Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mangaung: ‘Ondersoek burgemeester se begroting’

Die begroting van die burgemeester van die Mangaung-metro se kantoor is nou ’n enorme R267 miljoen en dit behoort ondersoek te word.

Hans Britz, DA-raadslid, wat op Mangaung se begrotingsvergadering in Bloemfontein gepraat het, het daarop gewys dat die begroting van Olly Mlamleli se kantoor nou ook R74 miljoen meer as die begroting van die departement van finansies van Mangaung is.

Olly Mlamleli, burgemeester van die Mangaung-metro.

Dié departement moet die geldsake van die stad bestuur en die aankope van die metro behartig.

Mlamleli het self teenoor Netwerk24 bevestig dat meer as 120 direkte politieke aanstellings van die ANC hul salaris uit haar kantoor se begroting ontvang. Politieke aanstellings werk in die kantoor van die burgemeester, onderburgemeester, die kantoor van die speaker en dié van die hoofsweep.

’n Seun van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC en oudpremier van die Vrystaat, werk ook as ’n politieke aanstelling in haar kantoor.

Mlamleli sê dié politieke aanstellings het ook klerke en assistente.

Daar is ook ’n kantoor vir openbare deelname wat uit haar begroting befonds word, asook die lede van die burgemeesterskomitee.

Mlamleli sê sy sal gaan kyk, maar kan nie uit haar kop sê waarvoor haar begroting alles gebruik word nie. Skenkings word ook van tyd tot tyd gedoen.

Britz het ook op die raadsvergadering gesê dit is algemeen bekend dat die land se inflasiekoers in April vanjaar tot 4,4% gedaal het. Hy het daarop gewys dat die munisipale tariewe van die metro met heelwat meer as die inflasiekoers styg en dat die publiek ook moet betaal vir uitgawes wat nie direk met dienslewering verband hou nie.

Die vraag is, as die uitvoering van die kapitaalbegroting so sleg was in die vorige jaar, hoekom sal dit hierdie jaar beter wees?

Hy sê die tariewe is onaanvaarbaar hoog en dit gaan net verder aanleiding gee tot die styging in uitstaande skuld van inwoners aan die metro wat reeds oor die R5 miljard beloop.

“Baie inwoners hou geld terug oor die swak dienste wat die metro lewer en die onbekostigbaarheid van die tariewe.”

Britz sê die skuld aan die metro het in die eerste nege maande van die huidige boekjaar met gemiddeld R91 miljoen per maand toegeneem.

Hans Britz, DA-raadslid.

“ ’n Ander gevolg van die buitensporige tariewe is dat die onwettige aansluitings van water en elektrisiteit vermeerder.”

Britz sê “daar is baie vet” in die begroting wat heel gemaklik verminder kan word. Dit is daarom ook nodig om na die salarisrekening van die metro te kyk.

Hy sê die salaris van die metro se werknemers staan nou op 30,3% van die totale uitgawes. Hierby moet in ag geneem word dat gekontrakteerde dienste 11,09% van die totale uitgawe beloop.

Britz sê die kapitaalbegroting vir die jaar is R1,26 miljard en dat die metro in sy vorige boekjaar net 57% van dié begroting bestee het.

“Die vraag is, as die uitvoering van die kapitaalbegroting so sleg was in die vorige jaar, hoekom sal dit hierdie jaar beter wees?”

Volgens Britz dra die oorsigrol van die nasionale tesourie en die ouditeur-generaal (OG) ook by tot die swak finansiële toestand van die munisipaliteit omdat hulle onder meer die voorlegging van onvolledige dokumente as aanvaarbaar beskou.

Hy meen die nasionale tesourie en die OG kan die geldelike verknorsing van die metro stopsit as hulle hul werk behoorlik doen.

“Die groot probleem is dat die ANC nie na die DA en ander opposisiepartye luister nie.”

Britz sê in die begroting word erken dat die stad nie ’n langtermyn- finansiële strategie het nie, en dat die onbeheerde uitgawes vir oortyd ook nie gaan verdwyn nie.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Olly Mlamleli  |  Bloemfontein  |  Mangaung  |  Begroting  |  Burgemeester
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.