Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mandela-baai kyk na misbruik van oortyd

Die metro se interne ouditafdeling gaan die misbruik van oortydwerk deur werkers van die Nelson Mandelabaai-metroraad ondersoek.

Tot dusver het amptenare van die verskillende direktorate in die metro hul werkgewer meer as R156 miljoen vir oortydwerk uit die sak gejaag.

Volgens vooruitsigte deur die metro se komitee vir begroting en die tesourie, sou die metro teen die einde van die vorige boekjaar (op 30 Junie) meer as R200 miljoen uitbetaal het aan oortydwerk.

Sonder ’n wettige beleid wat oortydbetaling reguleer, sit die metro met ’n tameletjie oor hoe om die probleem hok te slaan.

Pogings meer as ’n jaar gelede om ’n nuwe beleid te bekragtig, is nie uitgevoer nie, om meer tyd te skep om vakbonde te raadpleeg.

Die drie top-direktorate waar amptenare die meeste oortyd eis, is veiligheid (meer as R51 miljoen), elektrisiteit en energie (meer as R26 miljoen) en water (meer as R20 miljoen).

Kort op hul hakke is die direktorate vir openbare gesondheid en sanitasie, met meer as R18 miljoen en R14 miljoen onderskeidelik.

Raadslede het gal gebraak oor die feit dat yslike bedrae uitbetaal word aan oortyd, terwyl die stad volgens hulle vuil is en ander basiese dienste nie gelewer word nie.

Daar is ook voorheen verwys na waterlekke wat oral in die metro voorkom, ten spyte daarvan dat werkers oortyd betaal word om dit reg te maak.

Nuus dat die metro nou ’n ondersoek na die misbruik van oortyd wil gelas, kom nadat ’n mosie onlangs in die munisipale komitee vir openbare rekeninge (MPAC) aanvaar is.

Die ACDP se Lance Grootboom het dié mosie by die komitee ingedien.

Volgens Grootboom wys die munisipaliteit se moniteringstelsel dat die metro reeds hul begroting vir oortyd met meer as 100% oorskry het.

Lance Grootboom van die ACDP. Foto: Argief

Grootboom sê ernstige vrae moet gevra word oor hoekom dienste nie gelewer word nie, sowel as oor die beleid vir oortydwerk.

Hy sê oortyd is daar in tye wanneer ’n noodgeval ontstaan, maar dit het nou die norm geword.

“Daar is iets groot fout met ons stelsel, of die regte beheermaatreëls bestaan eenvoudig nie.”

Grootboom se voorstel was dat die metro se interne ouditafdeling die eise wat sedert die begin van die 2018-’19 finansiële jaar ingedien is, ondersoek om te kan bepaal of dit redelik was.

Die DA se Morné Steyn het Grootboom se mosie gesteun.

Meer oor:  Da  |  Morné Steyn  |  Oortyd  |  Nelson Mandelabaai-Metro
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.