Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mangaung: Vrae oor luukse Audi van ANC-hoofsweep

Die bankrot Mangaung-metro skuld glo miljoene vir 115 motors wat hy van die Vrystaatse staatsgarage in Bloemfontein huur, terwyl ’n gehuurde luukse silwergrys Audi Q7 waarin Zolile Mangcotywa, ANC-hoofsweep, meer as ses maande lank gesien is, skielik verdwyn het.

Zolile Mangcotywa, die ANC se hoofsweep in Mangaung.

Dr. Elizabeth Snyman van Deventer, VF+-raadslid van die metro, het vandeesweek reël 38-vrae aan Olly Mlamleli, burgemeester, adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder, en Mxolisi Siyonzana, speaker, almal van die ANC, oor die Audi Q7 gerig.

Dit kom nadat sommige gegriefde ANC-raadslede glo by haar gekla het oor die luukse motor wat na bewering vir Mangcotywa by die staatsgarage gehuur is, terwyl hy na bewering ook ’n brandstofkaart van die Vrystaatse regering hiervoor gekry het.

Sy pos maak nie hiervoor voorsiening nie.

Dévar Smit, VF Plus-wetgewerlid, het die Audi Q7 by die staatsgarage gaan soek, maar dit nie gekry nie.

Maar ’n betroubare bron by die staatsgarage het aan Smit gesê die metro skuld miljoene rande vir 115 motors en werktuie wat van die staatsgarage gehuur is en waarvoor die metro nie betaal nie.

Smit sê daar is aan hom gesê dit sal vir die staatsgarage goedkoper wees om die 115 voertuie na die metro oor te dra sodat die metro dit kan koop en die voertuie self kan onderhou, as om nie huurgeld hiervoor te kry nie en dit steeds te moet onderhou.

Sam Mashinini, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, onder wie die staatsgarage val, het by navraag gesê hy is uitstedig en kan nie uit die vuis sê hoeveel huurgeld die metro vir die staatsvoertuie skuld nie.

Mea het nie sy telefone beantwoord toe hy oor die Audi Q7 en die beweerde skuld vir die voertuie gebel is nie.

Toe Netwerk24 Mangcotywa self oor die silwergrys Audi Q7 uitvra, het hy laggend ontken dat hy met so ’n voertuig ry en gesê hy ry in sy eie silwer Mercedes. “Dit is my eie private motor.”

Ek kan die saak eers ondersoek as ek terug in Bloemfontein is.

Op ’n vraag of hy ’n brandstof-kaart gekry het, het hy gesê hy kan nie met ’n regeringskaart brandstof in sy eie motor gooi nie. “Ek betaal my eie brandstof.”

Maar sy kollegas hou vol dat hulle hom dikwels in die Audi Q7 gesien ry het wat op die burgemeester se parkeerplek onder die Bram Fischer-gebou gestaan het.

Mlamleli het by navraag gesê sy is nie in Bloemfontein nie en weet nie van die vrae oor die Audi Q7 wat aan haar kantoor gerig is nie.

“Ek kan die saak eers ondersoek as ek terug in Bloemfontein is.”

Toe die speaker, Siyonzana, oor die Audi gevra is, het hy gesê “ek wil nie hierop kommentaar lewer nie”.

Hy het gesê die verskillende departemente in die metro is verantwoordelik vir hul eie personeel se sake.

Na wat verneem word, doen die hoofsweep aan Mlamleli verslag.

Snyman van Deventer het gesê sy het die Audi Q7 Dinsdag in die Bram Fischer-gebou se parkeergarage gaan soek, maar kon dit ook nie daar kry nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.