Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mangaung: Vrae oor burgemeester se kospakkies

Wat het van Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, se kospakkies geword?

Dit is wat DA-wyksraadslede van die metro wil weet nadat Mlamleli glo opdrag gegee het dat hulle elkeen 100 behoeftiges in hul wyke moet identifiseer wat weens die inperking vir kospakkies in aanmerking moet kom.

Dit moet mense wees wat nie reeds regeringshulp van dienssentrums, instansies soos die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) en sentrums vir gemeenskapsvoedingsontwikkeling kry nie, het Mlamleli glo aan die speaker, Mxolisi Siyonzana, in ’n brief gesê.

David Masoeu, voorsitter van die DA-koukus in die Mangaung-metro. Foto: Argiewe

Volgens die DA-raadslid David Masoeu het wyksraadslede op 18 Mei die dringende versoek van die burgemeester via die kantoor van die speaker ontvang. Die lyste moes teen 20 Mei ingedien word.

Masoeu sê die DA het meer inligting gevra omdat die burgemeester se versoek glo vaag was.

“DA-raadslede moenie slegs die gemeenskap van diens wees nie, maar moet ook die persoonlike inligting van inwoners in hul wyke beskerm ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi).”

Masoeu sê hy het as voorsitter van die DA in die Mangaung-koukus aan adv. Tankiso Mea, munisipale bestuurder, geskryf om meer klarigheid te kry oor die versoek vir die naamlyste.

Die stadsbestuurder het geantwoord dat alle kospakkies van die premier se kantoor af kom en dat wyksraadslede gevra word om naamlyste te verskaf sodat die kospakkies in ooreenstemming met dié lyste uitgedeel kan word.

Masoeu sê Mlamleli het op 21 Mei gereageer en hom ingelig dat hulle ’n omsendskrywe opstel wat alle vrae en bekommernisse uit die weg sal ruim.

“Sy het ook genoem dat daar ’n kommunikasieprobleem tussen haar kantoor en dié van die speaker is en dat ’n omsendskrywe in die betrokke week uitgestuur sou word met duidelike riglyne oor die kospakkies.”

Masoeu sê die probleem is nou dat nie ’n enkele DA-wyksraadslid ’n kospakkie ontvang het in ooreenstemming met die naamlyste wat hulle ingedien het nie.

“Daar is geen duidelike en formele inligting verskaf oor waarheen die kospakkies is nie.”

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, het ook sy kommer hieroor uitgespreek omdat dit aan die lig gekom het dat kospakkies by die premier se huis afgelewer is.

Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro. Foto: Argiewe

Masoeu sê met dié dat al hoe meer mense hul werk verloor en nie meer in staat is om kos te koop nie, is die vraag aan die speaker: “Wat het van die beloofde kospakkies geword?”

Masoeu sê Covid-19 het die grootste krisis in die demokratiese Suid-Afrika geword en die DA sal diegene verantwoordelik hou wat kospakkies van weerloses teruggehou het.

Mlamleli sê in reaksie hierop dit is onwaar dat sy beloof het om vir elke wyksraadslid in die metro 100 kospakkies vir behoeftiges te gee en dat die wyksraadslede nie elkeen ’n lys van 100 name moes verskaf nie.

“My boodskap was dat ’n databasis opgestel moet word met name en adresse uit die wyke sodat wanneer die metro ’n klere- en kosbank opgerig het, hulle hieruit bygestaan kan word. Die kosbank se bedrywighede sal deursigtig wees en daarom wag ek dat ek gehelp word om dit op te rig.”

Mlamleli sê mense moet haar oorspronklike boodskap aan Siyonzana lees om misverstande uit die weg te ruim.

“Ek het reeds die DA se vrae hieroor beantwoord en ek dink ek moet my oorspronklike boodskap aan die speaker in die media laat publiseer sodat mense weet wat die waarheid is.”

Sy beskuldig die DA dat hy politieke munt uit die situasie wil slaan.

Meer oor:  Olly Mlamleli  |  Mangaung  |  Inperking  |  Kospakkies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.