Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Laerskool wéér deur rioolvuil oorstroom

Terwyl rioolvuil vir ’n derde keer in twee maande ’n skoolterrein in Barkly-Wes oorstroom het, het ontevrede inwoners weer na die munisipaliteit opgeruk.

Dit was die derde optog vanjaar na die Dikgatlong-munisipaliteit in Barkly-Wes, wat ook Proteahof en Delportshoop bedien.

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement van onderwys, sê hul infrastruktuureenheid is na die Laerskool Barkly-Wes gestuur om ondersoek in te stel.

Die rioolwater stroom oor die skoolterrein van die Laerskool Barkly-Wes.

“Leerlinge en onderwysers is weer eens aan onhigiëniese rioolwater op die terrein blootgestel. Ons het die munisipaliteit versoek om dringend ’n oplossing te vind. Ons sal die situasie fyn dophou.”

Daisy Hendricks, DA-raadslid, sê Andrew Modise, die munisipale bestuurder, het vir raadslede gesê hy weet nie van die rioolprobleem by die skool nie.

“Nadat die skool in Augustus ’n week lank weens die rioolvuil gesluit was, is ’n tydelike pomp in werking gestel. Twee weke gelede het dit ingegee en het rioolvuil oor die terrein gestroom, net soos vandeesweek ook gebeur het.

“Die munisipaliteit het in Julie vanjaar glo R7,3 miljoen van die departement van waterwese ontvang om drie pompe en waterlekke reg te maak.”

Safiyia Stanfley, DA-woordvoerder oor onderwys, sê sy betwyfel die bedrag van R7,5 miljoen.

“Daar is te veel teenstrydighede oor die bedrag wat aan die munisipaliteit gegee is. Ons ruik ’n rot in die ANC-administrasie.

“Ek gaan aan die LUR’e van onderwys en samewerkende regering skryf en eis dat die probleme opgelos word.”

Die lekplek in ’n pyp met drinkwater in Delportshoop is volgens inwoners die afgelope ses maande nog nie herstel nie.

Kalie de Bruyn, ’n prokureur wat die griefskrif vir die gemeenskap opgestel het, sê verdere stappe word teen die munisipaliteit en die departement van samewerkende regering oorweeg.

In die griefskrif eis die gemeenskap weer dat die raad ontbind en die munisipaliteit onder administrasie geplaas en forensies ondersoek word.

Ontevrede inwoners drom saam voor die munisipale gebou in Barkly-Wes.

Volgens die inwoners betaal die munisipaliteit nie sy skuld ingevolge ’n betalingsooreenkoms aan Eskom of aan Sedibeng Water nie.

Die ander klagtes sluit in: Lekplekke, waaruit duisende liter drinkwater stroom, word nie herstel nie, dienslewering bestaan nie, rioolwater loop by die Vaalrivier in, foutiewe rekeninge word nie reggestel nie, munisipale geboue word gevandaliseer, ’n tekort aan straatligte laat misdaad gedy, grootmaatdienste word nie aan informele nedersettings verskaf nie en nuwe erwe word nie vir informele nedersettings uitgelê nie.

Hulle eis dat die Valke amptenare wat ongemagtigde betalings aan ’n konstruksiemaatskappy gedoen het, ondersoek. Ondersoek moet ook gedoen word na die salarisse van amptenare wie se poste nie op die organogram verskyn nie.

Modise kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Barkly-Wes  |  Rioolvuil
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.