Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mangaung ontken onwettige bouwerk word ‘deurgedruk’

Bewerings word ontken dat die Mangaung-metro wil meehelp om stil-stil te verseker dat onwettige bouwerk by die ou verpleegsterstehuis van die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks in Bloemfontein die groen lig kry.

Die maatskappy Sedtrade, waarvan Zaid Docrat die uitvoerende hoof is, is die ontwikkelaar van die projek van meer as R50 miljoen. Die maatskappy het veral onder premier Ace Magashule se bewind baie tenders en kontrakte in die Vrystaat opgeraap en doen dit steeds.

Die kennisgewing van die Mangaung-metro wat lui dat beswaarmakers teen die bouwerk aan ’n studente-koshuis tot 25 Februarie kans het om beswaar te maak teen die onderverdeling- en hersoneringsprosesse. Foto: Mlungisi Louw

Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die Mangaung-metro, ontken enige abnormale optrede van die metro se kant om bouwerk te laat plaasvind.

Op ’n bord wat die metro nou by dié omstrede ontwikkeling aangebring het, word gesê inwoners het nog tot 25 Februarie kans om beswaar teen die hersonering en onderverdeling van erf 1921 aan te teken.

Dit is voordat die grond hersoneer word van “enkel-behuisingsgebruik 1” na “spesiale behuisingsgebruik” om die oprig van studente-koshuise moontlik te maak.

Bykomende vleuels, wat “onwettig” by die verpleegsterstehuis aangebou is, staan egter al dakhoogte, terwyl die erf nog nie onderverdeel is nie. Die Sedtrade-maatskappy het in die verlede sonder goedgekeurde bouplanne gebou.

Omdat die gebou ouer as 60 jaar oud is, word dit boonop deur erfeniswetgewing beskerm en ’n permit is nodig om dit te verander.

Beswaarmakers beweer die metro wil nou help om die studente-koshuis op die perseel “deur te druk”.

“Ons het gehoor amptenare van die metro het gesê as sekere wysigings in die aansoek en bouplanne aangebring kan word, is daar niks wat kan maak dat die projek afgekeur word nie.”

Aanbouings aan die ou verpleegsterstehuis op die terrein van die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks in Bloemfontein is glo gedoen sonder dat die nodige onderverdeling gedoen, bouplanne goedgekeur en die grond hiervoor hersoneer is.Foto: Mlungisi Louw

Khedama sê egter die beplanningsafdeling se versoek dat besware teen die projek voor 25 Februarie ingedien moet word, is deel van die normale prosesse wat by onderverdeling en hersonering gevolg moet word.

“Dit wil nie sê die metro is ten gunste van die projek nie. Mense naaste aan die projek, wat dalk besware hierteen het, word nou die geleentheid gebied om dit skriftelik in te dien.”

Die metro volg nou dié prosesse al het Netwerk24 al ’n paar keer geskryf oor beswaarmakers wat sterk daaroor voel dat ’n studente-koshuis nie tussen die sale, waar 800 geestelik gestremdes versorg word, gebou kan word nie.

Dr. David Motau, hoof van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, het vroeër aan Netwerk24 gesê daar sal ’n duidelike skeidingsmuur tussen die studente-koshuis en die sale van pasiënte kom.

Sedtrade se personeel op die perseel het Maandag gesê daar word nou niks op die terrein gebou nie.

“Die studente-koshuis is eers stopgesit totdat die nodige goedkeuring verkry is.”

Jacqueline Seboko, uitvoerende hoof van die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks, sê sy weet niks van al die ontwikkelings af nie. Dit is die departement van openbare werke wat dele van die terrein verkoop.

Bouwerk aan ’n studente-koshuis op die terrein van die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks in Bloemfontein staan al van verlede jaar af botstil nadat Netwerk24 daaroor berig het. Foto: Mlungisi Louw

“Ek het niks hiermee te doen nie.”

Sy sê sy weet nie in dié stadium waarvoor die ou verpleegsterstehuis verbou en vergroot word nie.

Maar as dit ’n studente-koshuis is, sal die veiligheid van pasiënte ’n risiko raak.

Docrat het vroeër aan Netwerk24 gesê hy verstaan nie waarom vrae oor die projek relevant en in openbare belang is nie.

Hy het Netwerk24 van ’n “heksejag” beskuldig en wou nie verlede jaar erken dat bouwerk aan die studente-koshuis eers gestaak is totdat die nodige goedkeuring gegee is nie.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Mangaung  |  Bouwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.