Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Krag bly aan vir dié Karoo-dorpe oor Paasnaweek
Steytlerville in die Oos-Kaap. Foto: Rudi Venter

Ná bykans ’n week van kragonderbrekings is inwoners van die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit in die Oos-Kaap die gerusstelling gegee dat die ligte gedurende die komende Paasnaweek aan sal wees.

Kragonderbrekings in drie Karoo-dorpe in die munisipaliteit – weens die munisipaliteit se uitstaande skuld aan Eskom – is tot 16 Mei afgelas.

Dit volg nadat die munisipaliteit en die kragverskaffer ’n ooreenkoms bereik het waarvolgens ’n terugbetaalplan voor 16 Mei aan Eskom gegee moet word.

Wilca Smith, munisipale woordvoerder, het Woensdag gesê ’n terugbetaalplan sal voor die sperdatum afgehandel word.

Sy het nie verder oor die besonderhede van die ooreenkoms uitgewei nie.

Eskom het die afgelope week twee keer per dag die krag vir enkele ure lank in Willowmore, Steytlerville en Jansenville afgesny.

’n Ooreenkoms tussen Eskom en die munisipaliteit is Dinsdag, net twee dae voordat die kragonderbrekings tot 14 uur per dag sou toeneem, bereik.

Die munisipaliteit moet ook voor 16 Mei ’n bedrag van R6 miljoen aan Eskom betaal.

Volgens Vicky Knoetze, DA-woordvoerder vir samewerkende regering en tradisionele sake in die Oos-Kaap, moet die munisipaliteit ook voor 16 Mei ’n bedrag van R6 miljoen aan Eskom betaal.

“Daarmee saam moet ’n volledige verslag met ’n behoorlike plan aan Eskom oorhandig word oor hoe die res van die R90 miljoen (skuld) terugbetaal sal word.”

Knoetze sê na haar mening sal die munisipaliteit die R6 miljoen neem uit begrotings wat vir ander projekte geoormerk is.

“Ek vermoed die geld sal van infrastruktuurprojekte gevat word. Slegs 1,6% van die infrastruktuurbegroting is bestee en daarom word instandhouding nie gedoen nie en ly die mense aanhoudend onder watertekorte.”

Sy meen die afgelope week se kragonderbrekings het plaaslike ondernemings soos gastehuise, slaghuise en banke die hardste getref. “Dit het ’n groot uitwerking op die ondernemings se finansies. Dié soort ondernemings is ook die grootste werkverskaffers aan plaaslike inwoners. Wanneer hulle finansieel swaarkry, sal die werknemers die eerstes wees om afgedank te word, en die werkloosheidsyfer styg.”

Knoetze sê die kragonderbrekings was Eskom se manier om te sê hy is ernstig om die skuld aan hom te verhaal. “Hulle is moeg gedreig. Die situasie kom al van September af en dit het gelyk of die munisipaliteit nie die situasie ernstig opneem nie.”

Eskom het in ’n verklaring gesê die kragonderbrekings is afgelas nadat ’n ooreenkoms bereik is. Hy het weer benadruk die afsny van die kragtoevoer word as ’n laaste uitweg beskou.

Meer oor:  Krag  |  Elektrisiteit  |  Paasnaweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.