Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Krag bly af tot skuld aan Eskom betaal is

Dit sal die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit in die Oos-Kaap glo R27 miljoen kos om die ligte in dié gebied aan te hou nadat Eskom weens agterstallige skuld van die munisipaliteit begin het om kragtoevoer af te skakel.

Eckhard Deyzel, eienaar van Deyzel Vleismark in Jansenville, saam met Maggi-Ann Joseph (links) en Zelda Moos (regs), twee van sy werknemers. Foto: Verskaf

Nqaba Bhanga, die DA se premierskandidaat in die Oos-Kaap, sê in ’n verklaring daar was in drie Karoo-dorpe in dié munisipale gebied Donderdag kragonderbrekings.

Volgens hom het die munisipaliteit, wat sowat R95 miljoen skuld, nie by die skuldooreenkoms gehou wat glo in Oktober met die kragverskaffer gesluit is nie.

Kragonderbrekings in Willowmore, Steytlerville en Jansenville het Donderdagoggend begin. Die krag was tussen 06:00 en 09:00 af, terwyl nog onderbrekings vir tussen 17:00 en 20:30 beplan is. Oor die naweek sal die krag tussen 08:30 en 12:00 af wees, en weer van 15:00 tot 19:00.

Dié skedule sal die volgende week voortgaan, waarna die kragonderbrekings in week 2 sal toeneem en die dorpe 14 uur per dag geen krag sal hê nie.

Die kragonderbrekings sal dan daagliks van 06:00 tot 20:00 duur.

Eckhard Deyzel, eienaar van Deyzel Vleismark in Jansenville, is baie bekommerd oor die kragonderbrekings.

“Dit sal ons beslis raak. Ons is in die vleisbedryf, al ons produkte moet koud gehou word en ons het krag nodig om die vleis te verwerk.”

Steytlerville in die Oos-Kaap. Foto: Rudi Venter

Hoewel hy ’n kragopwekker het, sal dit te duur wees om dit die hele dag te gebruik. “As die krag die hele dag af is, sal ek nie my deure kan oophou nie.”

Pepi van der Merwe, sakeman van Willowmore, wat ses ondernemings op die dorp het en werk aan tussen 50 en 60 inwoners verskaf, sê hy is “uiters teleurgesteld” in die munisipaliteit oor die kragonderbrekings.

“Ons het kragopwekkers, maar dit kos baie geld. Die produksie gaan tot niet– en dis die personeel wat eerste hieronder ly.”

Hy wonder waar dié geld tussen die munisipaliteit en Eskom verdwyn. “Ons betaal belasting en krag, en dan is dít die soort diens waarmee ons tevrede moet wees.”

Ook Johan Trollip, bestuurder van die Royal Hotel in Steytlerville, sê as die kragonderbrekings voortduur, sal die hotel sy spyskaart moet inperk en personeel se ure moet aanpas om die stryk en wasgoed te behartig wanneer die elektrisiteit wel aan is.

“Ons sal oopbly sover ons kan, dit gaan net beplanning verg. Maar dit is die gemeenskap wat die grootste impak van kragonderbrekings sal ervaar.”

Volgens Bhanga bedreig die kragonderbrekings nie net sakelui se voortbestaan nie, maar ook die lewering van basiese dienste.

“Die pompe vir water en riool kan nie sonder elektrisiteit funksioneer nie. Hospitale en klinieke sal nie gesondheidsdienste kan verskaf nie. Kinders sal noodgedwonge in donker klaskamers sit.”

Pepi van der Merwe, sakeman van Willowmore. Foto: Mariska Spoormaker

Bhanga sê die DA het verskeie voorstelle by die raad ingedien, wat onder meer insluit dat die infrastruktuur aan Eskom verkoop word, maar die ANC weier om dit te doen.

Wilca Smith, waarnemende munisipale woordvoerder, het by navraag gesê die situasie word deur die LUR van finansies en die LUR van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) in die Oos-Kaap hanteer, en die munisipaliteit sal nie nou kommentaar lewer nie.

Mamkeli Ngam, Oos-Kaapse woordvoerder van Cogta, het in reaksie gesê die departement weet van die situasie en dit geniet aandag.

Intussen het dr. Eddie Rankwana, munisipale bestuurder, ’n kennisgewing uitgereik waarin hy die inwoners inlig dat die onderhandelings met Eskom deur die LUR’e van finansies en Cogta oorgeneem is.

Eskom het Donderdag gesê die kragonderbrekings sal voortduur tot ’n ooreenkoms bereik word om die skuld te verhaal.

Meer oor:  Eskom  |  Nqaba Bhanga  |  Oos-Kaap  |  Beurtkrag  |  Krag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.