Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Kragaankope: W-Kaap is bly, maar soek meer inligting

Die Wes-Kaapse regering verwelkom pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging in sy staatsrede oor die gebruik van aanvullende kragbronne, maar dring aan op spesifieke tydsraamwerke en sorgvuldige beplanning.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het Vrydag op ’n geleentheid vir diplomate by Leeuwenhof in Kaapstad gesê dié aankondiging is iets “waarvoor ons as ’n streek al so lank werk, saam met al ons munisipaliteite”.

“Die kragtekort waarmee ons worstel, het nie begin toe fase ses-beurtkrag onlangs ingestel is nie, maar tien jaar gelede al. Die president se aankondiging oor onafhanklike kragverskaffing bied verskeie en reusegeleenthede.”

Die gebruik van aardgas kan veral groot voordele vir die Wes-Kaap inhou en Winde sê hy hoop beleggers sal ook aangespoor word om in ander kragbronne te belê.

“Dit is egter nie ’n skakelaar wat ons net kan aansit nie, dit gaan langtermynbeleggings en beplanning verg.”

Ramaphosa het Donderdag in sy staatsrede bekend gemaak dat ’n bepaling ingevolge art. 34 van die Wet op Kragregulering uitgereik sal word om die ontwikkeling van bykomende opwekkingsvermoë moontlik te maak. Dit sal die gebruik van hernubare krag, aardgas, batteryberging en steenkool insluit aan die hand van die geïntegreerde hulpbronplan van 2019.

Lees ook: Beurtkrag bly, maar Eskom kry nie pensioengeld

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, spreek diplomate Vrydag toe by Leeuwenhof, Kaapstad. Foto: Malherbe Nienaber

Munisipaliteite wat finansieel goed presteer, sal ook toegelaat word om krag van onafhanklike kragprodusente te verkry.

David Maynier, LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede. Foto: Malherbe Nienaber

Verder sal noodkrag van projekte verkry kan word en aanvullende kragkoopooreenkomste onderhandel word om bykomende vermoë van bestaande wind- en sonkragaanlegte te bekom.

Pres. Cyril Ramaphosa lewer Donderdag die staatsrede. Foto: Jaco Marais

Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) sal voortgaan om kleinskaalse kragopwekking van minder as een megawatt (MW) te registreer, met geen lisensie wat daarvoor vereis word nie.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad. Foto: Jonathan Lestrade/Son

Nersa sal ook seker maak dat alle aansoeke van kommersiële en nywerheidsgebruikers om hul eie krag van meer as 1 MW op te wek binne 120 dae verwerk word, het Ramaphosa gesê.

‘Dis tyd vir aksie’

Winde sê hoewel die provinsiale regering tevrede met die aankondigings is, hoop hy om meer besonderhede in die begrotingsproses te sien oor presies hoe dit in werking gestel gaan word.

“Oor baie van dié projekte praat ons al vir ’n ruk lank en dit is nou tyd om van woorde na aksie oor te beweeg.”

Daar bly ook vrae oor of munisipaliteite die krag wat hulle van onafhanklike kragverskaffers verkry, sal mag verkoop, want andersins sal dit net vir hul eie gebruik aangewend kan word, volgens Winde.

Hy sê die provinsiale regering staan gereed om munisipaliteite by te staan met projekte vir kragopwekking en die aankoop van krag van onafhanklike kragverskaffers.

Ramaphosa se aankondiging dat R1,4 miljard toegewys gaan word om die sentrale spoorlyn in Kaapstad op te knap, is ook verwelkom. Winde sê dit is bemoedigend dat die president dié kwessie ernstig opneem.

Gegewe die Passasierspooragentskap (Prasa) se “uiterse wanbestuur van die treindienste en swak regering”, het Winde ’n beroep gedoen dat dié bedrag nie regstreeks aan Prasa oorgeplaas word nie sodat dit behoorlik bestuur kan word.

Volgens Winde bied dit ’n geleentheid vir die provinsiale en plaaslike regering om saam met die nasionale regering te werk om treindienste te verbeter en seker te maak projekte word betyds afgehandel.

Die Wes-Kaapse regering het al voorheen geëis dat hy die bestuur van treindienste in samewerking met die Kaapse metroraad moet kan oorneem.

Aankondiging ‘kan die spel verander’

David Maynier, LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, het ook gesê die aankondiging oor bykomende kragbronne was die hoogtepunt van die staatsrede.

“Ja, hy het nie ver genoeg gegaan nie en daar was geen tydlyn vir inwerkingstelling nie, maar die aankondiging kan nietemin moontlik die spel verander.”

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het in ’n verklaring gesê hy is verheug dat munisipaliteite uiteindelik krag van onafhanklike verskaffers sal mag koop, “maar ons kort tasbare besonderhede en ’n tydlyn wat duidelik uiteengesit is”.

“Wye opmerkings gaan nie voldoende wees in dié ernstige situasie nie, wat toegeskryf kan word aan Eskom en die nasionale regering se versuim om kragverskaffing doeltreffend te bestuur. Die Kaapse metroraad is gretig om ons inwoners te help om die voortdurende beurtkrag te oorleef, maar ons soek so gou moontlik besonderhede sodat ons by onafhanklike verskaffers kan begin koop.”

Wat die belegging van R1,4 miljard op die sentrale spoorlyn betref, het Plato gesê Kapenaars verdien om te weet wanneer hulle weer sal kan staatmaak op veilige en doeltreffende treindienste.

Deidré Baartman, DA-woordvoerder oor finansies en ekonomiese geleenthede in die Wes-Kaap, het Vrydag ook die “lank agterstallige” onderneming dat munisipaliteite krag van onafhanklike verskaffers mag koop, verwelkom.

“Dit sal die afhanklikheid van Eskom verminder en vir ’n veerkragtiger en volhoubare kragnetwerk sorg met die gebruik van skoner krag.”

Volgens Baartman het meer as 80% van munisipaliteite in die provinsie wetgewing deurgevoer om krag van onafhanklike bronne te verkry.

Sy het ’n beroep gedoen dat vloeibare aardgas (LNG) by Saldanhabaai se hawe ingevoer word en Eskom se dieselkragstasies na aardgas omgeskakel word om geld te bespaar.

Meer oor:  Eskom  |  Alan Winde  |  Dan Plato  |  David Maynier  |  Cyril Ramaphosa  |  Kragaankope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.