Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Kragbesluit ‘kan Sol Plaatje ruïneer’

Die besluit wat die Sol Plaatje-stadsraad Donderdag in Kimberley geneem het om die omstrede nuwe tariefstruktuur vir elektrisiteit voorlopig uit te stel, kan die munisipaliteit finansieel ruïneer.

Hoewel sy party saam met die ANC en ander partye vir dié opskorting gestem het, het hy met nabetragting besef die besluit kan onbedoelde nadelige gevolge inhou, sê Wynand Boshoff, Vryheidsfront Plus-leier in die raad.

Wynand Boshoff Foto: Charné Kemp

Die beleid is tydelik opgeskort ná Woensdag se massabetoging deur ontevrede inwoners.

Ingevolge dié beleid sou die basiese beskikbaarheid van elektrisiteit afsonderlik van kragverbruik gehef word.

Inwoners sou daarom veel minder per eenheid vir elektrisiteitsverbruik betaal as voorheen, toe die tariewe gekombineer was.

Ingevolge die nuwe beleid moet inwoners benewens hul kragverbruik, ’n bykomende R260 vir die basiese beskikbaarheid van elektrisiteit betaal.

Die ontevrede inwoners weier om R260 te betaal.

Boshoff sê die munisipaliteit moet ingevolge die jongste raadsbesluit noodgedwonge net ’n verminderde tarief vir kragverbruik vra, sonder dat inwoners dié bedrag vir die beskikbaarheid van of toegang tot elektrisiteit betaal.

“Die munisipaliteit se aanvanklike beleidsbesluit was om van 1 Julie die verbruikstarief vir elektrisiteit van die basiese beskikbaarheidsheffing te skei.

“Dit sou beteken dat die prys per krageenheid aansienlik van R1,95 tot 91c (vir die eerste 50 eenhede) sou daal.”

Verbruikers sou dan ’n afsonderlike bedrag van R260 as ’n beskikbaarheidsheffing per maand betaal, wat nie meer gaan gebeur nie.

“Inwoners betaal dus nie die heffing waarmee die munisipale kragnetwerk in stand gehou moet word nie.

Hulle sou dus ’n aansienlike prysdaling ervaar het, omdat hulle net die laer eenheidstarief hoef te betaal.

“Die vraag is of mense wat vir ’n maand of twee laer pryse betaal, bereid sal wees om later meer te betaal.”

Hy sê ontevrede inwoners het egter die R260 as ’n bykomende tarief tot bestaande tariewe beskou, wat nie so is nie.

“Ingevolge die beleid wat tydelik laat vaar is, sou huishoudings wat weens armoede vrygestel is, buitendien nie die R260-beskikbaarheidsheffing betaal het nie.

“Hulle sou dus ’n aansienlike prysdaling ervaar het, omdat hulle net die laer eenheidstarief hoef te betaal.”

Die begroting maak voorsiening dat pensioentrekkers met ’n huishoudelike inkomste van minder as R130 000 per jaar 60% afslag op eiendomsbelasting kan kry.

Sy party beywer hom reeds verskeie jare daarvoor dat munisipaliteite sonkrag moet gebruik om inwoners geld te bespaar.

Hy het ’n voorstel gemaak dat ondersoek gedoen moet word oor ’n plan om met sonpanele die dakke van huise en munisipale geboue in ’n “slim kragvoorsieningsnetwerk” te verbind, wat inwoners en die munisipaliteit geldelik kan baat.

Meer oor:  Anc  |  Kimberley  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.