Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mangaung-metro se finansiële hoof bedank
Ernest Mohlahlo Foto: Mangaung-metro

Te midde van vrese dat die Mangaung-metro in duie stort en bewerings dat korrupsie “van bo af en van buite die metro afgedwing word”, het Ernest Mohlahlo, finansiële hoof, besluit om liefs te loop.

“Ek het bedank weens my ongelukkigheid by die metro,” is al wat Mohlahlo wou verklap.

“Die redes vir my bedanking staan in my bedankingsbrief,” het hy aan Netwerk24 gesê.

Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester, sê sy dra nie kennis van Mohlahlo se bedanking nie.

Mlamleli was op ’n tesourie-werksessie in Johannesburg toe sy gebel is.

Van Mohlahlo se kollegas beweer dat die ANC-koukus verkeerdelik die blaam op hom plaas vir die finansiële gemors waarin die metro hom bevind.

Lulama Titi-Odile, burgemeesterskomiteelid belas met finansies, sê sy het nog nie Mohlahlo se bedanking gesien nie en kan nie kommentaar lewer nie. Sy wou ook nie reageer op die bewering dat die ANC-koukus hom beskuldig nie.

Hans Britz, voormalige finansiële hoof van die metro, sê die finansiële ondergang van die metro het begin toe Raymond Taye in 2007 die finansiële hoof geword het.

Hans Britz, voormalige finansiële hoof, sê die finansiële ondergang van die metro het begin toe Raymond Taye in 2007 die finansiële hoof geword het.

“Toe Mohlahlo oorneem, het hy stadig maar seker begin om die geldsake reg te ruk, tot onlangs toe dat daar glo druk op hom gekom het.”

Netwerk24 verneem ook departementshoofde wou voortdurend meer geld eis en adv. Tankiso Mea, die stadsbestuurder, het hom nie genoeg ondersteun nie.

Mohlahlo sê by navraag oor beweringe dat daar druk uit senior ANC-geledere van buite die metro was dat Mangaung R40 miljoen se voertuie by ’n bekende motorhandelaarsgroep moes aankoop, dat hy sou geweet het as daar so ’n transaksie was.

Mlamleli sê by navraag hieroor “niemand druk my in ’n hoek (om so ’n aankoop te doen) nie”.

Mohlahlo sê daar was wel ’n transaksie waar voertuie aangeskaf is: ses motors vir die verkeersdepartement, en bakkies en diensleweringsvoertuie vir van die ander departemente.

Die voertuie is deur die normale aanskaffingsprosesse van die munisipaliteit bekom met Standard Bank as finansier.

“Die voertuie word in werklikheid nie gekoop nie, maar gehuur. Die metro het ’n leningsgerief van R200 miljoen hiervoor by Standard Bank, maar ons gebruik nie die hele bedrag nie omdat die metro dit nie kan bekostig nie.”

Qondile Khedama, woordvoerder van die metro, sê “vir die munisipaliteit om dienste te verskaf is ’n betroubare vloot nodig. Ons vloot is verouderd.”

Khedama het bevestig dat ’n middelman, Motebe Wheels, waarvan Katlego Motebe die uitvoerende hoof is, al die vloot-items vir die metro aanskaf nadat hy die alleen-tender hiervoor bekom het.

Khedama sê as Mohlahlo bedank het, sal iemand anders in sy plek aangestel moet word, maar dit is voortydig om nou hieroor kommentaar te lewer.

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Finansiële Hoof  |  Finansies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.