Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
LUR'e in Noordwes probeer keer dat Clover trek

Die verskuiwing van die Clover-fabriek uit Lichtenburg kan “moontlik” toegeskryf word daaraan dat die Noordwes-regering misluk het “om ’n omgewing te skep waarin ondernemings kan floreer”.

Dr. Job Mokgoro, Noordwes se premier, het dié erkenning gemaak op ’n nuuskonferensie Donderdagmiddag in Mahikeng.

Hy het ook gesê verskeie LUR’e praat nou met Clover om die skuif te probeer keer. Optrede gaan ook kom teen diegene wie se versuim tot die uittog gelei het. Volgens Mokgoro word die kwessie as so ernstig beskou dat Noordwes ook met die nasionale regering hieroor beraadslaag.

Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê egter dis “mosterd ná die maal” omdat dié landbou-organisasie al tien jaar onsuksesvol gesprekke met die munisipaliteit, provinsiale regering en verskillende premiers voer om oplossings vir die ineenstorting van dienste in die gebied te vind.

Nóú wil die provinsiale regering ’n taakspan inspan omdat dit ’n politiek sensitiewe kwessie word.

“Dit het al jare ’n groot impak op landbou en ondernemings. Ander groot maatskappye soos Agrico (wat landbouwerktuie vervaardig) en die hoenderslagpale wil ook uit Lichtenburg skuif. Ons probeer al jare by die regering tuisbring Lichtenburg is ’n ankerdorp vir landbou en speel ’n kernbelangrike rol in die behoud van die landbouketting.

“Nóú wil die provinsiale regering ’n taakspan inspan omdat dit ’n politiek sensitiewe kwessie word.”

Dit lyk ook onwaarskynlik dat Clover van plan gaan verander omdat die fabriek glo al sowat twee jaar gelede besluit het om te skuif.

Johann Vorster, uitvoerende hoof van Clover, sê die suiwelgroep het reeds ’n paar maande gelede begin om die fabriek te ontruim, berig Liana Mocke.

Johan Strydom, ’n plaaslike melkboer wat tevore in die vereniging vir melkboere in Suid-Afrika se direksie gedien het, sê Clover het al vyf jaar gelede gewaarsku hy gaan moontlik die aanleg in Lichtenburg skuif.

Clover skryf in ’n kort verklaring voortslepende diensleweringsprobleme is die hoofrede dat dit nie meer moontlik is om volhoubaar sake in Lichtenburg te doen nie. Die groep het besluit om die kaasfabriek van Lichtenburg na Queensburgh in KwaZulu-Natal te verskuif. Dit beteken honderde werkgeleenthede gaan vir plaaslike mense verlore en melkboere moet hul melk teen hoër koste na fabrieke in Mpumalanga en die Vrystaat neem, sê Strydom.

Clover sê ondanks verskeie pogings om met die munisipaliteit daaroor te praat, het die jare lange probleme met die verskaffing van water en elektrisiteit, asook gebrekkige instandhouding van infrastruktuur, nooit verbeter nie.

Netwerk24 skryf al jare oor die nimmereindigende tekorte aan water en elektrisiteit in Lichtenburg, slaggate in paaie en ANC-faksiegevegte in die plaaslike raad wat dienslewering verlam. Die Ditsobotla-munisipaliteit bedien Lichtenburg en Coligny.

Bandile Nkambule, Clover se woordvoerder, het Donderdag gesê die fabriek gaan geen verdere kommentaar lewer op Tsholofelo Moreo, Ditsobotla se burgemeester, se beskuldiging dat Clover “oneerlik is oor die rede vir die verskuiwing” nie.

Moreo sê Clover koop regstreeks krag by Eskom en dat die munisipaliteit ’n spesifieke boorgat aan die fabriek toegeken het wat moes help om meer water aan Clover te verskaf. Moreo beweer ook die munisipaliteit gee wel aandag aan probleme soos swak paaie.

Die paaie is in so ’n slegte toestand dat melktrokke nie meer daar wil ry nie. Clover word nes ander ondernemings moedeloos en wil nie meer geld in ’n bodemlose put gooi nie.

Strydom en Naudé Pienaar, adjunkhoofbestuurder van Agri Noordwes, sê dis bog en ’n onderspeling van die verskillende dienskwessies wat sake negatief raak. Volgens Pienaar koop die fabriek wel die afgelope sowat twee jaar elektrisiteit van Eskom. Strydom sê Clover het self boorgate gesink en damme opgerig, maar omdat die fabriek in die dorp se nywerheidsgebied geleë is, veroorsaak kragonderbrekings dat die boorgatpompe nie kan werk nie.

“Clover het al tot tien tenks vol water op my plaas kom haal.”

Pienaar sê waterpompe word ook gesaboteer. “Clover het so ver gegaan om waterpompe (vir boorgate) op die dorp te installeer om inwoners te help, maar dié pompe is onverklaarbaar deur kleiner pompe vervang.

“Die paaie is in so ’n slegte toestand dat melktrokke nie meer daar wil ry nie. Clover word nes ander ondernemings moedeloos en wil nie meer geld in ’n bodemlose put gooi nie.”

Chris Hatting, DA-raadslid van Potchefstroom en voorheen leier van die DA in Noordwes, sê wat by Clover gebeur, onthul “die wortel van die kwaad wat die provinsie in ’n spiraal van ondergang beet het: kaderontplooiing, faksiegevegte en die grootskeepse plundering van staatsgeld”.

* Clover se aanleg in Lichtenburg is die land se grootste kaasfabriek. Met die sluiting daarvan gaan sowat 380 mense hul werk kwyt wees. Die aanleg verwerk nagenoeg 350 000 liter melk elke dag, waarvan 100 000 liter deur boere in Noordwes verskaf word, berighttps://www.netwerk24.com/Sake/Maatskappye/clover-fabriek-munisipaliteit-kap-terug-20210609 Liana Mocke.

Meer oor:  Dienslewering  |  Clover  |  Lichtenburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.