Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Maluti-a-Phofung moet sê hoekom hy nie krag afsny

Die bankrot Maluti-a-Phofung-munisipaliteit in die Oos-Vrystaat moet nou in die hooggeregshof in Bloemfontein verduidelik hoekom hy nie die krag afsny van sowat 60% van sy verbruikers wat nie daarvoor betaal nie.

Boonop word die munisipaliteit en sy administrateur, Amos Goliath, wat sedert 1 April deur die provinsie daar aangestel is, ook deur ’n minagtingsbevel in die gesig gestaar wat hulle ’n opgeskorte boete van R100 000 of 30 dae tronkstraf op die hals kan haal.

Dié disfunksionele munisipaliteit skuld Eskom nou reeds R5,2 miljard en Goliath sê in ’n hofverklaring: “Die munisipaliteit is vir alle praktiese doeleindes hopeloos bankrot” en “ons het ’n gemors geërf”.

Regter Johann Daffue het beveel dat die munisipaliteit, Goliath, Masetjhaba Lakaje-Mosia (burgemeester) en Futhuli Mothamaha (munisipale bestuurder) in die verklaring moet sê of hulle die hof of die polisie se hulp gevra het om hulle te help met mense wat met elektriese meters peuter en só krag steel. Indien hulle nie die hulp gevra het nie, moet hulle verduidelik hoekom nie.

Hy het ook beveel dat hulle ondersoek moet instel en in die verklaring moet verduidelik of dit wenslik is dat die maatskappy Alpla Trading South Africa en Eskom ’n ooreenkoms sluit waarvolgens Eskom regstreeks krag aan Alpla verskaf. Alpla se fabriek vervaardig plastiekbottels net buite Harrismith.

Hy het ook beveel dat die munisipaliteit aan ’n voorlopige hofbevel van 4 Maart moet voldoen. Daarvolgens mag die munisipaliteit nie Alpla se kragtoevoer onderbreek nie. Dit sal tot die keerdatum van die tussentydse bevel aan die einde van volgende maand geld.

Intussen word van die munisipaliteit en sy topamptenare verwag om in die nuwe verklaring teen die einde van volgende week aan te dui of dit nie wenslik is om die Vrystaatse provinsiale regering (veral die LUR vir finansies) by dié aansoek te betrek om die inwerkingstelling van ’n herstelplan vir die munisipaliteit te oorweeg sodat die munisipaliteit weer in staat sal wees om basiese dienste aan die inwoners te lewer nie.

In sy verklaring wat voor Daffue gedien het, sê Goliath Eskom het sy geduld met die munisipaliteit verloor en het daarom ’n beperking op die hoeveelheid elektrisiteit geplaas wat hy aan die munisipaliteit verskaf.

Alpla en ander fabrieke in die nywerheidsgebied buite die dorp kry hul krag van die Greenlands-substasie. Hulle betaal hul kragrekeninge.

In die Tshiame-woonbuurt, reg langsaan, is dit ’n ander storie. Die inwoners en ondernemings daar kry ook hul krag van Greenlands.

In Tshiame en Makgolokweng is gelol met tussen 95% en 99% waarmee die kragverbruik gemeet word en word die Greenlands-substasie se kwota oorskry, wat daartoe lei dat Eskom die krag by tye onderbreek.

Die munisipaliteit het 140 000 voorafbetaalmeters in sy gebied geïnstalleer. Sowat 40% van die verbruikers van dié meters betaal vir hul elektrisiteit, terwyl 60% nie betaal nie. Hulle het ’n stelsel ontwikkel om die voorafbetaalmeters te omseil. Hulle laai elektrisiteit op die meters af sonder om daarvoor te betaal.

Amptenare van die munisipaliteit wat die meters gaan inspekteer, word met die dood gedreig.

“Daar kan nie van ons verwag word om die onmoontlike reg te kry nie. Ons is ook net mense en ons het nie bonatuurlike magte en vermoëns nie,” sê Goliath.

Adv. Paul Zietsman SC in opdrag van Joubert Galpin Searle-prokureurs tree vir Alpla op. Advv T.L. Sibeko SC en N. Moloto tree in opdrag van Phatshoane Henney-prokureurs vir Eskom op en adv. F.W. Botes SC tree in opdrag van Rossouw-prokureurs vir die munisipaliteit en sy drie topamptenare op.

Meer oor:  Eskom  |  Maluti-A-Phofung  |  Krag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.