingsplan op die munisipale webtuiste te kyk en kommentaar te lewer of beswaar aan te teken.

Dit is alles beskikbaar by www.mangaung.co.za.

Omdat ’n nasionale ramptoestand geld en vergaderings met meer as 100 mense verbied word, word die gemeenskap en ander belanghebbendes aangemoedig om geskrewe kommentaar en navrae aan die volgende mense te rig:

Geïntegreerde ontwikkelingsplanne en sektorplanne: Monyake.mothekhe@mangaung.co.za en Lebohang.pita@mangaung.co.za.

Ruimtelike ontwikkelingsplan: Tilfred.Mabuza@mangaung.co.za en Bheki.mthembu@mangaung.co.za.

Driejaar-konsepbegrotings en begrotingsbeleid: Mathapelo.masisi@mangaung.co.za, Hansie.VanZyl@mangaung.co.za en lehula.reid@mangaung.co.za.


Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Mangaung  |  Konsepbegroting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.