Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Krane toe, ligte af in Bloem – en waterkrisis tref Qwaqwa

Bloemfonteiners kan binne dae deels sonder krag en water sit.

Enersyds dreig Eskom om die krag in die Rosestad bedags oor wanbetaling te ontkoppel, en andersyds dreig Bloemwater om die stad se water om dieselfde rede toe te draai.

Boonop het watersuiwering by die Maselspoortaanleg, wat die noorde van die stad van water voorsien, Maandag weens die droogte en wanbetaling tot stilstand gekom.

Die Caledonrivier, die hoofbron van waterlewering aan Bloemfontein, het gaan staan.

Intussen heers ’n noodtoestand oor water in Qwaqwa in die Oos-Vrystaat. Dié bevolking van meer as 300 000 mense is vir 80% van hul waterbehoeftes van die Fika Patso-dam afhanklik, maar die damvlak staan nou op onder 10%. Dit bring mee dat water nie meer uit die dam gepomp kan word nie.

Inwoners versoek dat die weermag se hulp ingeroep word.

Rossouw Botes, DA-raadslid van die Mangaung-metro, sê die Mockesdam wat die Maselspoortaanleg van water moet voorsien, is bykans dolleeg. Gevolglik is die aanleg Maandagoggend afgeskakel.

Dit is nadat adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder, verlede week gesê het hy het R40 miljoen betaal om onverwerkte water vir die Mockesdam (en dus die aanleg) vrygelaat te kry. Hy wou nie Maandag reageer op vrae hieroor nie.

“Ek het weer vandag ’n bedrag betaal, maar gaan nie bedrae noem nie.”

Die afskakeling van die aanleg bring mee dat die reservoirs in die noorde van die stad binne ’n dag of twee leeg kan loop.

Volgens Botes is dit omdat Bloemwater nog nie water uit die Rustfonteindam vir die Mockesdam losgelaat het nie. “Bloemwater sê hulle kan nie water uit die Rustfonteindam loslaat nie omdat die metro hom die laaste klomp maande nie vir water betaal het nie.”

Sou water losgelaat word, kan dit twee tot drie dae neem voordat die water die Maselspoortaanleg bereik. Om die aanleg weer in bedryf te stel, kan egter nog ’n dag in beslag neem.

Botes sê die Arboretum-reservoir waaruit inwoners van die noorde van die stad water ontvang, het Maandag op 72% gestaan.

Adriaan de Bruyn, VF Plus-raadslid, sê Mangaung moes al maande gelede strenger waterbeperkings ingestel het. “Dit is belaglik dat die metro se topbestuur nie van die krisis by Maselspoort geweet het nie. Hulle was onbewus daarvan dat die Mockesdam opgedroog het en dat die Caledonrivier nie meer loop nie.

“Toe ons verlede Woensdag vir Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester, hieroor gebel het, het sy van niks geweet nie.”

Intussen het Eskom Maandag ’n kennisgewing uitgereik dat hy die Mangaung-munisipaliteit (Bloemfontein, Thaba Nchu, Botshabelo, Dewetsdorp, Vanstadensrus en Wepener) se krag van 3 Desember bedags van 06:00 tot 20:00 wil ontkoppel. Dit is omdat die munisipaliteit se kragverspreider, Centlec, nie sy afbetalingsooreenkoms met Eskom eerbiedig het nie.

Dit geld ook Mafube (Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling) en Mantsopa (Dawiesville, Excelsior, Ladybrand en Tweespruit).

Om dit te verhinder sal die munisipaliteite betyds hul rekenings moet betaal, of oor nuwe afbetalingsooreenkomste met Eskom moet onderhandel.

Centlec het in ’n verklaring gereageer volgens sy rekords is die lopende rekening al wat agterstallig is.

’n Vergadering word Donderdag tussen die partye gehou om die saak te bespreek.

“Centlec wil graag sy Mangaung-kliënte verseker dat alles moontlik gedoen sal word om die ligte aan te hou.”

* Blake Lefatola, administrateur van die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit (Qwaqwa, Harrismith en Kestell), wat tans deur ernstige waternood in die gesig gestaar word, het Maandag in die Vrystaatse wetgewer gesê daar is tans 25 boorgate waarvan 15 met die hand gepomp word. 20 tot 30 tenkwaens vervoer daagliks water, maar die behoefte is vir 50.

Hy het gesê sy raad het 280 Jo-Jo-tenks gekry, maar net 180 is nog opgerig.

Lefatola het gesê ’n volhoubare oplossing is nodig, soos om water van die Sterkfonteindam of elders te verkry. Ongeveer vyf wyke word reeds met water uit dié dam gehelp. Plek-plek is daar natuurlike fonteine, maar die gehalte van dié water is volgens hom “bedenklik.”

Leona Kleynhans, DA-LW, het aan hom gesê vyf liter water per persoon per dag veroorsaaklik “onmenslike toestande”.

Lefatsola het geantwoord “sy kultuur is anders. Ons deel die water.”

Kleynhans het ná die vergadering gesê dat Thembeni Nxangisa, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), duidelik nie weet hoe om die ramp in Qwaqwa te hanteer nie.

Nxangisa het vroeër Maandag in die wetgewer gesê die uitvoerende komitee het die provinsie tot droogte-rampgebied laat verklaar en planne word opgestel om waterkrisisse te hanteer. Probleme word ook onder die nasionale regering se aandag gebring.

Kleynhans het gesê die DA gaan ’n forensiese oudit vra van al die enorme bedrae wat in die verlede vir Maluti-a-Phofung gegee is om boorgate te boor. Antwoorde oor ’n rampplan vir Qwaqwa gaan ook in die parlement gevra word.

Meer oor:  Bloemwater  |  Eskom  |  Krag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.