Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mangaung gee R100 000 vir raadslid se begrafnis
’n Vroeëre foto van Eddie Goliath, raadslid van die EFF (middel) voor. Die foto is geneem toe die Mangaung-munisipaliteit en die Bloemfonteinse Kamer van Handel en Nywerheid (BKHN) in Bloemfontein 'n beraad vir vroue gehou het, waar die fokus op bemagtiging geval het. Van links was dr. Diane Abrahams (hoofbestuurder van ekonomiese ontwikkeling by die Mangaung-munisipaliteit), me. Tsholo Moemi (organiseerder by die departement ekonomiese ontwikkeling, Mangaung-munisipaliteit); Goliath (raadslid belas met finansies by die Mangaung-munisipaliteit), Nape Khomo (president van die BKHN) en me. Hannelie Lombaard (takbestuurder van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens in Bloemfontein). Foto: Argiewe

Raadslede is baie ontevrede oor die groot bedrae geld wat die Mangaung-metro in Bloemfontein aan begrafnisse van sy lede bestee en van hulle dring aan op ’n beleid daaroor.

Die ontevredenheid het weer aan die lig gekom toe die ANC-beheerde raad Woensdagmiddag op ’n spesiale raadsvergadering R100 000 goedgekeur het vir die begrafnis van Eddie Goliath (59) van die EFF.

Hy was die derde raadslid van die munisipaliteit wat aan Covid-19 dood is.

Opposisielede het hul medelye met sy familie betoon, maar ook ernstig kapsie gemaak teen die bedrae wat die metro deesdae vir raadslede se begrafnisse betaal.

David Masoeu, voorsitter van die DA-koukus in die metro, het gesê die DA het kennis geneem het van die dood van Goliath en “ons wil ons diepste medelye met sy familie en vriende betuig”.

Hy het egter oor die begrafniskoste gesê die metro het steeds nie ’n beleid oor hoeveel geld ’n raadslid se familie moet kry vir ’n begrafnis nie.

“Dit is onaanvaarbaar.”

“Die DA het al op 3 Februarie 2020 gevra waarom daar nog nie ’n begrafnisbeleid vir die metro is nie.

“Adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder, het toe op 26 Februarie 2020 geantwoord ’n konsepbeleid word by die regsafdeling van die metro verwerk.”

Dit is onaanvaarbaar.

Masoeu het daarop gewys dat Mxolisi Siyonzana, die speaker, ook skuldig is. Hy het al in die verlede gesê hulle sou met ’n begrafnis-versekeraar praat oor ’n groepskema waarvolgens raadslede kan bydra vir begrafnisse sonder dat belastingbetalersgeld daarvoor gebruik moet word.

Dit het ook nooit gebeur nie, het Masoeu gesê.

“Volgens die gedragskode vir raadslede moet raadslede die funksie van die raad eerlik, deursigtig en in goeie trou vervul. Daar moet ook ten alle tye in die belang van die munisipaliteit opgetree word en op so ’n wyse dat die geloofwaardigheid en integriteit van die munisipaliteit nie in gedrang kom nie,” het hy gesê.

Masoeu het gesê die afwesigheid aan ’n begrafnisbeleid veroorsaak dat die gedragskode vir raadslede oortree word omdat belastinggeld wat bedoel is vir dienslewering, nou daarvoor gebruik word.

Dit bring die eerlikheid en integriteit van raadslede in die gedrang.

“Terwyl die vullis op sypaadjies en op erwe van die metro-inwoners ophoop weens die gebrekkige vullisverwyderingsdiens, sal die DA nie die uitgawe vir die begrafnis kan ondersteun nie.”

Paulnita Marais, koukusleier van die EFF, het daarna ’n groot huldeblyk aan Goliath, een van die party se koukuslede, gelewer.

Sy het gesê die EFF ondersteun die besluit om R100 000 vir die begrafnis te gee.

Dr. Elizabeth Snyman van Deventer, raadslid van die VF Plus, het gesê dit moet in die nuwe termyn ná die verkiesing verpligtend gemaak word vir raadslede om aan ’n begrafnisfonds te behoort waar ’n mens vir R27 per maand R100 000 se begrafnisdekking kan kry.

Die speaker en hoofsweep moet die moontlikheid daarvan ondersoek sodat raadslede met toelaes self vir begrafnisvoordele kan begin betaal.

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Begrafnisse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.