Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Kragvoorsiening aan Gauteng hang net aan los kabels

Die hele Gauteng se kragtoevoer is vroeër vandeesmaand bedreig toe ’n groep betogers wat vies is omdat hul onwettige elektrisiteitsaansluitings afgesny is, Eskom se provinsiale “senuweesentrum” beset het.

Lemmetjiesdraad om talle kragpale in Winterveld is veronderstel om onwettige kragaansluitings te keer. Voëls maak nes in die bondels lemmetjiesdraad. Foto’s: Deon Raath

Die besetters, almal inwoners van Winterveld, noordwes van Pretoria, het die sentrum, wat 24 uur van die dag bedryf word, oornag beset nadat die polisie aanvanklik geweier het om die besetters sonder ’n hofbevel te verwyder. Eskom kon die dringende uitsettingsbevel eers die volgende dag kry, waarna die polisie die groep weggejaag het.

Luidens Eskom se hofstukke het sowat 20 betogers op 2 Julie met ’n lang lys griewe oor hul kragonderbrekings by sy distribusiesentrum in die Menlyn-kantoorpark opgedaag en ’n vergadering met Eskom se bestuur geëis.

Thomas Tshabalala, Eskom se distribusie-veiligheidsbestuurder in Gauteng, sê Menlyn is die Gautengse “senuweesentrum” vir kragverspreiding van waar tegnici moet sorg dat die provinsie se ligte aan bly.

Daar is meer as 400 000 onwettige aansluitings in formele woonbuurte.

Nadat Eskom-bestuurders nie wou toegee aan die betogers se eise dat hul onwettige aansluitings weer herstel word nie, het hulle sekere Eskom-bestuurders verjaag en die sentrum oornag beset.

Tshabalala sê die polisie het dit duidelik gemaak hulle kan nie die besetters uit geboue sit sonder ’n hofbevel nie. Boonop het die besetters gedreig dat nog mense met busse na Menlyn aangery gaan word. Sonder ’n uitsettingsbevel sou die Menlyn-kantoor moes sluit en Gautengse inwoners, hospitale, howe, staatsgeboue, ouetehuise, skole en tronke sou sonder krag wees gedurende die jaar se koudste maand, het Tshabalala in hofstukke verklaar.

Eskom het die afgelope week in ’n verklaring gesê kragonderbrekings in Gauteng kom al hoe meer voor weens die onwettige tap van krag wat sy toerusting oorlaai. Dit veroorsaak ook dat transformators en mini-substasies breek.

Die waghuisie in die oop binnehof van Eskom se Gautengse verspreidingskantoorkompleks in Menlyn, Pretoria.

Eskom het aan Rapport gesê in Gauteng is daar meer as 400 000 onwettige aansluitings in formele woonbuurte. Dit sluit nie die onwettige verbindings in informele nedersettings in nie.

Eskom sê net in Winterveld is 24 beskadigde transformators sedert Januarie teen ’n koste van R2 miljoen vervang. Onwettige aansluitings en omseilde kragmeters in Winterveld lei tot ’n gemiddelde verlies van 9,9 GWh elektrisiteit ter waarde van sowat R10 miljoen per maand.

Tshabalala sê inwoners van Winterveld het ook op 19 en 26 Junie by die kliëntedienssentrum in Ga-Rankuwa (wat Winterveld dien) opgedaag en die perseel geplunder en personeellede aangerand.

Die sentrum, wat rekeningnavrae hanteer en tegnici uitstuur om kragprobleme op te los, is steeds vir die publiek gesluit. Daar werk sowat 30 personeellede.

In Winterveld is talle afgesnyde kragkabels wat aan kragpale hang.

Eskom sê dit sal gesluit bly totdat dit veilig is vir sy personeel om terug te keer.

’n Hekwag by dié sentrum het die afgelope week aan Rapport gesê die personeel, wat by die huis is, is bang vir die betogers. Die betogers toi-toi steeds van tyd tot tyd buite op die sypaadjie.

Eskom het die afgelope week in ’n verklaring gesê hy gaan nie die krag herstel na Gautengse gebiede wat herhaaldelike onderbrekings het weens onwettige aansluitings nie. Net die wettige en betalende kliënte in dié gebiede se krag sal herstel word, maar dan moet die gemeenskap die tegnici veilige toegang gee om oudits van die aansluitings te doen en dit te verwyder.

“As ons nie die oudits doen nie, loop ons die risiko van voortgesette kragonderbrekings sonder om die oorsaak op te los. In sekere gebiede word tegnici nie toegelaat om die oudits te doen nie.”

In sulke gevalle hou die onderbrekings nie op nie en om die toevoer te herstel, is ’n nuttelose taak, sê Eskom.

Die bevel wat die hooggeregshof in Pretoria op 3 Julie uitgereik het, verbied betogers om weer die provinsiale distribusiesentrum in Menlyn óf die diens in Ga-Rankuwa te betree en Eskom-personeellede te dreig.

Meer oor:  Elektrisiteit  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.