Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Lae damvlak: Mosselbaaiers hoes dalk gou meer vir water

Hoër watertariewe kan na verwagting op 11 November in die Mosselbaai-gebied in die Suid-Kaap in werking tree nadat die Wolwedansdam se vlak Maandag op 50,22% gestaan het.

Die Mosselbaai-munisipaliteit het vroeër gewaarsku die goedgekeurde hoër watertariewe sal in werking tree op die datum waarop dié dam se vlak onder 50% daal. Daar word nou verwag dat dit op 11 November sal wees, het die munisipaliteit Dinsdag in ’n verklaring gesê. Die Wolwedansdam is Mosselbaai se hoofbron van water.

Behalwe as swaar reënval in die opvangsgebied verligting van die droogtetoestande in die Mosselbaaigebied bring, sal die hoër tariewe van dié datum af geld, sê die munisipaliteit.

Dit behels ’n 50%-styging in die normale gebruikstarief. Die basiese tarief bly egter dieselfde.

Waterbeperkings geld reeds van 1 November af in Mosselbaai se munisipale gebied. ’n Gesamentlike projek is ook deur die Mosselbaai-munisipaliteit, sakelui, die gemeenskapspolisiëringsforum en ander belanghebbendes begin om drinkwater in te samel vir Herbertsdale, Buisplaas, Hamelkop en Ruiterbos.

Water vir huishoudelike gebruik, verkieslik in vyfliter-verpakkings, kan by die brandweerstasie op die hoek van Louis Fourieweg en Schoemanstraat afgegee word.

Die water sal Woensdag of Donderdag in die gemeenskappe versprei word.

Die Mosselbaai-brandweerdiens se kantore is 24 uur per dag beskikbaar vir aflewerings. Volgens die munisipaliteit word sowat 100 000 liter water benodig vir plase.

* Die munisipaliteit het vroeër gewaarsku indien die beskikbare watervolume verder tot tussen 40% en 50% daal, sal nóg strenger voorwaardes, tariewe en polisiëring geld. Mense wat meer water verbruik, sal ’n verhoogde tarief betaal.

Kassie:

Só werk die waterbeperkings

Tuine mag slegs twee keer per week tussen 18:00 en 19:00 natgelei word – op Dinsdae en Vrydae vir huise met ongelyke nommers en op Maandae en Donderdae vir huise met gelyke nommers. Geen besproeiingstelsels mag gebruik word nie. Tuinslange mag slegs gebruik word indien dit met die hand vasgehou word.

Slegs krieketvelde, rolbalbane en gholfbane se setperke mag Dinsdae en Vrydae voor 09:00 vir twee uur lank natgemaak word.

Die afspuit van dakke, opritte of enige ander oppervlakke word verbied, asook die was van voertuie met ’n tuinslang.

Swembaddens mag nie opgevul word nie.

Verblyfplekke en hotelle moet ’n versoek aan die munisipaliteit rig om swembaddens vol te maak.

Plekke met ’n hoë waterdruk moet geïdentifiseer word sodat toestelle geïnstalleer kan word om die druk te verlaag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.