Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mangaung: G'n geld vir water, wel vir nuwe polisiehoof

Die Mangaung-metro het nie geld om die R171 miljoen te betaal wat die waterraad Bloemwater onmiddellik eis om Bloemfontein se waterkrane weer 100% oop te draai nie. Die waterlewering is Maandag tot 30% verminder.

Die metro het nie die geld om sy skuld te delg nie, maar het ’n metropolisiehoof ten duurste aangestel. Hy verdien meer as ’n R1 miljoen per jaar, sê Armand Cloete, VF Plus-LP in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) en wetgewerlid van die Vrystaat, in reaksie op Netwerk24 se berigte oor die driedubbele waterkrisis in Bloemfontein. Talle inwoners sit tans sonder water of sukkel met waterdrukprobleme nadat twee waterpype ook nog vandeesweek gebars het.

Armand Cloete, VF-Plus-LP in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP).

Cloete sê in ’n mediaverklaring daar is nie geld vir water nie, maar Mangaung betaal vir ’n metropolisiehoof terwyl daar ná ’n jaar van leë beloftes steeds geen metropolisiediens is nie. Boonop het die duur pos van metropolisiehoof nog nie eens op die organogram van die metro bestaan toe hy aangestel is nie.

Cloete sê die voortslepende watertekort in Mangaung weens agterstallige skuld aan die waterverskaffer, Bloemwater, asook swak instandhouding deur die munisipaliteit, plaas enorme druk op inwoners en sakelui.

“Te midde van die krisis is daar ’n jaar nadat die burgemeester van die metro aangekondig het dat ’n metropolisiehoof aangestel is, steeds geen teken van ’n polisiediens vir die metro nie.”

Die VF Plus het vrae by die metroraad ingedien om uit te vind watter vordering daar met die metropolisie gemaak is.

“Die metrobestuur moet ook sê wat die metropolisiehoof, Ketsebae Kgamanyane, se salaris is, en of sy aanstelling al op nasionale vlak goedgekeur is.”

Gedeeltes van Bloemfontein gaan gebuk onder misdaad, die verkeer word nie gereguleer nie en die stad het dus een van die onveiligste stede geword het om in te bestuur. “Vuisvoos belastingbetalers sal ook in die komende geldjaar meer vir dienste betaal met tariefverhogings wat bo inflasie vasgestel en goedgekeur is.”

Cloete sê die inwoners het die reg om te weet wat die metropolisiehoof in die jaar ná sy aanstelling gedoen het om die metropolisie te vestig.

“Die VF Plus sal ook verdere vrae aan dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, die nuwe minister van samewerkende regering en tradisionele sake, rig om te bepaal of die metropolisiehoof se aanstelling volgens wetlike prosesse geskied het.

Die VF Plus verwelkom enige maatreëls om die metro se mense te beveilig, en ’n doeltreffende metropolisiediens is ’n stap in die regte rigting.

Die metro kan egter nie aanhou beloftes maak en senior bestuurders aanstel wat salarisse ontvang terwyl dienste nie gelewer word nie.

* Netwerk24 verneem betroubaar Luthuli-huis, die ANC se hoofkantoor in Johannesburg, sal moontlik Woensdag (vandag) help met geld sodat die metro se krane weer ten volle oopgedraai kan word.

* Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die metro, sê werk aan die twee pypleidings wat gebars het – die een van Maselspoort na Bloemfontein en die ander een van die Welbedachtdam na Bloemfontein – is volstoom aan die gang.

* Geld sal glo gekry word om Woensdag (vandag) ’n betaling aan Bloemwater te kan maak, maar waar die geld vandaan gaan kom, is nog onseker.

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Bloemwater  |  Munisipaliteite  |  Munisipale Skuld  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.