Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mangaung se skuld ‘gaan net op en die metro net af’

Geld wat aan die Mangaung-metro geskuld word en reeds op R6,5 miljard staan, het die afgelope jaar met gemiddeld R135 miljoen per maand toegeneem.

Hans Britz, DA-raadslid. Foto: Facebook

“Die skuld gaan jaarliks op, op, op, terwyl die munisipaliteit af, af, af gaan,” het Hans Britz, DA-raadslid van die metro en voormalige finansiële hoof van etlike jare, gesê op die jongste spesiale raadsvergadering verlede Donderdag toe die aansuiweringsbegroting hanteer is.

Britz het beswaar gemaak omdat die hersienings- en beoordelingsdokumente van die nasionale tesourie nie aangeheg was soos deur die wet voorskryf word nie.

Hy het aan die raad gesê dat die DA sy eie kopie van die nasionale tesourie sal versoek as dit nie aan die aansuiweringsbegroting geheg word nie.

Britz het gesê op 31 Oktober van die afgelope vier jaar het die skuld aan die metro as volg gegroei; teen 2016 was dit R3,9 miljard, teen 2017 was dit R4 miljard, teen 2018 was dit R4,8 miljard en teen 2019 was dit R6,5 miljard.

“Die skuld het die afgelope jaar met gemiddeld R135 miljoen per maand toegeneem.”

Meer kommerwekkend is die skuld van ouer as 90 dae en hoe dit in die afgelope vier jaar gegroei het. Teen die einde van Oktober 2016 was dit R2 miljard, teen 2017 was dit R2,2 miljard, teen 2018 was dit R2,9 miljard en teen 2019 was dit R3,6 miljard.

Britz het gesê die inwoners kry nie goeie diens van die metro nie en dit is waarom betalings weerhou word. “Dit sal binnekort tot die ondergang van die metro lei.”

Hy het gesê dit is net die twee skuldinvorderingsagente, een van Mangaung en een van Gauteng, wat voordeel uit dié swak omstandighede trek. “Vir hulle is dit ’n baie gerieflike melkkoei.”

Uitstaande regeringskuld is ook, ondanks al die beloftes, ’n groeiende probleem. Die toename in die regeringskuld is as volg: In 2016 was dit R467 miljoen, 2017 was dit R648 miljoen, 2018 was dit R876 miljoen, en in 2019 R1,3 miljard.

Britz het aan die speaker, Mxolisi Siyonzana (ANC), gevra of hy dié prentjie kan raaksien.

Hy het verder gesê die kostebesparingsmaatreëls waarna in die finansiële state verwys word, is ook ’n “riller”.

“Julle hou daarvan om na die woord kostebesparingsmaatreëls te verwys, maar slaag nie daarin om te verwys na die maatreëls wat geïmplementeer is nie. Waarom steek julle die kostebesparingsmaatreëls weg? Is dit omdat julle geensins van plan is om dit te implementeer nie?”

Baba Sebolao, EFF-raadslid. Foto: Netwerk24

Britz het ná die vergadering gesê die voorsiening vir oninbare skuld het met R426 miljoen tot by die R817 miljoen gestyg.

Dit dui op die verswakkende stand van die uitstaande skuld.

Baba Sebolao, EFF-raadslid, het gesê as raadslede nog nie agtergekom het dat die metro besig is om in duie te stort of reeds in duie gestort het nie, dan sal “ons nooit die nuwe daeraad sien waaroor almal praat nie”.

Hy het gesê dit sal altyd ’n valsheid wees “en ons kinders sal vir altyd te skaam wees om met ons geassosieer te word”.

Om vir Sabatha Mofokeng, die nuwe finansiële hoof, net ’n blanko tjek te gee om meer voorsiening vir die afskrywing van slegte skuld te maak sonder enige verduideliking oor hoekom dit nodig is, beklemtoon maar net die vermoede dat die begroting wat aan die begin van die jaar aan die raad voorgelê is, verkeerd en onrealisties was, het Sebolao verder gesê.

As daar gesny moet word aan die begroting, soos wat die voorstel is, beteken dit dat vir die gemeenskappe gesê moet word dat daar nie meer die R11,284 miljoen beskikbaar gaan wees om vragmotors en pompe te herstel en om verstopte dreine skoon te maak nie, sê hy.

* Die ANC het sy meerderheidstem gebruik om die aansuiweringsbegroting goed te keur, terwyl die opposisiepartye daarteen gestem het.

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Hans Britz  |  Baba Sebolao  |  Mangaung
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.