Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Krag: Tshwane kan boete van R3,5 miljard kry

Die DA-beheerde Tshwane-metro kan ’n boete van tot R3,5 miljard opgelê word omdat hy die afgelope week voortgegaan het met kragtariefverhogings wat nie deur die energiereguleerder (Nersa) goedgekeur is nie.

Dit blyk uit hofstukke van AfriForum, wat Nersa probeer dwing om teen Tshwane op te tree. Die Elektrisiteitsreguleringswet maak voorsiening vir ’n boete van R2 miljoen of 10% van Tshwane se omset van R35 miljard, watter een ook al die hoogste is.

Boonop is daar druk op Lebogang Maile, die Gautengse LUR verantwoordelik vir munisipaliteite, om die metro onder administrasie te plaas.

Dít sal ’n reuseverleentheid vir die DA wees indien die provinsiale regering van die ANC ingryp.

Maile het Saterdag aan Rapport bevestig dat hy die versoek vir administrasie van die Tshwane Money Matters-koukus onder leiding van Lex Middelberg, voormalige DA-raadslid, gekry het.

Hy oorweeg die versoek, maar sê dit sal net as ’n laaste uitweg gebruik word.

Tshwane moet hul tarief-debakel ook Dinsdag in die hof verduidelik in ’n dringende hofaansoek van AfriForum om Nersa te dwing om teen die metro op te tree en die verhogings te keer.

AfriForum vra dat die metro beveel moet word om die ou tariewe wat tot 30 Junie gegeld het te hef, aangesien dit voorheen wel deur Nersa goedgekeur is.

Rapport het vroeër onthul dat die kragtariewe wat Tshwane in sy begroting in Mei goedgekeur het, veral klein huishoudings swaar gaan tref, met rekeninge wat tot met 80% kan styg. Dit is weens drastiese strukturele veranderinge en die instel van vaste heffings wat betaalbaar is voor enige krag nog verbruik is.

Dit het intussen aan die lig gekom dat ook eienaars van landbouhoewes en plaasgrond swaar getref sou word. Herverkopers van elektrisiteit wat aan sowat 150 000 huishoudings in residensiële komplekse in die stad verkoop, se sakemodel is boonop deur drastiese verhogings in hul aankooptariewe vernietig, het die vereniging vir die herverkopers van elektrisiteit (Erasa) aan Rapport gesê.

Hoewel die metro aanvanklik heftig ontken het dat daar fout is met sy kragtariewe, het hy inderhaas op 27 Junie die vaste maandelikse heffings vir residensiële gebruikers van die goedgekeurde R200 na R56 verlaag in ooreenstemming met wat gedurende die openbare deelname vir die goedkeuring van die metro se begroting voorgestel is.

Die vaste heffing vir landbouhoewes en plaasgrond is verlaag van R610 na R250 per maand.

Volgens Erasa los dit nie sy lede se probleme op nie en AfriForum voer in hofstukke aan dat die tariewe steeds klein verbruikers in besonder benadeel.

Tshwane het ten spyte van al die besware en gebrek aan Nersa-goedkeuring voortgegaan met die verhoging op 1 Julie. Dít het huishoudings wat voorafbetaalde krag koop onkant betrap toe R64 (die R56 plus BTW) van hul eerste kragaankope vir die maand ingesluk is sonder dat hulle enige krag daarvoor gekry het.

Meer oor:  Lebogang Maile  |  Pretoria  |  Nersa  |  Tariefverhogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.