Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mangaung gee R100 000 vir EFF-raadslid se begrafnis

Die Mangaung-metro gaan met die steun van AIC- en EFF-raadslede R100 000 gee vir die begrafnis Vrydag van Tumo Kauhelo Mapitsi, ’n EFF-raadslid.

Dié besluit is ondanks skerp teenkanting van die DA, VF Plus en Cope Vrydag op ’n spesiale raadsvergadering goedgekeur. Lede van dié partye sê dit kan nie geregverdig word te midde van die geldelike krisis waarin die metro is nie. Boonop is daar nie ’n beleid vir begrafnisse in die metro nie – 24 raadslede het ten gunste van die skenking gestem en 16 daarteen.

Mxolisi Siyonzana

Hardie Viviers, DA-koukusleier, het gevra dat die DA se teenkanting skriftelik genotuleer word en prof. Elizabeth Snyman van Deventer, van die VF Plus het gevra dat dié party se raadslede, wat teen die skenking gestem het, se name genotuleer word.

Die skenking kom boonop net ’n dag nadat dit bekend geword het dat die kredietgraderingsagentskap Moody’s die metro met nóg drie graderings afgradeer het nadat die metro nie sy lenings betyds kon terugbetaal nie en uitstel gevra het.

Dulandi Leech, DA-raadslid, het voorgestel dat Mapitsi eerder vereer moet word met ’n naambordjie langs spoedhobbels wat met die geld aangebring word, maar die ANC het niks van dié voorstel gehou nie.

Sy het verwys na verskeie diensleweringsprobleme soos dat die metro nie R419 miljoen aan Bloemwater vir sy water kan betaal nie, die klomp slaggate in Bloemfontein se strate wat nie reggemaak word nie omdat daar nie geld is nie, en vullisverwydering wat nie betyds gedoen word nie omdat daar nie brandstof of genoeg vragmotors is nie.

Sy is egter elke keer stilgemaak deur die ANC wat gesê het dit gaan nie hier oor dienslewering nie, maar oor Mapitsi se begrafnis.

Mxolisi Siyonzana, speaker, het gesê daar is iets soos ubuntu.

“Ons is saam hierin. Dink aan die Mapitsi-familie wat tuis sit en hoe hulle voel. Ek ken die Mapitsi-familie persoonlik.

“ ’n Raadslid is ’n openbare figuur wat baie mense se lewe aangeraak het. Daardie mense uit die gemeenskap wil almal deel in ’n laaste eer aan hom.

“Dink aan oudpres. C.R. Swart. Toe hy doodgegaan het, het mense twee weke lank in die land hulde gebring. Mense het opgehou werk, landsvlae is halfstok gehang, ’n staatsbegrafnis is gehou en baie geld is bestee.”

Hy het gesê raadslede is ook openbare figure.

Siyonzana het Netwerk24 se verslaggewer ná die vergadering na sy kantoor ontbied om die ANC se standpunt te herhaal.

Barnard Mononyane, Cope-raadslid, het aan die begin van die debat op die raadsvergadering gesê “die raad het geen begrafnisbeleid nie en dié R100 000 sal onwettig wees as dit vir die begrafnis gegee word. Die ouditeur-generaal (OG) sal dit as ongemagtigde uitgawes beskou.

Mononyane het gesê hy wil met die familie, vriende en kollegas van Mapitsi simpatiseer, maar dit is moeilik om die R100 000 vir die begrafnis te ondersteun.

Snyman van Deventer het gesê “mag die Here se genade met die familie van Mapitsi wees. Dit is net God se genade wat ons in sulke tye help. Hy sal in staat wees om die familie en naasbestaandes te kan dra. Maar die onkoste is onwettig en kan nie ondersteun word nie.”

Die EFF-raadslede het almal die skenking vir hul mede-raadslid se begrafnis gesteun, terwyl hulle dit nie in die verlede wou doen vir ’n ANC-lid se begrafnis nie.

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Munisipaliteite  |  Begrafnis  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.