Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Koppe gaan rol in VS-munisipaliteite, sê LUR’e

Die koppe gaan rol in die Vrystaat se ineengestorte munisipaliteite, het twee LUR’e Donderdag beloof.

Thembeni Nxangisa, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), en Gadija Brown, LUR vir finansies, het gepraat in die begrotingsdebat van Cogta in die Vrystaatse wetgewer.

Thembeni NxangisaFoto: Marietjie Gericke

Persoonlike beledigings oor die politieke spektrum heen het deurentyd rondgevlieg.

Zanele Sifuba, speaker, moes die LUR’e en wetgewerlede deurentyd daaraan herinner dat persoonlike beledigings nie geduld word nie.

Nxangisa het gesê uit die noodkrete blyk dit dat die munisipaliteite in ’n kritieke toestand en “almal dood” is.

“Goeie regering gaan ingestel word en Micky Mouse-amptenare wat nie wil werk nie, sal afgedank word.”

Hy het ook gesê dorpe en stede en hul townships gaan op Vrydae skoongemaak word. En Vrystaatse amptenare kan vergeet van bonusse vanjaar.

Gadija BrownFoto: Argief

Nxangisa het apartheid blameer vir die gebrekkige infrastruktuur in townships ná 25 jaar in die nuwe Suid-Afrika. Dit was toe Sam Mashinini, Vrystaatse ANC-voorsitter, hom hieroor gevra het.

Nxangisa het gesê daar gaan wat plaaslike regering betref, “teruggekeer word na die basiese” in die Vrystaat.

“Géén korrupsie en nepotisme sal geduld word nie, ongelykhede en armoede sal uitgewis word, munisipale bestuur sal deursigtig en verantwoordbaar gemaak word en gevolge-bestuur sal toegepas word.

“Lakse amptenare sal dissiplinêr verhoor word, mense met vaardighede sal aangestel word en bestaande personeel sal opgelei word.”

Hy het gesê die personeel in die voorste linie by munisipaliteite sal in die beginsels van Batho Pele (“mense eerste”) heropgelei word.

Daar gaan weggedoen word met apartheidsontwikkelings “waar tradisionele wit gebiede goed ontwikkel is en die ander nie. Ekonomiese ontwikkelings sal in townships plaasvind en nie andersom nie.”

Tshabalala het self beswaar gemaak en gesê dat hy nie verantwoordelik was nie en in geen hof skuldig bevind is nie.

Leona Kleynhans, DA-LW, het gesê die Vrystaat se ineengestorte munisipaliteite is nog ’n stuk skaamtelose verraad van die regerende ANC, wat die inwoners van die provinsie gefaal het.

“Die party het nie alles in sy vermoë gedoen om behoorlike dienslewering te verseker, gesonde finansiële bestuur te handhaaf en om mense teen armoede en honger te beskerm nie.”

Sy het gesê geen ekonomiese groei en werkskepping is in ’n mislukte munisipaliteit moontlik nie. Die wet maak daarvoor voorsiening dat wanneer die provinsiale tesourie en Cogta nie na behore kon ingryp nie, die munisipaliteite ontbind moet word.

Sy het ook gesê die nasionale departemente van tesourie en Cogta moes ook ingegryp het, maar niks betekenisvol het gebeur nie.

’n Groot geveg het ontstaan toe sy gesê het dat dit verstommend is dat Vusi Tshabalala, voormalige burgemeester van die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit, waar baie ongerymdhede en korrupsie plaasgevind het, nou tot hoofsweep van die wetgewer “bevorder” is.

Tshabalala het self beswaar gemaak en gesê dat hy nie verantwoordelik was nie en in geen hof skuldig bevind is nie.

Sifuba het Kleynhans gevra om haar persoonlike aanval op Tshabalala terug te trek.

“Ek praat van feite,” het Kleynhans ’n paar keer gesê, maar later haar stelling teruggetrek.

* Armand Cloete, VF Plus-lid van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), het gesê kaderontplooiing is besig om die ANC te verlam en baie Vrystaatse munisipaliteite staar Dag Zero in die gesig voordat hulle finaal in duie stort. “Solank die ANC voortgaan om werk vir vriende en kaders te skep, sal niks verbeter nie. Verder is die departement (Cogta) wat ’n oorsigrol oor die munisipaliteite moet speel, niks beter nie,” het hy gesê.

“Ek kan seker verwys na die Mafube-munisipaliteit (Frankfort) waar die balju op nog bates beslag gelê het. Daar is burgemeesters in die Vrystaat wat hul skuld op munisipale rekenings wil laat afskryf en wil hê dat hulle rade dit moet goedkeur.

“Ek kan foto’s van Matjhabeng (die Vrystaatse Goudveld) wys waar voertuie in slaggate so groot soos karre inry. In Brandfort is om water te hê die uitsondering en nie die reël nie.”

Meer oor:  Cogta  |  Thembeni Nxangisa  |  Gadija Brown  |  Vrystaat  |  Politiek  |  Munisipaliteite  |  Lur'e
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.