Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
KYK: Kby-inwoners stel ultimatum

“Kyk, Mabilo is ook hier. Hy kruip soos ’n klein hondjie agter die premier weg,” het Tumelo Mosikare, ’n gemeenskapsaktivis van Kimberley, Donderdagoggend op die trappe van die premierskantoor gesê toe inwoners van die stad oor dienslewering betoog het.

Patrick Mabilo, uitvoerende burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit, het bekommerd agter dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, gestaan toe hulle uiteindelik ná ’n halfuur te voorskyn gekom het.

Hulle het uit die gebou gekom om inwoners van die stad, wat ’n optog van die Kemo-hotel na die premier se kantore gehou het, toe te spreek.

Inwoners van verskeie woonbuurte en affiliasies het aan die optog en betoging onder die vaandel van die Kimberley Action Group deelgeneem.

Hoewel die betoging vreedsaam verloop het, het ’n groep buitebande voor die hekke van die terrein van die premierskantoor aan die brand gesteek.

Patrick Mabilo, uitvoerende burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit, staan agter dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, voordat hulle die betogende inwoners toespreek. Hy is uitgejou omdat hy soos ’n “klein hondjie agter die premier wegkruip”. Foto: Anena Burger

Die polisie het dit egter vinnig geblus.

Kagiso Boyce Makodi (27), stigter van die Kimberley Action Group, sê hy is bly Saul en Mabilo het die inwoners uiteindelik te woord gestaan en hul griefskrif onderteken en ontvang.

“Ons het die premier en die uitvoerende burgemeester voor ’n ultimatum gestel en hulle sewe dae gegee om te reageer.

“Dit is egter nie genoeg vir die gefrustreerde gemeenskappe nie. Hulle soek dadelik optrede en verandering – en dit kan ek verstaan. Geen mens kan in hierdie toestande bly lewe nie.”

Saul en Mabilo het aandagtig en oor Makodi se skouer saamgelees toe hy die eise van die griefskrif aan die gemeenskap voorgelees het.

Saul het gesê hy sal graag binne 24 uur met die gemeenskapsleiers vergader, soos hulle in die griefskrif versoek het.

Inwoners van Kimberley het Donderdag ’n optog na die premierskantoor gehou oor hul ontevredenheid oor gebrekkige dienste en waterlewering in die stad. Foto: Anena Burger

Makodi sê die leiers het egter hierteen besluit en versoek dat die premier en Mabilo eerder die munisipaliteit se aksieplan teen Vrydag om 15:00 aan die gemeenskap onthul.

“Ons hou nie van die idee van ’n vergadering agter toe deure nie. Ons wil nie hê die gemeenskap moet dink ons het saam met die premier tee gedrink en is omkoopbaar nie.

“Hulle het ’n duidelike plan en om deursigtig te wees moet hulle dit aan die inwoners van Kimberley onthul.”

Die griefskrif eis onder meer dat prysstygings vir dienste onmiddellik opgeskort word, dat die watertoevoer na alle gemeenskappe in Kimberley onmiddellik herstel word, dat dienste dadelik en doeltreffend gelewer word, dat die begroting en projekplan van R500 miljoen wat die premier onlangs aangekondig het, binne sewe dae op die Sol Plaatje-munisipaliteit se webtuiste gelaai word, en dat daar afgesien word van alle voornemens om die prys van elektrisiteit in Julie 2021 te verhoog.

Die inwoners het ook geëis dat die burgemeesterskomitee onmiddellik verander en geen van die huidige lede behou word nie.

Water is ’n mensereg, het ’n inwoner se plakkaat gelees. Foto: Anena Burger
“Geen water, geen stem,” lui een van die vele plakkate. Foto: Anena Burger
’n Paar buitebande is in die straat voor die premierskantoor aan die brand gesteek, maar die polisie het dit gou geblus. Foto: Anena Burger

Meer oor:  Patrick Mabilo  |  Dienslewering  |  Kimberley
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.