Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Lungisa: ANC ‘laat hom deur ’n misdadiger voorskryf’

Die ANC “gebruik die koronaviruspandemie as wapen om aan te hou om van die Nelson Mandelabaai-metro te steel”.

Dit is die reaksie van Nqaba Bhanga, die DA se burgemeesterskandidaat in die metro en die party se provinsiale leier, op Andile Lungisa van die ANC se eis dat alle vergaderings, insluitend raadsvergaderings, tot Februarie 2021 uitgestel word.

Lungisa het Dinsdag slegs enkele ure ná sy vrylating op parool gesê hy gaan ’n versoekskrif opstel om te eis dat die vergaderings gestop word.

Hy het tronkstraf uitgedien nadat hy skuldig bevind is aan aanranding met die doel om ernstig te beseer deurdat hy op ’n raadsvergadering in 2016 ’n glasbeker oor Rayno Kaiser, DA-raadslid, se kop gebreek het.

Andile Lungisa het Dinsdag enkele ure ná sy vrylating op parool,sy planne vir die metro en die ANC uitgestippel. Foto: Theo Jeptha

Op ’n mediakonferensie ná sy vrylating het hy gal gebraak oor “sekere van die politieke partye” wat volgens hom “tydens ’n pandemie met die verkiesing van ’n permanente burgemeester vir die metro behep is”.

Lungisa sê raadslede moet hulle eerder op die bestryding van die pandemie in hul onderskeie wyke toespits.

Bhanga het gesê Lungisa se versoekskrif is net nog ’n voorbeeld van desperate “ANC-kaders” wat magsbehep is en die koffers van die stad wil plunder.

“Die DA gaan nie deur ’n veroordeelde misdadiger en gevangene voorgesê word wanneer munisipale vergaderings gehou moet word nie.

“Lungisa is nie meer agter tralies nie, maar hy is steeds ’n gevangene. Dit is net die ANC wat hom deur ’n gevangene sal laat voorskryf.”

Bhanga sê Lungisa se planne is deel van die ANC se pogings om die aanstelling van ’n permanente burgemeester in die metro te kniehalter.

Volgens hom gebruik die ANC die pandemie as ’n wapen om aan te hou om van die metro te steel.

Die DA meen Lungisa se vrylating op parool maak ’n bespotting van die regstelsel. Hy het op 17 September verlede jaar sy tronkstraf van twee jaar begin uitdien.

Op 5 Desember sal die metro reeds ’n jaar sonder ’n permanente burgemeester sit.

Thsonono Buyeye is op 5 Desember 2019 aangestel as waarnemende burgemeester nadat Mongameli Bobani op ’n raadsvergadering uit die kussings gelig is.

Bobani is in November aan Covid-19 dood.

• ’n Dringende aansoek word Donderdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth teen Buyelwa Mafaya, speaker van die metroraad, aangehoor. Die DA is hof toe nadat Mafaya verlede Dinsdag ’n raadsvergadering uitgestel het waarop ’n permanente burgemeester aangestel sou word.

Dit was die enigste item op die agenda.

Meer oor:  Nqaba Bhanga  |  Port Elizabeth  |  Hof  |  Aanranding  |  Anc-Raadslid  |  Andile Lungisa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.