Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
LUR ‘kan Masiteng nie skors oor Vrede-suiwelplaas’

Hy kan dr. Takisi Janki Masiteng, senior amptenaar van die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling, nie skors omdat hy oor die Vrede-suiwelprojek in hegtenis geneem is nie.

“Dit is bo my magte,” het dr. Benny Malakoane, Vrystaatse LUR vir die departement landbou en landelike ontwikkeling, Vrydag herhaaldelik in die Vrystaatse wetgewer verduidelik toe Kgotso Morapela van die EFF hom daaroor uitgevra het.

“Weens die kompleksiteit van die bewerings en die openbare beskermer (OB) se verslag daaroor het die staat regsadviseurs in die kantoor van die Vrystaatse premier aangestel. Hulle hanteer die saak en gee advies daaroor,” het Malakoane gesê.

Dr. Benny Malakoane, LUR vir landbou in die Vrystaat.Foto: Netwerk 24

Dit was glo reeds die geval toe Malakoane sowat ’n maand gelede as LUR aangestel is.

Morapela het volgehou dat die Vrystaatse regering hom verbind het om korrupsie te beveg en belowe het dat hy ongenaakbaar sal optree teen diegene wat openbare geld wanbestuur en korrupsie pleeg.

Hy kan dus nie verstaan waarom tugstappe nie teen Masiteng ingestel word nie.

Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, het gesê dit is onverskoonbaar dat die ANC in die Vrystaatse provinsiale regering nie mense soos Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier, en die twee vorige LUR’e vir landbou, Mosebenzi Zwane en Mamiki Qabathe, na die wetgewer se gesamentlike komiteesittings vir ekonomiese ontwikkeling en openbare rekeninge wil nooi om te kom verduidelik wat met die omstrede Vrede-suiwelprojek skeefgeloop het nie.

Zwane was regstreeks betrokke toe die besluit oor die projek geneem is en Qabathe weer toe die projek geïmplementeer is. Die projek is in Magashule se kantoor beklink en onderteken.

Jankielsohn het gesê Qabathe, wat die huidige speaker van die wetgewer is, het telkens lede van die wetgewer oor die projek mislei.

“Sy verdien nie om die speaker van die wetgewer te wees nie. Dit is ’n absolute skande. Sy het voorheen gesê dat 49% van die projek behoort aan die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie (VOK), wat dit namens die Vrystaatse landboudepartement bestuur, en 51% aan die begunstigdes. Maar daar is geen begunstigdes nie. Die enigste begunstigde is E’tjo, wat maandeliks R1 miljoen betaal word om die projek vir die VOK te bedryf, en dit om net 160 koeie te melk!”

* Leona Kleynhans, DA-wetgewerlid, het ook in ’n debat met Dora Kotzee, Vrystaatse LUR vir openbare werke, betrokke geraak oor wie die eienaar is van die gedeelte van die plaas Krynaauwslust waarop die suiwelplaas bedryf word.

Kotzee het gesê sy het die vraag al twee keer beantwoord, maar Kleynhans wou meer weet. Sy sê sy vra die vraag weer omdat die Phumalela-munisipaliteit, in wie se gebied die plaas val, ’n bevinding van die ouditeur-generaal (OG) gekry het omdat die Vrystaatse departement van landbou steeds jaarliks bykans R1 miljoen aan die munisipaliteit vir huur van die plaas betaal.

Dit terwyl die huurkontrak vir die plaas in 2013 verval het en die plaas in 2014 oorgedra is na die Vrystaatse regering se departement openbare werke, wat nou die titelakte daarvan hou.

“Die raadslede van Phumalela dink steeds die plaas behoort aan hulle,” het Kleynhans gesê.

“Daar is ook niks vir die plaas betaal toe die Vrystaatse regering dit gevat het nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.