Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mafube al vir 2 j. sonder telefone of internet

Die Mafube-munisipaliteit (Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling) is nou al twee jaar lank sonder telefone en internet. Die munisipaliteit is dus ook nie meer in staat om munisipale rekeninge aan inwoners te stuur nie.

Die afvaardiging van die Mafube-munisipaliteit voor die openbare rekeninge en finanskomitee in die Vrystaatse wetgewer. In die middel is Mojalefa Matlole, die munisipale bestuurder. By hom is Amos Makaoe, finansiële hoof van die munisipaliteit (links), en Jabulani Sigasa, die burgemeester (regs). Foto: Ducks Ntlathi

Dit het Dinsdag aan die lig gekom toe dit die munisipaliteit se beurt was om voor die openbare rekeninge- en finansieskomitee van die Vrystaatse wetgewer te verskyn.

Mariëtte Pittaway, DA-LPW in die Vrystaat, het gesê die munisipaliteit is nie “op die maan nie” en die inwoners moet kan kommunikeer. Sake word bemoeilik met dié dat telefone en die internet al vir twee jaar af is.

Die munisipaliteit sukkel ook om rekeninge te lewer en daar staan ’n gebreekte drukker wat nie reggemaak word nie, het sy gesê.

Jabulani Sigasa, uitvoerende burgemeester, het bevestig dat die munisipaliteit al vir twee jaar nie telefone of ’n internetstelsel het wat werk nie. Van die amptenare gebruik hul private telefone en internet.

Mojalefa Buti, ’n ANC-LPW, wou weet waarom die munisipaliteit sy 2017-’18- finansiële state so laat by die ouditeur-generaal (OG) ingedien het.

Sigasa het gesê die burgemeesterskomitee werk daaraan om nie weer ’n oudit-uitslag te kry waarvan die mening weerhou word nie. Dit is sedert die 2015-’16-geldjaar die geval met Mafube, en is die swakste ouditmening wat ’n munisipaliteit kan kry.

Hy het ook die openbare rekeninge- en finanskomitee daaraan herinner dat Mafube sedert 2017 onder art. 139 B-administrasie is.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, wou weet watter politieke leierskap daar is om ’n omdraaistrategie vir Mafube in werking te stel.

Hy het ook die openbare rekeninge- en finanskomitee daaraan herinner dat Mafube sedert 2017 onder art. 139 B-administrasie is.

Amos Makaoe, finansiële hoof van Mafube, het gesê die provinsiale tesourie het nou ’n ouditeur na die munisipaliteit gestuur om te help.

Vusi Tshabalala, ’n ANC-LPW en voorsitter van die openbare rekeninge en finanskomitee, het gesê die OG het bevind dat Mafube wanvoorstellings in sy finansiële state en prestasieverslag gemaak het. Hy sê dit is moeilik om te bepaal met wie die komitee nou eintlik moet praat. “Praat ons met die administrateur of met die munisipale bestuurder omdat die munisipaliteit onder administrasie is?”

Mokhele Notsi, die munisipaliteit se administrateur sedert Mei 2017, was ook teenwoordig, maar hy het nie ’n woord gerep nie.

Tshabalala het die vergadering ná ’n koukus van meer as ’n halfuur uitgestel en die topbestuur van Mafube huis toe gestuur om eers vas te stel hoe daar met munisipaliteite onder administrasie gehandel moet word.

* Jankielsohn het ná die vergadering gesê ’n saak wat by Mafube pertinent aandag sal moet kry en wat op die agenda was, is die kontrak wat aan die Qalabotjha-watersuiweringswerke in 2012 toegeken is. Die kontrak is vir R22 miljoen toegeken en die werk moes in Oktober 2013 voltooi gewees het. Die projek is gekenmerk deur tekortkomings soos geen haalbaarheid-studie wat vooraf gedoen is om vas te stel wat die finale koste van die projek gaan wees nie, wyl ’n ingenieur ook nie aangestel is om oor die projek toesig te hou nie.

Die projek is sedertdien nie voltooi nie, die koste het van R22 miljoen na R60 miljoen gestyg, en die werk wat wel gedoen is, is van ’n uiters swak gehalte.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.