Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mangaung, Bloemwater in twis oor miljoene se waterskuld

Die Mangaung-metromunisipaliteit in Bloemfontein en sy waterraad, Bloemwater, is in ’n twis gewikkel oor miljoene se waterskuld.

Adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder, sê aan Netwerk24 deel van die geveg gaan oor ’n droogteheffing waaroor die twee partye nie saamstem nie. Die Vrystaatse provinsiale regering moes al as bemiddelaar optree.

Adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder.Foto: Netwerk24

“Die provinsiale regering het in ons guns beslis en gesê dat ons ’n te hoë droogteheffing betaal, maar nou wil Bloemwater dit nie so aanvaar nie.

“Bloemwater sê sy raad het nie die verminderde bedrag wat die provinsiale regering toegestaan het, goedgekeur nie. Wie is Bloemwater se raad om teen ’n beslissing van die provinsiale regering te wil stry?” wil Mea weet.

Rossouw Botes, DA-raadslid.Foto: Netwerk24

Hy meen Bloemwater het hom te veel geldelike verpligtinge op die hals gehaal en nou wil hy die Mangaung-metro “droog melk” om dit te kan nakom.

Groot ontevredenheid hieroor heers in die metro se kantore, waar Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester, haar volgens betroubare bronne ook vir Bloemwater vererg het.

Rossouw Botes, DA-raadslid en waterkenner van die metro, sê die skuld aan Bloemwater het in April vanjaar R268 miljoen beloop.

Die metro en Bloemwater het toe ooreengekom dat die metro benewens sy maandelikse verbruik in April, Mei en Junie ’n bykomende R22,3 miljoen maandeliks vir water sou betaal om die agterstand te begin delg.

Kido Thoabala, woordvoerder van Bloemwater.Foto: News24.

Vir Julie en Augustus sou ’n bykomende R44,6 miljoen betaal word om agterstallige skuld te delg en September tot Januarie weer maandeliks ’n bedrag van R22,3 miljoen om die totale agterstallige bedrag van R268 miljoen uit te wis.

Die metro het egter in Augustus nie sy maandelikse verbruik van R58 miljoen betaal nie en ook nie die verbruik van R60 miljoen vir September wat Woensdag betaal moes word nie.

Bloemwater het gevolglik Dinsdag sy waterlewering verminder wat die inwoners van Kwaggafontein, Kelley’s View, Ferreira, Bloemdal en Pellissier begin raak het.

Nadat die metro Woensdag ’n betaling van R58 miljoen gedoen het, het Bloemwater weer normaal begin lewer.

Botes sê die R60 miljoen vir September se verbruik is egter steeds uitstaande en Bloemwater kan enige tyd weer die waterlewering begin verminder of krane selfs toedraai.

Mea sê ’n ooreenkoms is aangegaan en daar is dispute wat eers nog opgelos moet word. Dit handel oor die te hoë watertarief en die droogtetarief wat verkeerd bereken word.

Botes sê sover hy weet, hou die metro wel by die afbetalingsooreenkoms om die agterstallige skuld te delg. Dit is net betalings vir die maandelikse verbruik wat agter geraak het.

Hy sê ’n probleem is dat reservoirs in die metro se vlak baie gedaal het omdat daar nie volle waterlewering aan Mangaung was nie.

  • Kido Thoabala, assistent-bestuurder: skakeling van Bloemwater, sê Bloemwater het ’n dienslewerings-ooreenkoms met die metro aangegaan soos wat hy met al sy ander kliënte (munisipaliteite) aangegaan het.

“Daarom kan ons nie die bedrag wat die metro skuld, bekend maak nie.”

Thoabala sê Bloemwater sal regstappe doen waar nodig en verskeie opsies sal oorweeg word, insluitend beperkings, as pogings nie aangewend word om die skuld te delg nie.

“Onderhandelings met die metro gaan voort.”

Meer oor:  Bloemwater  |  Adv. Tankiso Mea  |  Rossouw Botes  |  Bloemfontein  |  Waterskuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.