Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
KYK: Groente op sypaadjie moet waai, sê metro

Sy sonde: Hy het groente pleks van gras en blomme op sy sypaadjie geplant. Nou word ’n Pretorianer gedreig as hy nie die groente verwyder nie, sal die Tshwane-metropolisiediens (TMPD) teen hom optree.

Djo Bankuna is ’n inwoner van Theresapark in die noorde van Pretoria. Sy beproewing oor die groente op die sypaadjie het verlede Donderdag begin.

“Die metropolisie het aan my deur kom klop. Hulle het gesê ek mag nie groente op my sypaadjie plant nie. Ek is meegedeel die metro se verordening laat slegs gras en blomme buite toe, nie kool, uie en spinasie nie. Ek is beveel om by die metro aansoek te doen vir toestemming om die groente buite te plant of om dit te vervang met gras of rose of niks.”

Bankuna is die volgende dag metro toe.

“Ek het gehoor gegee, en aansoek gaan doen vir ’n groente-permit. Ek is daar weg sonder een, want niemand het geweet van so ’n munisipale verordening nie omdat dit nie bestaan nie. Die amptenare het selfs oor my versoek gelag.”

Djo Bankuna, ’n inwoner van Theresapark in die noorde van Pretoria, in sy groentetuin op die sypaadjie voor sy huis. Bankuna is deur die Tshwane-metropolisiediens aangeraai om die groente te verwyder en met gras of rose te vervang. Foto’s: Deaan Vivier

Ná sy besoek aan die metro is Bankuna in goeder trou na die metropolisie om terugvoer aan hulle te gee.

“Dit was ’n groot fout. Ek is meegedeel verordening of nie, dit word nie toegelaat nie. Of ek plant blomme en gras of niks.”

Bankuna is toe gedreig. As hy nie teen Dinsdag sy koolkoppe verwyder nie, sal hy in hegtenis geneem word.

“Ek is ’n wetsgehoorsame burger. As die verordening my verbied om dit te plant, sal ek gehoor gee. Indien nie, sal ek maar tronk toe moet gaan.”

Onbenutte sypaadjies gaan jou nie voed nie. Maar een waar daar groente geplant is, sal mense se honger mae vul.

Isaac Mahamba, woordvoerder van die TMPD, sê by navraag geeneen van hulle het inhegtenisneming genoem nie.

“Ons het deur sosiale media hiervan bewus geword. Ons het hom net gevra om aan die regulasies te voldoen.”

Volgens Mahamba het Bankuna padverkeerswet 96 van 1996 oortree deur groente op die sypaadjie te plant. Dit maak dit vir voetgangers moeilik om op die sypaadjie te loop.

Djo Bankuna met twee pampoene uit sy groentetuin.

Bankuna sê ’n paartjie het glo gekla oor sy groentetuin en dit lok glo rondswerwers en ongewenste karakters na die gebied.

“Op Donderdae gee ek uit my groentetuin kos vir mense wat die groot trollies met herwinbare materiaal stoot. Soms versper hulle die pad met hul trollies, maar ek beskou hulle nie as ongewenste karakters nie. Hulle voer ook maar net ’n bestaan.”

Bankuna sê hy plant al sedert 2019 groente – ook op ’n oop stuk grond oorkant sy huis wat aan die metro behoort.

“Nog nooit was dit ’n probleem nie. Ek word nie hierdeur verryk nie. Ek gee die groente vir my bure, vir diegene wat honger is. Niemand het nog ooit groente gesteel nie. Mense sal vra en ek gee.”

Sy vrou, Lorica, ’n maatskaplike werker, vat ook van die groente vir gesinne in Soshanguve wat dit nie so breed het nie.

Sy leuse is: “Jy koop groente en jy voed jouself. Jy plant ’n tuin, en jy voed ’n nasie.”

Ek word daarvan beskuldig dat ek opsetlik inmeng met die eiendom van die metro deur groente op my sypaadjie te plant. Ek moet binne 30 dae ’n boete van R1 500 betaal. Dit sal beteken ek het ’n misdaadrekord indien ek skuld beken.

Bankuna het ook sy buurman geïnspireer om op sy sypaadjie groente te plant.

“Ek is nie die eerste een wat groente op ’n sypaadjie plant nie. En sal nie die laaste een wees nie. Onbenutte sypaadjies gaan jou nie voed nie. Maar een waar daar groente geplant is, sal mense se honger mae vul.”

Bankuna het Dinsdagmiddag laat weet hy het ’n kennisgewing gekry om op 23 November in die munisipale hof in Wonderboom te verskyn.

“Ek word daarvan beskuldig dat ek opsetlik inmeng met die eiendom van die metro deur groente op my sypaadjie te plant. Ek moet binne 30 dae ’n boete van R1 500 betaal. Dit sal beteken ek het ’n misdaadrekord indien ek skuld beken.”

Bankuna sê hy gaan maar hof toe.

Djo Bankuna gee die groente wat uit sy tuin kom aan mense weg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.