Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mangaung kort R5,66 miljard vir waterkrisis, hoor hoës

Twee adjunkministers wat ingevolge die regering se distriksontwikkelingsmodel aan die Mangaung-metro in Bloemfontein toegewys is, moes hoor die metro kort onmiddellik R5,66 miljard om sy agterstand op water- en sanitasieprojekte uit te wis.

David Mahlobo, water en sanitasie, en Dikeledi Magadzi, vervoer, is die adjunkministers wat aan die Mangaung-distrik, een van vyf in die Vrystaat, toegewys is.

Hulle moet toesien dat alle regeringsfere saamwerk volgens die plan om die land ingevolge die distriksmodel te ontwikkel.

David Mahlobo

Makalo Mohale, LUR vir ekonomiese en kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake (Destea), en Motshidise Koloi, LUR vir openbare werke en menslike nedersettings, moet hulle hierin ondersteun.

Die adjunkministers moet ook verseker dat die stryd teen die Covid-19-pandemie in Mangaung versterk word en dat die ander “pandemie”, geslagsgeweld, stopgesit word.

Mahlobo het op ’n geleentheid in Bloemfontein gesê die “distrikskampvegters” se opdrag is om pres. Cyril Ramaphosa en sy adjunk by te staan in die bestuur van die distriksontwikkelingsmodel sodat die kapasiteit van die staat oor die land heen versterk kan word.

Sisi Ntombela, premier, het ter ondersteuning van die inisiatief vir Koloi en Mohale aangewys om met die adjunkministers saam te werk.

Die distrikskampvegters se fokus sal Covid-19, geslagsgegronde geweld en diensleweringskwessies wees.

Dikeledi Magadzi

Wat die pandemie betref, sal nou met vennote, raadslede en gemeenskapsverteenwoordigers saamgewerk word.

Mahlobo het verder gesê wat die uitdagings in die metro betref, sal ook met nie-regeringsorganisasies, gemeenskapspolisiëringsforums, godsdiensleiers en ander sleutelvennote saamgewerk word.

Montseng Tsiu, LUR vir gesondheid, en haar span het ’n provinsiale reaksieplan teen Covid-19 aangebied.

Sy het gesê tot op datum was daar 817 sterftes in die Vrystaat. Die pandemie het middel Julie sy piek in die provinsie bereik, maar is steeds ’n werklikheid in die Vrystaat met meer as 300 pasiënte in die provinsie se hospitale.

Hoewel dit beter gaan, is die vlakke van afname nog nie wat gehoop is teen dié tyd die geval sou wees nie.

Die bevestigde gevalle in die Vrystaat staan nou op 41 875, met 27 678 inwoners wat herstel het.

Om agterstande op water- en sanitasieprojekte in te haal, is dadelik R5,66 miljard nodig.
Makalo Mohale

Bloemfontein is met 13 949 gevalle die voorloper in die provinsie, gevolg deur Matjhabeng (Welkom) met 7 557 gevalle.

Die grootste getal sterftes was in die ouderdomsgroep 55 tot 59 jaar.

Sam Mashinini, LUR vir polisie, paaie en vervoer, het verwys na ’n voorval toe hy onlangs na Petrus Steyn ontbied is waar ’n kind van 20 maande grusaam vermoor is. Hy is ook ontbied na ’n voorval waar ’n kind van nege vermoor is, waarna sy liggaam in ’n kas versteek is.

“Daar moet ’n einde gebring word aan die enorme pandemie van geweld teen vroue en kinders. Dit moet stop,” het hy gesê.

Tshidi Koloi

Ander sprekers van die polisie het verwys na misdaad wat oor die algemeen tydens die inperkings afgeneem het, terwyl seksuele misdrywe toegeneem het.

Kommer is ook uitgespreek oor misdaad wat sedert die oorbeweeg na vlak twee van inperking nou toeneem.

Adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder, het verskeie munisipale diensleweringskwessies uitgelig wat onmiddellik aandag moet kry.

“Om agterstande op water- en sanitasieprojekte in te haal, is dadelik R5,66 miljard nodig,” het hy gesê.

Hy het gesê Mangaung het nou ook ’n begroting van R537 miljoen nodig om sy vervalle paaie te herstel.

* Mahlobo het hulde gebring aan Lucky Phooko, burgemeester van die Moqhaka-munisipaliteit en provinsiale voorsitter van Sanco, wat aan Covid-19 gesterf het.

Meer oor:  Mangaung  |  David Mahlobo  |  Bloemfontein  |  Waterkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.