Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
KZN-waterkrisis: Geen einde in sig
Stakende munisipale werkers by die Ugu-distriksmunisipaliteit is glo die rede vir die waterkrisis hier. Foto: Verskaf

Daar is geen einde nie aan die stakings in die Ugu-distrik aan die KwaZulu-Natalse suidkus, met stakers wat eis dat meer as 100 munisipale werkers heraangestel word.

George Henderson, ’n plaaslike raadslid, het Woensdag bevestig dat 122 munisipale werkers sedert Desember afgedank is.

Lede van die vakbond vir munisipale werkers, Samwu, staak al sedert Januarie. Hulle eis onder meer die munisipale bestuurder se kop.

Samwu swyg

Die stakings lei daartoe dat sommige inwoners in dié distrik al minstens twee weke sonder water sit. Van die inwoners se watertoevoer is wel Maandag herstel.

Intussen sê die munisipaliteit hy het klagte teen die stakers aanhangig gemaak oor vandalisme, diefstal en die beskadiging van munisipale eiendom.

Samwu se provinsiale verteenwoordiger het nie sy foon geantwoord toe Netwerk24 hom genader het vir kommentaar nie.

Die munisipaliteit het vroeër in ’n verklaring gesê hy werk dag en nag om inwoners se klagtes te hanteer en om ’n skikking met die werkers te bereik.

Volgens ’n verklaring op 21 Januarie het Ugu nege vakbondverteenwoordigers afgedank nadat hulle op 11 Desember ’n interne dissiplinêre verhoor ontwrig het.

Nóg werkers is hierna afgedank – wat aanleiding tot die staking gegee het.

Ugu swyg (ook)

Die munisipaliteit het nie Netwerk24 se navrae beantwoord oor bewerings dat hy uitgelewer is aan die institusionele kennis van die stakers nie. Dit volg nadat ’n brand na bewering ’n paar jaar gelede munisipale planne vir pypleidings in die wiele gery het. Die stakende werkers is glo die enigste mense wat weet waar die krane is.

France Zama, munisipale woordvoerder, sê om op Netwerk24 se “kwaadwillige” medianavrae te reageer sal hul aandag aflei van die uitdagings waardeur die munisipaliteit in die gesig gestaar word – die stakings.

Volgens Henderson is die munisipaliteit se grootste uitdaging egter nié die stakings nie, maar eerder wanadministrasie.

‘Op die randjie van bankrotskap’

“Dit (die munisipaliteit) is nie meer ’n lopende saak nie en staan op die randjie van bankrotskap,” sê Henderson.

Die waterkwessie het volgens Henderson toeriste weggedryf en eiendomspryse verlaag. “Dis ’n nagmerrie vir almal en Ugu kry dit nie opgelos nie,” sê hy.

Henderson maak die munisipaliteit se beloftes dat hy watertenks voorsien aan gebiede wat erg geraak is, as onsin af. Volgens hom gebeur dit nie, wat private instellings genoodsaak het om in te gryp.

‘Dringende ingryping benodig’

Inwoners is raadop en die DA in die provinsie het Maandag gevra dat die distrik tot rampgebied verklaar word.

Brian Holshausen, ’n inwoner van Ramsgate, sê hulle sit soms vir langer as ’n maand sonder water – ’n probleem wat glo lank voor die stakings kop uitgesteek het.

Suzie de Wet, ’n inwoner van Uvongo, sê hul watertoevoer was vroeër die week ontwrig en hulle het Woensdag die hele dag sonder water gesit.

“Die water kom en gaan, maar honderde mense sit nog sonder enige water. Mense het alle vertroue in en respek vir die munisipaliteit verloor,” sê De Wet.

* Intussen het inwoners ’n optog vir Vrydag gereël. Hulle eis om deur die munisipale bestuurder toegespreek te word.Hier is sommige van Netwerk24 se onbeantwoorde vrae wat volgens die distriksmunisipaliteit “kwaadwillig en wesenlik verkeerd” is:

Onbeantwoorde vrae

Hier is sommige van Netwerk24 se onbeantwoorde vrae wat volgens die distriksmunisipaliteit “kwaadwillig en wesenlik verkeerd” is:

* Daar word beweer die munisipaliteit sukkel al vyf jaar met waterprobleme sedert die munisipaliteit se waterpompe die eerste keer gebreek het. Daar word beweer dat slegs twee pompe nou werk. Is dit waar?

* Twee jaar gelede het die storms in die provinsie na bewering ’n keerwal vernietig wat soutwater uit die riviere hou. Die keerwal is glo nog nie herstel nie. Is dit waar? Indien wel, wanner gaan dit herstel word?

* Wie verseker dat inwoners wel water kry wanneer werkers staak?

* Daar word ook beweer dat die munisipaliteit nie behoorlike instandhouding doen nie en dat pype gereeld bars. Enige kommentaar?

* Wanneer en hoe gaan die waterkrisis opgelos word?

* Wat doen die munisipaliteit om inwoners tydens die waterkrisis by te staan?

* Watter impak het die huidige krisis op toerisme en plaaslike ondernemings?

waterkrisis
Waterkrisis in KwaZulu-Natal


Meer oor:  Stakings  |  Waterkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.