Kabeldiefstal het veroorsaak dat groot dele van die ooste van Pretoria Maandag sonder krag sal bly ten spyte daarvan dat die herstelde Wapadrand-substasie weer krag voorsien.
Talle woongebiede is al langer as ’n week sonder krag nadat dié substasie verlede Dinsdag in ’n brand verwoes is.
Die substasie is herstel en die Tshwane-metro het dit Maandag aangeskakel.

Die toerusting in die Wapadrand-substasie is vernietig.
Maar kragkabels is kort tevore by die Koedoeberg-substasie in ’n diefstalpoging beskadig, sê Ernst Botha, DA-raadslid. “Die kabels moet nou eers herstel word voordat die krag aangeskakel kan word.”
Die buurte wat wel krag het omdat die stukkende kabels hulle nie raak nie, is die ooste van Faerie Glen, Olympus, Lombardy en Tyger Valley, luidens ’n verklaring deur die Tshwane-metro.
Die Wapadrand-substasie voorsien krag aan die Koedoeberg-substasie, wat op sy beurt krag aan gedeeltes van Wapadrand, Silver Lakes en Equestria verskaf.
Die metro sê dié buurte sal “hopelik” Dinsdag krag hê.
Inwoners wat die afgelope week deur die kragonderbreking geraak is, moes inderhaas ander planne maak.
Wim Slabbert, afgetrede dominee van Faerie Glen, sê gasstofies was baie inwoners se redding. Die meeste mense het by familie of vriende in die omgewing gaan was en stort.
Carina Vermooten, ’n inwoner van Equestria, sê sy en haar man het saans bordspeletjies by kerslig gespeel. “Kerse is net romanties as jy weet jy kan die lig weer ná die tyd aanskakel,” skerts sy.

Brandbestryders dra sinkplate uit nadat die dak van die substasie ingestort het. Foto: Verskaf
Sy het haar selfoon telkens in die motor en by haar werkplek gaan laai.
“Ons het die afgelope week omtrent by al die kitskosrestaurante in die omgewing gaan eet omdat ons nie kos kon maak nie.” Die meeste restaurante het kragopwekkers.
Lana Kruyshaar, wat in Newlands woon en krag gehad het, het van Sondagaand af tuisgemaakte burgers en slaptjips aan diegene sonder krag verkoop.
Volgens Annamarie Esterhuyse (62) van Faerie Glen was sy bang om in haar huis te slaap omdat die woongebied saans donker was. “Sonder krag werk jou alarmstelsel ook nie en in die aande kan jy nie slaap nie oor al die kragopwekkers wat raas.”
Liela Magnus sê sy is moedeloos en raadop oor die krag. “Jy kan nie hare droogblaas, in warm water bad of stryk sonder krag nie.”