Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Waterpyp in Mangaung-metro ná 8 dae nog nie herstel
grafika

Water stroom nou al agt dae lank uit ’n hoofwaterpypleiding in Bloemfontein weens die Mangaung-metro se algehele onvermoë om dit te herstel.

Die waterpypleiding na die suidwestelike hoewegebied van Bloemfontein en Lourierpark is verlede Donderdag beskadig toe ’n kontrakteur dit per ongeluk met grondverskuiwingstoerusting getref het, sê Dave McKay, DA-raadslid van die metro.

Die Mangaung-metro het nie die materiaal beskikbaar om die gebreekte waterpyp te herstel nie.

Ultimate Dynamic, die kontrakteur, en die metro het glo nooit met mekaar gekommunikeer oor waar die munisipaliteit se pype in die munisipale serwituut is nie.

McKay sê die probleem is nie dat die pyp gebreek is nie. Ongelukke gebeur. Die metro se totale onvermoë om dit te herstel, veroorsaak egter chaos.

Adv. Mzwakhe Mofokeng, administrateur van die Mangaung-metro, het by navraag gesê hy sal sorg dat die pyp nog Donderdag reggemaak word. Hy het egter gesê hy is in ’n vergadering en kan nie verder praat nie.

McKay sê hy is ’n week gelede, op Donderdag 28 Augustus, om 09:00 ingelig dat die hoofwaterpypleiding langs Lourierpark beskadig is.

Water stroom oor ’n erf en sommer deur die muur nadat ’n hoofwaterpypleiding in Bloemfontein beskadig is.

Die kontrakteur het dadelik vir Bloemwater in kennis gestel en amptenare van Bloemwater was gou op die toneel. Hulle het egter besef dit is ’n munisipale pyp wat beskadig is.

Die munisipaliteit is toe in kennis gestel, waarna die een flater ná die ander begaan is, sê McKay.

Die middelvlakbestuur kon nie by die gebied uitkom nie omdat daar geen voertuig beskikbaar was nie, onder meer weens ’n gebrek aan diesel. Hulle kon dus nie op die erf kom om die klep toe te draai om die watervloei te stop nie.

Uiteindelik is die watervloei toe wel teen 14:00 die middag grootliks gestop.

Rossouw Botes, nog ’n DA-raadslid, was in kontak met die ingenieurs en volgens hom kon hulle nie die klep 100% toedraai nie. As dit verder geforseer is, sou dit permanent beskadig gewees het, sê McKay.

Miljoene liter gesuiwerde water stroom in ’n straat af.

Hoewel die water hierna teen minder as 10% van die vermoë gevloei het, “is dit steeds miljoene liter water wat verlore gegaan het en waarvoor die belastingbetaler nou sal moet betaal”.

McKay sê om sake te vererger, het die munisipaliteit nie ’n pomp gehad om die water uit die gat te pomp nie.

Bloemwater het toe ’n pomp verskaf.

Die gebreekte pyp is verwyder en herstelwerk sou teen middernag verlede Vrydagnag begin het.

McKay sê hy was geskok toe hy Saterdagoggend sien niks was al gedoen nie.

Die gebreekte waterpyp het veroorsaak dat miljoene liter gesuiwerde water verlore gegaan het.

Toe moes hy hoor hulle het nie materiaal om die pypleiding te herstel nie.

“Dit moet weer eens genoem word dat dit nie die middelvlakbestuur van die departement van waterwese en sanitasie is wat verantwoordelik gehou moet word nie, maar eerder hul departementshoof, Mlondolozi Ndlovu, en die stadsbestuurder, adv. Tankiso Mea.

“As hulle bevoeg was, sou die nodige toerusting en bronne beskikbaar gewees het. Hoe kan ’n mens van werkers verwag om die werk te doen sonder diesel, voertuie, grondverskuiwingstoerusting of materiaal om die pyp te herstel?”

McKay sê sedert Sondagmiddag is water van ’n ander bron herlei sodat inwoners van Lourierpark water in hul krane het.

Meer oor:  Mzwakhe Mofokeng  |  Bloemfontein  |  Herstel  |  Beskadig  |  Waterpyp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.