Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mangaung-metro onder ‘semi-administrasie’

Die Mangaung-metro in Bloemfontein is onder “semi-administrasie” – die eerste metro in Suid-Afrika wat in duie gestort het – het Rossouw Botes, DA-raadslid van die metro, Donderdag op die begrotingsvergadering vir die 2018-’19-boekjaar gesê.

“Wat ’n skande vir die regerende ANC-party.” Hy sê die munisipaliteit het geheel en al bestuur oor sy administrasie verloor.

“Dit is waarom die nasionale tesourie hierheen gestuur is om bystand te kom bied.”

Botes sê die metro begroot vanjaar R1,546 miljard vir kapitale uitgawes, wat ’n styging van R718 miljoen oor die laaste vyf jaar is.

“Inwoners moet jaarliks meer vir elektrisiteit, water, erfbelasting, vullisverwydering en sanitasiedienste opdok, wyl dienslewering verswak.”

Wanneer die DA vrae hieroor vra, word daar gesê die metro is met ’n omdraaistrategie besig.

Rossouw Botes, DA-raadslid van die Mangaung-metro.Foto: André Damons

Botes sê dienslewering bestaan nie. “Raadslede moet weekliks die administrasie bel om te vra dat die vullissakke opgetel moet word. Die vlootbestuurafdeling kort R600 000 om aan die verkeersdepartement te betaal vir die jaarlikse hernuwing van voertuiglisensies. Dit veroorsaak ’n tekort aan voertuie wat vullis optel. Soms kom kontrakteurs met waentjies vullis haal, wat 10,83% meer kos. As inwoners nie maandeliks vir vullisverwydering betaal nie, word hul watertoevoer ontkoppel.”

Botes sê op 16 Junie speel die Springbokke teen Engeland ’n rugbytoets in Bloemfontein. “Ek hoop die rugbyondersteuners kom aan en vertrek in die nag sodat hulle nie kan sien hoe vuil die stad is nie. Die metro kan op daardie dag as ambassadeur optree.”

Botes sê die verstopping van die rioolstelsel is ’n ramp. “Rioolvuil vloei in die drinkwater in en veroorsaak ’n gesondheidsrisiko. Die munisipaliteit neem weke om verstopte pype reg te maak, maar die inwoners moet 8% meer vir dié diens betaal. Die metroraad ignoreer die openbare beskermer as sy vra dat vergaderings in haar kantoor oor diensleweringsprobleme bygewoon moet word.”

Botes sê water is skaars en sedert 2015 geld waterbeperkings. “Inwoners sê gebarste waterpype word nie herstel nie. Wanneer inwoners kla, word daar vir hulle gesê die metro het nie voertuie of diesel nie.”

Hy sê waterverliese vir die 2015-’16-boekjaar het R146 miljoen beloop, terwyl dit vir die 2016-’17-boekjaar R217 miljoen beloop het – R71 miljoen meer.

Die metro sê hy het ’n maatskappy aangestel om die waterverliese te beheer, maar hierna moes die R71 miljoen meer vir waterverliese opgedok word.

Nou word daar van inwoners verwag om van 1 Julie af 11,65% meer vir water te betaal.

Botes sê Wepener en Dewetsdorp se inwoners sukkel ook al vir maande met diensleweringsprobleme.

Meer oor:  Rossouw Botes  |  Anc  |  Mangaung-Metro  |  Administrasie  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.