SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Munisipaliteite
KYK: Stinkende Coligny vra MRK, polisie se hulp

Coligny stink na riool Inwoners van Coligny, Noordwes, gaan die Menseregtekommissie (MRK) en polisie nou vra om in te gryp by jare lange probleme met riool wat in strate afloop en gebrekkige watervoorsiening.

Dié inwoners van die Tlhabologang-township by Coligny neem water in kruiwaens na hul woonbuurt omdat die krane daar ook droog is. Foto: JJ Smit.

Dié voortslepende probleme het die laaste maande weer ’n laagtepunt bereik. Die dorp het ’n suigtenkstelsel waar onbehandelde riool uit septiese tenks gesuig en na die rioolplaas geneem behoort te word. Die rioolstelsel loop egter gedurig oor, ook in die dorp se hoofstraat, omdat dit nie gereeld gedoen word nie.

JJ Smit, ’n pensioentrekker, sê Coligny het al vir drie maande geen behoorlike riooldienste nie en die krane in hoogliggende dele is droog. “Die dorp is gehawend, dit gaan beroerd hier. Hier word al jare niks gedoen nie. Ek ry self water uit my boorgat met ’n private tenk na mense aan en help riooldreine leegsuig. Die munisipaliteit moes onlangs ’n vragmotor huur om te kon bykom om ’n kragpaal te herstel. Die probleem is wyd, ook die Tlhabologang-township sit sonder water.”

JJ Smit van Coligny en Jacob Tlhakanje suig een van die riooldreine leeg met Smit se private toerusting. Foto: Verskaf

Cobus van Tonder, ’n plaaslike inwoner en sakeman, het Donderdag gesê inwoners is besig om ’n petisie op te stel, met foto’s en ander bewysstukke van die haglike omstandighede aangeheg. Hulle wil daarmee strafregtelike klagte by die polisie indien en MRK toe gaan.

Inwoners se frustrasies blyk uit boodskappe soos dié op plaaslike WhatsApp-groepe: “Nou net weer . . . gebel vir ’n k*ktrok. Wragtag dis bo blink en onder stink. Wat help verf en plante die dorp vol, maar die munisipaliteit donner uit mekaar uit????”

Dié inwoner verwys na die Coligny Vorentoe-projek.

Jacob Tlhakanje by JJ Smit se private toerusting waarmee hy inwoners in Coligny help om hul riooldreine leeg te suig. Foto: Verskaf

’n Ander inwoner skryf: “My arme man moes nou laas dit (onbehandelde riool) met emmers uitskep.”

Ds. Tewie Pieters, plaaslike NG predikant en voorsitter van die Coligny Vorentoe-beweging, sê buiten die opknap- en verfwerk wat hulle in die dorp doen, is die beweging ook aan die onderhandel met die munisipaliteit om diensprobleme te probeer oplos.

“Weermagvragmotors help nou deur ons toedoen om dreine leeg te suig, maar hulle kom nie oral uit nie. Ons hulpbronne is ook beperk. Ons vergader volgende week met die munisipale bestuurder oor ’n moontlike saamwerkooreenkoms met die munisipaliteit.

“Indien dit nie help nie, gaan ons na die LUR vir plaaslike regering in Noordwes en ingenieurs (wat die nasionale regering hierheen ontplooi het as deel van die administrasieproses in Noordwes). Ons het ook reeds ’n oop deur na die premier (dr. Job Mokgoro).”

Pieters sê sodra ’n formele saamwerkooreenkoms met die munisipaliteit gesluit is, sal die Vorentoe-beweging toegang kry tot meer hulpbronne en skenkings om onder meer self stukkende boorgatpompe te herstel.

Pius Batsile, munisipale woordvoerder van die Ditsobotla-munisipaliteit wat die Coligny- en Lichtenburg-omgewing bedien, sê die distriksmunisipaliteit is besig om stukkende boorgatpompe te herstel, en hulle sal toesien dat die weermag so gou moontlik weer dreine leegsuig.

Inwoners het met die Coligny Vorentoe-projek begin nadat erge rassespanning in die dorp ontstaan het toe Matlhomola Moshoeu (16) in April 2017 dood is. Phillip Schutte (34) en Pieter Doorewaard (27) is in Oktober vanjaar skuldig bevind aan die moord op die tiener, nadat regter Ronald Hendricks in die Mmabatho-hooggeregshof bevind het hulle het Moshoeu van ’n bewegende bakkie gegooi. Hulle het dit ontken en beweer die seun het van die bakkie gespring toe hulle hom polisiekantoor toe wou neem nadat hy sonneblomme gesteel het op die plaas naby Coligny waar hulle gewerk het.

Meer oor:  Menseregtekommissie  |  Coligny  |  Hulp  |  Riool  |  Weermagvragmotors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.