Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mafube op sy knieë ná balju toeslaan

Die bankrot Mafube-munisipaliteit in die Oos-Vrystaat is op sy knieë nadat die balju verskeie kere moes toeslaan en weens enorme skuld op bates, insluitend 23 plase en minstens 14 voertuie, beslag gelê het.

Munisipale dienslewering in vier Vrystaatse dorpe wat Mafube bedien, Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling, is tot stilstand geruk, veral nadat daar nou ook op rekenaars en lessenaars beslag gelê is.

So is voertuie van Mafube al deur die balju in Frankfort weggesleep.Foto: Verskaf

Elzabé Rockman, Vrystaatse LUR vir finansies, sê boonop die tesourie gaan geen reddingsboei aanbied nie. Die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Kogta) moet sê hoe hulle gaan help.

Philip Maseko, die balju van Frankfort, sê hy het reeds beslag gelê op 23 plase wat aan die munisipaliteit behoort. Hy wag nou op die prokureur vir ’n datum om dit te verkoop.

Volgens Maseko is sowat twee weke gelede ook op sewe voertuie beslag gelê, waaronder die burgemeester, Jabulani Sigasa, se luukse Mercedes Benz-ampsmotor.

Die geld vir die verkoop van sewe voertuie is om skuld van R1,8 miljoen aan ’n ingenieurskonsultant te betaal.

Die voertuie word op 9 Januarie op ’n veiling verkoop.

Boonop is ’n strafregtelike klag teen die munisipaliteit se korporatiewe bestuurder ingedien wat nie die voertuie se sleutels wou oorhandig toe die polisie en balju gelyk daar opgedaag het nie.

Maseko sê aan die begin van die jaar al is op nog voertuie, onder meer twee Toyota Hino-wipbakvragmotors, ’n Tata-bakkie en ’n trekker, beslag gelê om geld te kry vir ’n geding voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA).

Die balju lê beslag op ’n munisipale vragmotor.Foto: Verskaf

“Die munisipaliteit het nie eers hof toe gegaan toe hulle gedagvaar is nie. Daardie voertuie sal op 11 Januarie verkoop word.”

Maseko sê hy moes nou ook op roerende bates soos rekenaars, stoele en lessenaars van die Mafube- munisipale kantoor in Frankfort beslag lê om vir die hofgeding van die 23 plase te kan betaal.

Jan Oost, VF Plus-raadslid, sê die party is in gesprek met die provinsiale en nasionale regering oor die munisipale dienste wat nie meer gelewer kan word nie.

Hy sê dit is onaanvaarbaar dat die ANC die munisipaliteit in dié toestand gelos het.

“Mafube is al meer as ’n jaar onder administrasie en ons is net slegter daaraan toe. Op die oomblik vind geen dienslewering plaas nie, want daar is nie voertuie nie. Die nasionale regering sal moet ingryp.

“Ons het nog water en elektrisiteit, maar geen vullis word verwyder nie. Ons ry in dié stadium self die vullis weg. As daar ’n rioolverstopping is, loop rou riool in die straat af.”

Hy sê al die riool gaan in die Vaalrivier af tot in die Vaaldam waaruit ’n groot deel van Gauteng water moet kry.

’n Klomp betogers met EFF-hemde het ook onlangs by die munisipaliteit se kantoor in Frankfort ’n griefskrif oorhandig.

Jacques de Villiers, voorsitter van die belastingbetalersvereniging Villiers-Qalabotjha-Aksie, sê die agteruitgang kom oor jare.

“Volgens Mafube se geldverslae aan die ouditeur-generaal (OG) word die munisipaliteit moontlik deur eise van R400 miljoen in die gesig gestaar.”

Patricia Kopane, Vrystaatse DA-leier, sê die DA gaan Oupa Khoabane, LUR vir Kogta, vra watter vordering gemaak is nadat Mafube meer as ’n jaar gelede onder administrasie geplaas is.

“Dit lyk nie asof daar verbetering kom nie. Gevolglik sal die nasionale minister, dr. Zweli Mkhize, geskakel moet word.”

Sy sê in dié stadium skuld Mafube aan Eskom R47 miljoen, aan die diensverskaffer Rural Maintenance R83 miljoen en aan die amptenare se pensioenfonds R35 miljoen.

Die munisipaliteit betaal nie werkers se bydraes tot derde partye, soos siekefonds- en pensioenfondsbydraes, oor nie.

David van Vuuren, DA-lid van die openbare-rekeningekomitee in die Vrystaatse wetgewer, sê dit is die begin van die einde vir Mafube waar geld nie meer geïn word nie. Meer Vrystaatse munisipaliteite gaan katastrofaal ten gronde.

“Dit is die nalatenskap van Ace Magashule, voormalige premier en nou sekretaris-generaal van die ANC, se kaderontplooiingsbeleid.

“As daar nie bekwame en eerlike amptenare in ’n munisipaliteit is wat verantwoordbare bestuur toepas en die politieke wil het om dinge te laat slaag nie, stort munisipaliteite oor die afgrond.”

Nie Sigasa, JJ Matlole, die munisipale bestuurder, of Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, het hul telefone beantwoord toe hulle om kommentaar gebel is nie.

Meer oor:  Oos-Vrystaat  |  Skuld  |  Beslaglegging  |  Bankrot  |  Balju
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.