Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mangaung-metro gaan die kreeftegang, wys OG-verslag

’n Donker prentjie is Dinsdag geskets toe die ouditeur-generaal (OG) se verslag oor die geldsake van die Mangaung-metro uiteindelik ná maande se vertragings in Bloemfontein voor die metroraad gedien het.

Boonop blyk dit dat die munisipaliteit nou gemiddeld 142 dae neem om sy krediteure te betaal, pleks van 30 dae soos wat die wet voorskryf, wat tot verswakte dienslewering lei.

Luthando Mbandazayo van die OG se kantoor in Bloemfontein het boonop op ’n raadsvergadering gesê dat die verslag al einde Januarie voor die raad moes gedien het.

Mxolisi SiyonzanaFoto: Argief

“Maar om verskeie redes, onder meer weens die ineenstorting van die metro se rekenaarstelsel verlede jaar, is dit baie laat.”

Hy het gesê die munisipaliteit en sy kragverspreider, Centlec, het elk ’n weerhouding van mening ontvang, maar as die twee instellings saam beoordeel word, is die OG-verslag se uitslag beter. Dit is omdat die transaksies wat intern tussen die twee instellings aangegaan is, dan verklaar word.

Daarom word ’n gekwalifiseerde ouditmening met bevindings vir die 2017-’18-boekjaar gegee, presies dieselfde as die vorige boekjaar. In die 2015-’16-boekjaar is ’n ongekwalifiseerde outditmening met bevindings verkry.

Mbandazayo se verslag dui op R552 miljoen se onreëlmatige uitgawes, R4,460 miljard se nie-goedgekeurde uitgawes en R70,4 miljoen se vrugtelose en vermorste uitgawes wat sedert die 2012-’13-boekjaar aangegaan is.

Onreëlmatige uitgawes vir die 2017-’18-boekjaar was R127 miljoen, vrugtelose en vermorste uitgawes R26 miljoen en nie-goedgekeurde uitgawes R874,1 miljoen.

Mbandazayo het gesê boonop is elektrisiteitsverliese R137,7 miljoen en waterverliese R266 miljoen.

Hy het sy kommer uitgespreek omdat die metro hom nie aan aanbevelings van die OG steur om te verbeter nie en dat die metro hom nie aan wetgewing steur nie.

Hans Britz, DA-raadslid, het in kommentaar gesê die metro se voldoening aan wetgewing asook sy voor-verkrygingsbestuur het geweldig agteruitgegaan.

“Die gehalte van die verslagdoening oor die finansies, die voorkoming van onreëlmatige en vrugtelose en vermorste uitgawes en die bestuur van gevolge het ook dramaties versleg.”

Hy het gesê die bestuur van menslike hulpbronne lyk ook baie sleg met 43% vakante poste.

Paballo Rankholo, hoofsweep van die EFF, het gesê die metro gee tenders aan vriende en die ANC gebruik die belastingbetalers se geld om hul oud-raadslede ten duurste te begrawe.

“Staatstoelae word nie gebruik waarvoor dit bedoel is nie.”

Dulandi Leech, ook ’n DA-raadslid, het gesê die meer as R550 miljoen se onreëlmatige uitgawes voldoen nie aan wetgewing nie en die R4,5 miljard se nie-goedgekeurde uitgawes is nie in ooreenstemming met die begroting nie.

“Krediteure wat nou eers ná 142 dae betaal word, veroorsaak onstabiliteit. Dienste verswak weens die 43% vakante vakatures.

“Bestuursposte word ten duurste geskep, terwyl amptenare op voetsoolvlak nie aangestel word om die werk te doen nie.

“Altesaam R150 miljoen is onderbestee op die staatstoelae vir infrastruktuur, terwyl R68 miljoen te min bestee is van die toelaag vir openbare vervoer en infrastruktuur.”

Dave McKay, ook ’n DA-raadslid, het gesê boonop is R156 miljoen van die staatstoelae om grondpaaie mee op te knap, ook onderbestee.

“Wat die OG in die verslag oor die stadsbestuurder sê, is genoeg om hom in die pad te steek.”

Dr. Elizabeth Snyman van Deventer, VF Plus-raadslid, het gesê die OG-verslag toon duidelik dat die ANC besig is om die metro in die grond in te bestuur. “Die metro se algehele uitkomste word beskryf as stagnant. Daar is politieke inmenging in die administrasie as gevolg van die ANC-faksies wat baklei pleks van politieke oorsig.”

Paballo Rankholo, hoofsweep van die EFF, het gesê die metro gee tenders aan vriende en die ANC gebruik die belastingbetalers se geld om hul oud-raadslede ten duurste te begrawe. “Niks verras meer nie.”

* Mxolisi Siyonzana, speaker, het gesê onreëlmatige, vermorste en vrugtelose uitgawes het met R95 miljoen vermeerder weens die inlywing van die Naledi-munisipaliteit.

“Ons is besig om te besin oor wat ons met Centlec gaan doen.”

Hy het gesê gevolgebestuur gaan ingestel word.

Die OG-verslag gaan nou vir 60 dae na die munisipale openbarerekeninge-komitee en vir openbare deelname beskikbaar gestel word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.