Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mafube ‘stort in duie’ ná balju bates gryp

Die balju van Frankfort het beslag gelê op die bankrekening en al die los bates van die bankrot Mafube-munisipaliteit wat dienste moet lewer aan die Vrystaatse dorpe Frankfort, Villiers, Tweeling en Cornelia.

Die beslaglegging is weens skuld wat insluit pensioene van werkers wat nooit aan pensioenfondse oorbetaal is nie en rente daarop, asook vir R61 miljoen wat aan Eskom verskuldig is.

“Ons het reeds begin om in al vier dorpe op die los bates van Mafube beslag te lê en begin om dit gereed te kry vir ’n veiling waarop alles verkoop kan word,” sê Phillip Maseko, die balju.

Maseko sê hulle is al twee weke besig met die beslaglegging.

“Ons het op die inhoud van al die kantore in die administratiewe hoofgebou van die munisipaliteit in Frankfort beslag gelê, insluitend die inhoud van die burgemeesterskantoor.”

’n Vroeëre foto toe die werkers van die Mafube-munisipaliteit oor wanbetaling van die munisipaliteit gestaak het. Foto: Argiewe

Netwerk24 het in Junie 2019 berig oor ’n vorige beslaglegging op munisipale eiendom, onder meer ’n Mercedes-Benz van die burgemeester.

Maseko sê die gevolg van die huidige beslaglegging gaan wees dat geen munisipale dienste meer uit die munisipale hoofgebou in Frankfort gelewer kan word nie.

Binnekort sal daar ook nie meer munisipale dienste uit die ander geboue van die munisipaliteit op sy ander dorpe gelewer kan word nie.

Maseko sê met ’n vorige geleentheid is reeds op al die voertuie – sowat 16 of 17 – van die munisipaliteit beslag gelê, insluitend die ampsmotor van die burgemeester.

Dit sluit nie grondwerktuie soos padskrapers, trekkers en sleepwaens in nie omdat dié toerusting nie in ’n lopende toestand is nie.

Binne drie weke sal ook dié toerusting saam met al die ander masjinerie verwyder word om verkoop te word.

Eskom moet hulle geld kry, want hoe anders moet Eskom funksioneer? Die Vrystaatse munisipaliteite wat Eskom gesamentlik miljarde skuld, gaan gereeld ooreenkomste aan, maar bly nooit by die afbetalingsplanne nie.

Maseko sê hulle het klaar beslag gelê op die los bates in Villiers en moet dit nog net gaan haal. “Ons is nou op pad na Tweeling en Cornelia om ook daar beslagleggings uit te voer.”

Hy sê hy weet nie hoe die munisipale amptenare betaal gaan word nie, want daar is nie geld by die munisipaliteit oor om hulle te betaal nie. Net leë geboue sal oorbly.

Maseko sê sy kantoor gaan die nasionale tesourie vra vir elke sent van die toelae wat aan die munisipaliteit betaalbaar is. “Ons wil elke sent vat om die skuldeisers te betaal.”

Sisi Ntombela, Vrystaatse premier wie se tuisdorp Frankfort is, het nie haar telefoon beantwoord nie.

Skully Nxangisa, LUR vir die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), sê hy sal kommentaar lewer sodra hy kan.

Leona Kleynhans, DA-wetgewerlid belas met munisipaliteite, sê die beslagleggings is glad nie verbasend nie. Die munisipaliteit is steeds onder administrasie, maar wat die administrasiespan hier gedoen het, sal niemand weet nie.

Kleynhans sê ook in die Maluti-A-Phofung-munisipaliteit (Harrismith, Kestell en Qwaqwa) is sowat ’n maand gelede op die bankrekenings beslag gelê, ook op MAP Water, die waterentiteit van die munisipaliteit.

“Eskom moet hulle geld kry, want hoe anders moet Eskom funksioneer? Die Vrystaatse munisipaliteite wat Eskom gesamentlik miljarde skuld, gaan gereeld ooreenkomste aan, maar bly nooit by die afbetalingsplanne nie.”

Sy sê dit is tekenend van die provinsie wat in duie stort. “As munisipaliteite nie meer dienste kan lewer nie, moet hulle ook maar in duie stort, want wat maak hulle daar?”

Thembeni (Skully) Nxangisa, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), sê die eksekusiebrief is Woensdag beteken oor skuld aan Eskom van R61 miljoen en die rente daarop.

“Eskom het die dagvaarding op 26 Maart uitgereik en die munisipaliteit moes voor 11 Mei hierop reageer. Dit was in die inperkingstyd en dit blyk dat daar geen bewyse is dat die dokumente wel in dié tyd aan die munisipaliteit gelewer is nie,” sê Nxangisa.

Volgens die administrasiespan het die munisipaliteit eers hiervan te hore gekom uit hofdokumente. Dit was nadat Eskom die hooggeregshof op 29 Julie genader het, sonder om die munisipaliteit daarvan bewus te maak. 

Eskom het aansoek gedoen vir ’n verstekvonnis wat toegestaan is en gevolglik is aansoek gedoen vir ’n eksekusiebrief wat op 18 Augustus toegestaan is.

Die munisipaliteit het slegs hiervan bewus geword toe die balju Woensdag dokumente op die raad kom beteken het.

“Die roerende bates van die munisipaliteit is nog nie weggery nie. Die prokureurs van die munisipaliteit is besig om met Eskom en Rural Maintenance (’n verskaffer van kragmeters) oor die aangeleentheid te onderhandel.” 


Meer oor:  Bates  |  Bankrot  |  Balju
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.